Skrywer Onderwerp: Wrede aanval op bejaarde egpaar!  (Read 801 times)

0 Lede en 1 Gas bekyk die onderwerp.

Afwesig André Strydom

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 2144
Wrede aanval op bejaarde egpaar!
« op: January 12, 2010, 02:41:41 PM »
Hartswater. – Die landbougemeenskap in die Vaalharts-distrik is geskok deur die wrede aanval die naweek op ’n bejaarde egpaar by hul plaashuis in die omgewing van Magogong.

Sewe rowers het mnr. Charles Engelbrecht (73) en sy vrou, Violet (71), eienaars van perseel 2K11 in Mago­gong, Sondag omstreeks 21:00 oorval.

Mnr. Engelbrecht is erg deur die rowers aangerand, terwyl sy vrou vasgebind en etlike ure in die huis aangehou is.

Mnr. Engelbrecht is met ’n gekraakte rib, gebreekte neus en ernstige kneusplekke op sy lyf en gesig na die Jane Keyser-kliniek op die dorp gebring.

Engelbrecht, wat met pekanneute, druiwe en sitrus boer, het gesê hy het Sondag vier dooie katte in die erf opgemerk.

“Dit was vreemd, aangesien die Labrador-hond ook nie wou eet nie. Hulle is vermoedelik vergiftig.”

Hy het Sondagaand kewers in die wingerd met gif gespuit, toe van die gif op hom waai.

“Ek het die trekker in die pakhuis getrek en afgeklim om te gaan stort. Die kleiner hond het begin blaf. Ek het ’n groot flitslig gevat om te kyk wat aangaan. Skielik het ’n man op my afgestorm. Daar was nog mans agter hom. Hulle het my op die grond gedwing en my geslaan. Almal het klapmusse opgehad.”

Engelbrecht het 'n paar houe met die flitslig ingekry, voordat die aanvallers hom oorrompel het. Hy is toe vermoedelik met hamers, tange en lusernhake geslaan en het sy bewussyn verloor.

Toe Engelbrecht sy bewussyn herwin “was ek bekommerd oor wat by die huis aangaan, maar ek kon niks doen nie. “Ek kon nie beweeg nie. Hulle het my later kom haal, in die bakkie gelaai en in die pekanneut-land afgelaai.”

Mev. Engelbrecht het gesê die rowers het haar in die televisiekamer oorrompel. Sy moes die kluis opsluit.

“Hulle was baie gefrustreerd toe hulle gewaar daar is nie baie geld in die kluis nie. Hulle het my na die slaapkamer geneem, want daar moes volgens hulle geld wees.

“Hulle het gesê hulle sal my verkrag. Een het glo vigs.

“Ek het toe besluit ‘julle kan gaan vrek’. Ek het gesê ek is 70 jaar oud en sal in elk geval gou doodgaan.”

Mev. Engelbrecht het gesê sy was heeltyd kalm. Sy het rustig met die rowers gepraat.

Die booswigte het haar met ’n lusernhak rondgetrek.

“Ek het die kredietkaarte en PIN-nommers gegee. Ek is toe in die televisiekamer op ’n stoel vasgebind.”

Toe sy later besef die rowers is weg, het sy na die voordeur gekruip om dit te sluit. Sy het ook die slaapkamerdeur toegesluit en die alarm aanhoudend gedruk.

’n Buurman het tot haar redding gekom. Nog bure het na mnr. Engelbrecht gesoek. Hy is omstreeks 01:00 in die pekanneut-land gekry.

Mnr. Wessel van der Merwe, president van Agri Noord-Kaap, het gesê misdadigers wat dié walglike misdade pleeg, moet geen genade van die gereg ontvang nie. “Geen parool of borgtog moet toegestaan word nie. Die maksimum straf moet opgelê word.”

Die polisie is besig met ’n uitgebreide soektog na die rowers.
Ons Sal!!!


Share me

Digg  Facebook  SlashDot  Delicious  Technorati  Twitter  Google  Yahoo

 


* Nuwe Inskrywings


SA Topsites



SA Topsites :: .

SimplePortal 2.3.3 © 2008-2010, SimplePortal