Namate dinge verander, verander dit nie altyd ten goede nie maar, dit is ook so dat daar soms veranderings kom wat ’n mens laat uitroep “hoera” vir die verandering.
Die ou mense wil jou oortuig van hoe goed voorste tyd se motors was – en dan wil hulle jou wysmaak dat die hedendaagse voertuie sommer ’n stuk blik is. Met die stuk blik ry jy darem gerieflik sonder om die masjien te vervang of te herstel vir 250,000 km. En voorste tyd s’n? Kwalik 100,000 gehaal. By hoë uitsondering 160,000 km!
Maar dinge bly verander – die eens magtige NP het gedood, en die HNP wat almal gedink het gaan dood gaan, die bly nog steeds staande – blakend gesond!
Dan is daar die ou Mynwerkers Unie – so wit soos sneeu. Nuwe naam gekry, en toe sommer ’n nuwe jas aangetrek. Nou lyk die spul soos ’n trop bont Frieskoeie!
Kyk maar na die sangers op die kassie – en Afrikaanse kunstenaars staan nie agter in die tou nie! Daar is van hulle wat mos staan en rond trippel en dan skree hulle asof daar iewers ’n moord begaan word, en tog word dit sang genoem en die jonges gooi hande in die lug en spring op en af asof hulle die geskree verstaan….
Dan is daar diegene wat sing. Hulle beweeg rond en is duidelik afgerig of sommer van nature die ware jakob - die lawaai ontbreek en jy is spyt as die lied klaar is….
Dan is daar die wat allerhande geluide maak, en dit word gedoen in drie eeue terug se kleredrag aangetrek en jy verstaan niks nie maar die mense klap hande en niemand weet of dit vir die sanger is of vir die reuse orkes wat foutloos vertolk het wat eeue gelede gekomponeer is.
En elkeen van die klompe het hulle aanhangers. Nee, elkeen van hierdie sangers het sy teenstanders. Dit is soos met musiek in die algemeen. Die een klomp hou van boeremusiek, die ander verwyt en se dit klink alles eenders. Dié liefhebbers sê dat Beethoven net ’n geraas gemaak het soos die hedendaagse sangers net ’n geraas maak.
Nou wat is dan luisterbaar as almal oor alle soorte sang en musiek wil kla?
Nugter alleen weet! Miskien moet ons weer voor begin. Is sang en musiek soos oom Chris gesing het van sy ryperd en brakkie - is dit die musiek vir die toekoms of moet ons volstaan met die geraas waarvan geen woord hoorbaar is nie?
Of volstaan ons met Bach en Beethoven as tant Miem op ’n hoë noot sing en beduie….
Nee, dit wil lyk asof die musiek so saamgestel word dat elkeen wat van ’n geraas hou iets het waarna geluister kan word. Die ander luister na die snitte wat sag en vrolik klink op die oor….
Maar musiek is musiek – of dit nou harde metaal is en of dit wol-sag is, luister word daar geluister.
Of sang nou deurspek is met woorde soos “sjokolade” of “babatjies”, die wat weet sê dit bly skynbaar goeie Afrikaanse musiek!
Dit sal maar sukkel om alles te glo wat die beterweters vir ons wil vertel…….
