’n Brief in die volkskoerant, Die Vryburger, het talle mense ontstel en ander weer laat glimlag.
Die briefskrywer raak kortliks aan die onderwerp wat die GHA se siening is oor volksleiers, soos uiteengesit in hulle nuwe dagboek wat te koop aangebied word. .
In die dagboek is daar ’n klompie mense wat werklik nie voldoen aan die omskrywing vir leiersfigure nie. Van wanneer is ’n ekonoom wat nêrens anders op die volksakker gesien of gehoor word, ’n volksleier? Is iemand wat ’n boek geskryf het, of dalk tien geskryf het, vanweë sy skryfkuns ’n volksleier?
As dit iemand is wat ten nouste betrokke is by die volk se werksaamhede en sy stryd om die volk tot vryheid te lei, dan het so ’n persoon reeds ’n paar punte versamel. Dit maak nog nie van die persoon ’n volksleier nie!
Wat dan van iemand wat in die kamp van die liberaliste is – is dit ’n volksleier?
Iemand lewer toe kommentaar op Bravoland se forum en spreek hom duidelik uit dat mense soos Flip Buys, Willie Spies, Gert Opperman, Marinus Wiechers, Marianne Roos, Kallie Kriel of Jaco Kleynhans bepaald nie sy volksleiers is nie!
Dit is heelwaarskynlik die algemene siening en standpunt van Bravolanders. Dit is waarskynlik ook die mening van die deursnit Boere-Afrikaners!
Dit laat die vraag ontstaan: Wat sou die GHA daartoe beweeg het om sy dagboek in te klee met mense waarvan ’n deel sterk behoudende volksgenote is en ander is links-liberaal, maar hulle is volksleiers – of hulle iewers betrokke is in die volk se stryd al dan nie!
Dit kon tog nie wees omdat hulle die aantyging wou besweer “dat die Afrikaners nie oor volksleiers beskik nie?”
Daar moet ’n ander rede ook wees – maar wat dit is, kan hoogstens geraai word.
Miskien is dit ’n gawe manier om die dagboek verkoop te kry?
’n Mens wil onwillekeurig met die briefskrywer in Die Vryburger saamstem:
Die GHA het sy naam krater gemaak.
Iemand beduie toe en sê dit is seker die GHA se 2013 Aprilgrap. Iemand anders sê dit is ’n klap in die gesig van die volk. ’n Derde reken dit is vernederend en ’n vierde verwys daarna en sê dit mag die GHA se leiers wees, maar beslis nie syne nie.
Wat maak van iemand ’n volksleier? Sekerlik iemand wat alom bekend geword het weens sy betrokkenheid by die volk se sake, sy gedrag en handelinge in die openbaar, sy ondersteuningsbasis uit die volk en sy geloofsoortuiging. Dit is maar enkele faktore uit ’n lang lys van faktore wat van belang is.
Dit is jammer dat so ’n blaps gemaak is deur ’n kultuurorganisasie wat werklik van beter moet weet! Ons hoop die Boere-Afrikaners glimlag maar net oor die blaps.
