‘Alles behoort aan wit mans’2011-05-09 23:00
Lizel Steenkamp
Die jeugliga sê die ANC-regering het sedert 1994 misluk om die ekonomie te transformeer. Mnr. Julius Malema en sy volgelinge soek nou ANC-leiers met die moed om drastiese besluite te neem, leiers wat nie bang is vir die “ryk, wit man” nie, berig Lizel Steenkamp.
“Ons kan nie ‘amandla!’ eet nie. Ons mik nou na die gróót geld!” Dít is mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier, se wekroep aan die werklose swart jeug.
Foto: Lulama Zenzile
In die ANC is dit nie die titel voor jou naam wat respek afdwing nie. Wat tel, is die revolusionêre idees agter jou van.
Voor in die vertrek staan mnr. Julius Malema, ANC-jeugleier. Die gehoor in die swierige vyfster-Crystal Towers-hotel in Kaapstad sit versteen terwyl hy skel omdat dié groep ANC’s hulself die “Forum vir Professioneles” noem.
“Mense wat hulself as sogenaamde denkers projekteer, sal nóóit in die ANC triomfeer nie. Hulle is irrelevant.”
Sy lang, swart jas is toegeknoop tot onder die kuiltjie en die kraag kiertsregop.
Hy is hier om die Wes-Kaapse ANC se verkiesingsveldtog woema te gee. En vanaand wag sowat 250 jong professionele lui – meestal ingenieurs in pakke en geoktrooieerde rekenmeesters met BlackBerries – op Malema-magic. Hulle sien hom gewoonlik net op TV en sit nou in afwagting op die “n”-woord – Malema se revolusionêre oplossing vir ekonomiese bevryding.
Maar hy is nog nie klaar met húlle nie.
“Ek is nie letterlik ’n professionele nie. Ek is ’n aktivis. My standpunte is dié van ’n aktivis. Ek konfronteer Suid-Afrikaners met my aktivisme. Ek is geen kenner nie ... maar ek raak bekommerd wanneer mense hulself in ‘professionele groepe’ organiseer. Julle loop die gevaar om julself uit te sluit.”
Jong swart professionele lui durf nie vergeet waar hulle vandaan kom nie, vat hy hulle vas. Só speel hulle in teen-revolusionêre se hande. Van hulle het die townships se stofstrate lankal gegroet, maar hý sal hulle opnuut aan die werklikheid herinner:
72% van die 5,9 miljoen werkloses in Suid-Afrika is jongmense tussen 18 en 35 jaar;
30% van swart mense is werkloos in vergelyking met 22% bruin mense, 9% Indiërs en 5% wit mense;
wit mense wat 9% van die land se bevolking verteenwoordig, verdien 45% van die totale inkomste en die swart meerderheid net 41%; en
wit mense het teen 2007 steeds agt keer meer as Afrikane verdien.
Die statistieke is in die jeugliga se besprekingsdokument oor ekonomiese bevryding. Dit sal volgende maand op hul nasionale kongres bespreek word en staaf die argument wat Malema hier en tydens elke spreekbeurt voorhou: Die land se rykdom is 17 jaar ná demokrasie steeds in die wit minderheid se hande.
“Hulle het in 1994 politieke mag afgestaan, maar nie ekonomiese mag nie. Hulle besit alles. Dan wil hulle hê ons moet die grond terugkóóp – grond wat hulle verniet gekry het!”
Malema se jas is nou los, hy kóók.
Die gehoor is in beroering. Hul leier se boodskap oor ekonomiese bevryding klingel soet in hul ore.
’n Geskiedenisles volg oor hoe die wit mense se voorvaders grondeienaars sedert 1652 in “slawe” verander het. Hoe die apartheidsregering “Bantoe-onderwys” gebruik het om swart mense minderwaardig te maak en op hul plek te hou en hoe wit mense vandag nog dink swart mense is net goed genoeg om slaggate reg te maak.
“En dan kerm hulle oor regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging!” Die gehoor knik begeesterd kop.
“Wie is die rykes in dié land?” stel Malema die retoriese vraag. Hy antwoord self: “Dis die wit man! Wie is die armes? Dis die swart vroue op die platteland!”
Die vrou langs my sit op die punt van haar stoel. Sy sién die sukkelende ma’s van haar geboortedorp in die Oos-Kaap.
“Ja, hulle (die wit mense) wil nie oor eiendom en die ekonomie praat nie. Hulle verwag van ons (swart mense) om maar net agteroor te sit en te sê dis ‘reg’.”
Malema het nuus vir hulle.
“Ons kan nie ‘amandla!’ eet nie. Ons mik nou na die groot geld!” Sy vuiste pomp die lug, sy kop blink.
Luidens die jeugliga se besprekingsdokument moet die Grondwet verander word sodat die staat private eiendom – spesifiek grond en myne – sonder vergoeding kan onteien en her- verdeel.
Dit is die einste boodskap wat Malema hier aan sy gehoor oordra: Boere sal geen rede hê om plaasaanvalle te vrees as hulle die meeste van hul grond aan die armes afstaan nie.
“Wit mense het geen rede om ons te vrees nie.” Hy lag en sy gehoor lag saam.
“As jy 1 000 ha het en jy gee ons 800 ha, dan deel ons almal daarin. Dan is daar geen rede om te vrees dat misdadigers jou sal aanval nie, want dan is ons gelyk. Dan sal jy nie bang wees om op ’n groot plaas te bly nie.”
Hy verklaar met groot erns dit is nie rassisties vir swart mense om ambisieus te wees nie en dat dit tyd is om openlik oor “ryk, wit mans” soos die Oppenheimer- en die Rupert-gesin te praat.
“Die Noord-Kaap lyk soos ’n woestyn, terwyl die Oppenheimers dekades lank (deur hul mynbedrywighede) verryk word.”
Dit is hoekom die staat die beherende aandeel in strategiese nywerhede, telekommunikasie en energieproduksie (petrol en krag) moet hê. Meer nog die myne, want net die staat kan verseker dat myngemeenskappe nie uitgebuit word nie, maar werklik deur mynbedrywighede bevoordeel word.
“Ons noem dit nasionalisering!” roep Malema uit.
“Die platinum (in Noordwes) kan ’n Johannesburg van Rustenburg maak. Dís waarvoor die jeugliga veg!”
Weer klap die gehoor hande, opgewen deur die revolusionêre voorstelle vir die herverdeling van rykdom.
Malema sê die staat se beursie sal aansienlik vetter wees as strategiese sektore genasionaliseer word. Dít sal meer geld beskikbaar stel vir onderwys, huisvesting en gesondheidsorg.
Daar sal meer werk wees, want staatsbeheerde myne sal toesien dat minerale plaaslik verwerk en nie uitgevoer word nie, mynwerkers sal hoër salarisse verdien en hul werkomstandighede sal verbeter.
Nie net sal die land groter ekonomiese en politieke vryheid hê wanneer hy dié sektore beheer nie, die regering sal baie meer geld hê om sy maatskaplike verantwoordelikhede na te kom.
Malema herinner sy gehoor die finansiële sektor is net belangrik, “want sonder kapitaal kan ons niks doen nie”. Maar die jeugliga gaan die banke “wat in wit mans se besit is en net op maksimum wins fokus” nie om geld smeek nie.
“Dis maklik. Ons stig ons eie bank – die Posbank – en ons vat al ons geld soontoe. Die regering moet ook daar bank. En dié bank sal goedkoop wees en dit maklik maak om lenings te kry.”
Anders as die Ruperts is swart sakelui soos mnre. Patrice Motsepe en
Cyril Ramaphosa nie regtig ryk nie. “Hulle skuld die banke geld en aan wie behoort die banke? Aan wit mans.”
Hy wat Malema is, leef self ook met geleende geld, verklap hy.
“Níks wat ek besit, is my eie nie – nie die huis in Sandton of die motor waaroor almal praat nie. Dis die Ruperts se motor,” herhaal die jeugleier sy gunsteling-refrein.
“Daar is niks wat aan ons behoort nie. Alles word deur die wit man besit. Ons moet dít verander!” sê Malema dan onder luide toejuiging.
Malema knoop sy jas weer vas. Dis tyd om te gaan, sy volgende gehoor wag.
Maar net voordat hy uitstap, rig hy ’n waarskuwing, dié keer aan die ANC-leiers in die aanloop tot die regerende party se leiersverkiesing volgende jaar in Mangaung: “Niemand moet ons (die jeugliga se) steun as vanselfsprekend aanvaar nie. Sommige mense in die ANC dink hulle is magtig. Maar ons het ’n oplossing vir sulke mense. Wag maar tot 2012.”