Huldeblyk by die begrafnis van HS van Blerk, 31 Desember 2010
Toe die welkome dood verloklik oor my ruis,
Sy vale vlerke teen my wang ’n wind verwek,
Wat maatloos teer en kosbaar koel en sag,
Al wat nog pyn in my was, met vergetelheid bedek,
Het ek so ver geleef van al die leed
Wat hier, op die planeet gebore, hier moet sterf.
So het ’n Jong Hendrik van Blerk op 21 Julie 1942 al afskeid van die lewe geneem toe hy in die dodesel in Pretoria gewag het dat ’n verraaier-Afrikaner-premier die bevel gee om hom te vermoor, soos hy dit etlike jare tevore ook gedoen het met Jopie Fourie.
God het egter anders beslis, en Hy spaar die jong patriot en gee hom vir 95 jaar aan die Boerevolk, om die volk te verryk met sy leesstof, te dien met sy onbaatsugtige volksdiens en trou, en te lei om in baie gevalle die gewete van hierdie volk, wat so maklik afvallig raak, te wees.
Vandag staan ons by die graf, hartseer, maar nie treurend sonder hoop nie. Vandag staan ons by ’n oorwinnaar se graf: ’n man wat sy hele lewe lank God se hand geneem het, en sy aan sy met sy Skepper geloop het, oor wie ons nie hoef te wonder waar hy heen is nie – ons weet hy is na die Vaderhuis. Daarom is dit ’n oorwinnaarsgeleentheid, waar ons met dankbaarheid mag terugkyk na dié man wat bestem was om deur ’n jan Smuts vermoor te word, maar wat deur God se genade daardie man oorleef het. Nie net liggaamlik nie, maar veral in die gees en nalatenskap sal die naam van Hendrik van Blerk veel langer helderder en met respek bly leef as sy vyande wat hom jonk uit die pad wou hê.
Want sy enigste sonde was dat hy sy volk en sy God liefgehad het. Die daad wat hom in die dodesel laat beland het, was nie vir eie gewin nie: nie vir ’n wapenkontrak, ’n gekookte tender of omkopery nie: dit was omdat hy sy volk en sy volk se vriende gedien het – selfveragtend en bereid om welke prys ook al daarvoor te betaal.
Toe Hendrik van Blerk die genade kry om sy lewe te hou, het hy hierdie wyse van optrede sy lewenswyse gemaak. In alles wat hy aangepak het, was die eie ek nie ter sprake of ter sake nie. Dit het gegaan oor die beginsel, en daardie beginsel moes in lyn wees met God se riglyne en sy volk se behoeftes. Ter wille van die beginsel was Oom Hendrik bereid om selfs vriendskappe te verloor, maar hy het verkies om eerder in guns by God en sy volk te staan. Menseverering het hy verafsku, ongeag of dit verering vir homself of enigiemand anders was.
So het ek Oom Hendrik leer ken en leer waardeer. Vir my was die klompie jare wat ek Oom Hendrik leer ken het as mens, en nie net as die skrywer HS van Blerk wie se boeke ek geniet het, kosbaar. Ek sal hom onthou as die man wat op politieke vergaderings opgestaan het en sy sê ondubbelsinnig gesê het; ek sal hom onthou waar hy reeds op hoë ouderdom lid van die Verkennersbeweging geword het, en ek sal die byna uitdagende “ja” van hom nooit vergeet toe hy gevra is of hy die Verkennersbelofte sal nakom en onderskryf. Die aand wat ons saam ’n funksie van die Verkenners in Utrecht bygewoon het en by dieselfde gasheer geslaap het, se heerlike gesprek met Oom Hendrik en Tannie Nel is deel van ’n soete herinnering. Maar ook sal ek geleenthede onthou soos soms op die Majuba Trust, waar ons soms hewig van mekaar verskil het, maar nooit lelik en persoonlik nie, altyd om die saak en die beginsel, en waar ons nie oor die beginsel of die saak verskil het nie, maar wel oor bepaalde vertolkings en toepassings.
Ek sal met heimwee terugdink aan die huldigingsgeleentheid op 28 Augustus vanjaar, waar Oom Hendrik in sy rolstoel op die verhoog gelig is, en waar hy uit die vuis, nee, uit die hart, terwyl sy gesondheid reeds nie na wense was nie, ’n besielende boodskap gelewer het, sonder om dit van papier af te lees soos ons ander sukkelaars en hakkelaars. Daar het Oom Hendrik gepraat met vuur en passie, het sy liefde vir sy volk weer geblyk, en was daar geen woord oor homself en sy probleme nie. Hy was optimisties, begeesterend. Daar het ek hom weer in sy rolstoel sien lag, so agter uit sy keel, want alhoewel hy ’n sterk beginselman en onwrikbare gelowige was, was hy ’n blymoedige mens met ’n wonderlike sin vir humor.
Materialisme het hom nie aangestaan nie. Hy kon skatryk gewees het met sy skryfwerk. Maar sy boeke het hy geskenk aan volksorganisasies sodat hulle dit kon verkoop ter stawing van fondse. Daarmee het hy homself in wese tekort gedoen, en het dit menige dag swaar gegaan in die Van Blerk-huis. Maar nooit was daar ’n woord van klagte of verwyt nie – altyd weer die positiewe aanpak van ’n nuwe projek.
Die van u wat ouer is, sal nog veel meer van Oom Hendrik kan vertel, en ons sal nie die lewe van 95 jaar in minute kan opsom nie. Oom Hendrik het op my as iemand wat feitlik die helfte jonger is as hy, ’n onuitwisbare indruk gemaak, en hy het my lewe en sienswyses verryk.
Daarom groet ons nie in ontroosbare rou nie. Ja, ons is hartseer. Maar ons gun Oom Hendrik die rus. Sy lewe was vol, en sy nagedagtenis kan nie uitgewis word nie.
Ons het egter wel as agterblywendes ’n plig. Oom Hendrik het nie sy lewe lank verniet gewerk en geswoeg en gestry, net sodat ons by sy graf kan sê dit was goed en oulik nie. Ons het die plig om die aflosstokkie vandag by hom oor te neem en die wedloop wat hy begin het, met net soveel ywer en dinamika voort te sit.
Oom Hendrik se lewe was gewy aan sy volk en sy God. Dis wat hy van ons sou verlang as hy vandag hier met ons kon gepraat het. Hy was ’n vryheidsvegter wat niks anders wou gehad het as dat die Boerevolk weer ’n vrye volk in ’n eie land sou wees met God as heerser nie. Dit is ook sy oproep aan ons vandag en ons skuld dit aan Oom Hendrik om daardie ideaal van hom doelgerig en net so selfveragtend as hy, na te jaag, selfs al moet ons ook daarvoor materieel inboet.
Kom ons help ook bou aan die monument wat Oom Hendrik vir sy volk nagelaat het: Majuba. Kom ons help bou aan daardie monument sodat Majuba se naam net so bekend sal wees as die Voortrekkermonument. Die Hendrik van Blerk-saal staan op Majuba. Kom ons gaan die laaste naweek van Februarie daarheen, dink aan ons geskiedenis, dank God vir die uitkoms daar, want dit is wat Oom Hendrik elke jaar gedoen het. Laat ons die werk wat oom Hendrik begin het, klaar maak. Ons skuld dit aan hom uit respek en dank vir alles wat hy vir ’n soms ondankbare volk gedoen het.
Daarby is dit so dat ons waarskynlik nie 95 jaar tyd het om dit wat oom Hendrik begin het, te voltooi nie. Ons mag nie verwyl nie, maar dadelik met sy lewenstaak voortgaan. Immers, hy het gesê:
As ek storm, volg my!
As ek omdraai, skiet my!
As ek val, wreek my!
Genadig hoef ons hom nie te wreek nie. Hy het nooit omgedraai nie. Netso mag ons nooit omdraai nie, maar volg ons hom steeds, want sy storm word nie vandag hier gestuit nie! Maar hy roep ons op in sy gedag: Hulle wat die vuur het:
Ons moet tot stryd geroep ons aardse las gelate tors
En teen staalvestings, teen die vuur en teen die nag
Die pad wat Hy ons dwing voortstap. En as die dag
Versengend is, durf ons nie kerm: “Vader, ek het dors!”
Of vra dat water van Sy liefde rotsomkoste harte week,
Of die diep barste van die lewe vul en teer
Oor ons die koele balsem van genade vryf
En salwend in ons wonde heling smeer.
En as ons ideale wegsplint op die starheid van die dag,
Gryp vas die skoon herinnering van stryd en smart
En koester dit met moederteerheid teen die hart
Wat nou mag bloei maar ook weer in sy uur sal lag.
Henk Van de Graaf