In die onlangse media is berig dat Johann Rupert sowat R55 miljoen aan liefdadigheid geskenk het. Van daardie skenkings is, na die beste van ons wete, geen enkele sent gegee vir een of ander Boere-Afrikaner organisasie nie. Nie eers vir ’n organisasie wat liefdadigheidswerk onder volksgenote verrig nie.
In teenstelling is daar ’n Taiwanese groente verkoper, wat anders as dr. Johann Rupert, kwalik ’n standerd ses skoolsertifikaat kan toon, maar tog sowat R2 miljoen geskenk het aan haar eie volk se mense wat finansieel swaar kry.
Dan is daar Kelly Osbourne, van Fashion Police, wat besluit het om haar klerekas letterlik leeg te maak en dit nie soos voorheen, aan haar aanhangers te skenk nie, maar wel aan die armoediges wat dit veel eerder nodig het.
Minder indrukwekkend is miskien die daad van Angelina Jolie wat sowat R821 490 aan Siriese vlugtelinge geskenk. Wat wel indrukwekkend is, is dat die skenking gemaak is aan vlugtelinge.
Dit bring ons by ’n saak wat elke Boere-Afrikaner na aan die hart lê. Wat van ons eie sukkelende verarmdes wat in die ellende verval het weens die arbeidsbeleid van die kommunisties gesinde regime van die land.
Meer nog: Wat kan gedoen word om ons volk se kinders wat nie behoorlike skoolopvoeding kry nie? Alhoewel daar menige ouer is wat die doopbelofte met onverskillige optrede ignoreer, is daar ook diegene wat die belofte wil nakom. As geld en lewensmiddele jou laat sukkel om die belofte behoorlik na te kom, dan behoort die volk hul steun te gee.
Of anders gestel: Dan behoort die heel rykes uit die volk hul hand baie diep in die sak te steek om daardie sukkelaars te help. Daardie hulp moet kom op twee fronte. Geld om oor die eerste brug te gaan, en tweedens, infrastruktuur waar werksgeleenthede beskikbaar is sodat ’n volhoubare en aanvaarbare lewe geleef kan word.
Die Volksekonomie word stadig maar seker gevestig onder ons mense. Daar is Oranjekas, Oranje Sakekamers, Oranje Sake Instituut, Volkshulp strukture, CVO-skole en nog enkele ander organisasies.
Wanneer kom ons by daardie punt waar die rykes uit ons volk hul miljoene Rand sal skenk aan diegene wat dit so bitter nodig het?
Of nog beter: Wanneer kom ons volk by daardie dag wanneer ons weer oor ons eie mense regeer, waar maatskaplike dienste die opheffing sal doen, waar elke volksgenoot die geleentheid sal kry om te werk volgens die voorskrifte uit die Woord?
Dit is die opheffing wat gedoen moet word – opheffing om saam met elke Bravolander die vryheidspad te bewandel, van nou tot aan die einde van hierdie aardse lewe…….
