‘Magic’ in ’n boks vir Zim se gryses
2012-01-11 22:13
http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Magic-in-n-boks-vir-Zim-se-gryses-20120111Inwoners van die Boggy’s Trust-ouetehuis in Gweru, Zimbabwe laai kosbokse van die Zimbabwe-pensioen-ondersteuningsfonds van die vragmotor af.
Duisende pensioentrekkers in Zimbabwe kan nie eens ’n brood bekostig nie. Hilda Fouriehet dié land saam met “God se lorriedrywer” besoek wat verligting vir ’n paar honderd pensioentrekkers bring.
‘God se lorriedrywer” is mnr. Hannes Botha van die Zimbabwe-pensioen-ondersteuningsfonds (ZPO).
Hy besoek Zimbabwe elke twee maande om sowat 1 600 pensioentrekkers in sowat 28 ouetehuise in die land ’n boks kos te gee.
Een van die pensioentrekkers, mev. Mavis D’Hotman, sê toe die nulle van die Zimbabwe-dollar weggeneem is, het die meeste pensioentrekkers byna niks oorgehad nie.
“Hannes het ons met sy bokse kos gedra deur ’n tyd toe ons niks gehad het nie. Hy het vir ons magic gebring.
“Ons dank die Heer elke dag vir hom, want baie van ons kry ’n klein inkomste waarmee jy nie regtig iets kan koop nie.”
D’Hotman (82) woon in die Boggy’s Trust-ouetehuis in Gweru.
Botha het in 2002 vir die eerste keer die lang pad van Malalane in Mpumalanga na Bulawayo gevat met ’n klein motor vol kruideniersware.
Dít was nadat hy met ’n eks-meisie van hom oor die telefoon gepraat het en dié se ma op die agtergrond geskree het: “Sê vir Hannes ons lewe van aartappels.”
Sedertdien het hy uit sy werk by ’n suikerfabriek bedank en dit sy missie gemaak om vir die bejaardes in Zimbabwe kos te vat.
Elke twee maande laai ZPO twee vragmotors met bokse gevul met onder meer suiker, koffie, tee, blikkieskos, lekkers, toiletware, pasta, rys, konfyt, sout, kerse, kookolie, hawermout, mieliemeel en koekmeel.
Botha, wat een van die vragmotors bestuur, en nog ’n bestuurder ry van ouetehuis na ouetehuis om die bokse af te laai.
Dié ouetehuise is in Bulawayo, Gweru, Kwekwe, Chinhoyi, Shirugwi, Harare, Mutari en Masvingo.
Die meeste van die bokse word persoonlik aan die ontvangers oorhandig.
Byna almal wil eers ’n geselsie aanknoop en hoor hoe dit in Suid-Afrika gaan of van hul kinders vertel.
“Toe ek die eerste keer vir 36 ou mense elkeen ’n boks kos vat, was daar snot en trane,” sê Botha.
“Ek het in hul oë gekyk en hul dankbaarheid gesien. Dié is mense wat van ons afhanklik geword het. Ek sal nooit kan ophou om vir hulle kos te neem nie.”
Beeld het op Botha se mees onlangse besoek aan Zimbabwe gesien hoe trane van dankbaarheid oor mense se wange rol wanneer hulle ’n boks kos kry. Wanneer hulle die boks uitpak, raak hulle kinderlik opgewonde, veral oor sjokolade.
Dinge het vir die meeste pensioentrekkers in Zimbabwe skeefgeloop weens weghol-inflasie en toe die regering die nulle weggeneem het.
Van beleggings het hulle binne ’n dag niks meer oorgehad nie.
Mev. Joyce “Goose” Boshoff (82) het geleef van haar oorlede man se spoorwegpensioen. Sy het een dag $3 miljard in die bank gehad. Toe die nulle weggeneem is, het sy die volgende dag $3 oorgehad.
Boshoff, wat in ’n eenvertrek-woonstel in die Coronation-ouetehuis in Bulawayo bly, kry $12,50 per maand (sowat R100).
Amerikaanse dollar en Suid-Afrikaanse rand word deesdae in Zimbabwe gebruik.
Sommige maande kry Boshoff R600 van haar seun wat in Suid-Afrika bly, maar as sy geld opraak, kry sy ook niks.
Volgens Boshoff is baie van die pensioentrekkers afhanklik van hul kinders wat oor die wêreld heen bly, maar “mens wil hulle ook nie altyd pla nie, want hulle het hul eie lewens om te lei”.
Dan is daar dié wat nie kind of kraai het nie. “Die meeste van ons het byna niks geld nie,” sê Boshoff.
“En wat kan jy met $12,50 koop?
“Ek koop maar poeiermelk en soms suiker. ’n Brood kos $8 (sowat R65). Die Chinese verkoop ’n soort broodjie waarvoor jy $1 (sowat R8) vir twee betaal. Ek vra die dominee om vir my twee van hulle te bring wanneer hy dorp toe gaan.
“Ons het baie om voor dankbaar te wees. Ons het ’n dak oor ons koppe en water.
“Ek is afhanklik van die boks wat ek by Hannes kry. Ek weet nie wat ek daarsonder sou doen nie.”
D’Hotman sê ná alles wat in Zimbabwe gebeur het, het die pensioentrekkers geleer om hul lot te aanvaar en dankbaar te wees oor wat hulle het.
Sy weet sy kan nie in ’n winkel instap en ’n blokkie kaas en spek koop nie, want met die $61 (sowat R500) wat sy maandeliks kry, moet sy haar huur betaal.
“Die boks het net die basiese in, maar jy kan oorleef met net die basiese. ’n Mens kan ’n lekker dis voorsit met net die basiese bestanddele.
“Ons dank die Here vir dit wat ons het en is dankbaar vir enigiets wat ons kry. Die Here kyk na ons. En ons het vir Hannes.”