Goeie dag...
Ons begin met 'n nuwe konsep om Gratis Afrikaanse kortverhale en stories aan die publiek beskikbaar te stel. Skrywers kan hulle werk aan ons stuur en dan stuur ons dit na almal wat by ons registreer. Registrasie is gratis en om jou werk te publiseer is ook gratis. Dit is net 'n platform vir nuwe skrywers om hulle werk bietjie publisiteit te gee. Ons voel ons kan Afrikaanse literatuur 'n goeie hupstootjie gee met ons plan.
Ek heg ons advertensietjie hieronder aan. As u dit goedkeur sal ons dit vreeslik waardeer as u dit na u lede kan aanstuur en as u hulle dalk kan aanmoedig om del te word van die projek.
Dankie vir die geleentheid en sterkte met die goeie werk wat julle so ver doen.
Groete
Vannermerwe
Gratis Afrikaanse Kortverhale en Stories!!
Is jy lief vir Afrikaans?
Hier is jou kans om jou mamma-taal, Afrikaans, se oorlewing te help verseker. Die beste van alles is jy hoef niks te doen nie en dit is heeltemal gratis!!
Ons wil graag ’n sosiale netwerk op die been bring waar skrywers (oud en jonk) die kans gegun word om hulle werk aan jou bekend te stel, en jy toegang kan kry tot die nuutste en beste Afrikaanse kortverhale en stories.
Hoe werk dit?
Jy stuur net jou naam en e-pos adres na
info@vannermerwe.com en dan stuur ons vir jou al die beste kortverhale en stories soos wat ons hulle inkry. Gratis!
As jy ’n skrywer is, stuur vir ons jou storie/kortverhaal en ons sal sorg dat soveel moontlik mense van jou te hore kom. Ongelukkig is daar geen finansiële vergoeding vir die skrywers nie. Dit is slegs ’n platform om jou werk aan almal bekend te stel.
Hoekom?
Vannermerwe Media (dis nou ons) het laasjaar begin met die idee om nuwe skrywers die geleentheid te gee om hulle werke op die rakke te kry. Ongelukkig is die kapitale uitleg, die bemarking en die verspreiding van hierdie boeke so ongelooflik duur dat ons dit nie effektief kan volhou nie. Op die oomblik probeer ons die boeke wat ons wel so ver uitgegee het by PRAAG in te kry. Die ouens by PRAAG doen ongelooflike werk vir Afrikaans. Hierdie nuwe avontuur om verhale gratis aan die publiek bekend te stel is net ’n voortsetting van ons doelwit. Ons wil nuwe (en hope vol) Afrikaanse literatuur beskikbaar stel aan die publiek teen bekostigbare, nee... gratis pryse!
Wat is die vangplek?
1. Geniet asseblief die stories en kortverhale. Daar is ongelooflike talent onder Afrikaanse skrywers. Hulle maak dit vir jou moontlik om hulle werk heeltemal gratis te geniet, so doen dit!
2. Stuur asseblief hierdie e-pos na almal wat jy ken wat lief is vir hulle taal en ’n verskil wil maak. Stuur die stories aan of druk dit uit en gee dit vir jou familie en vriende wat nie toegang het tot die internet nie. Hoe meer mense, hoe beter!
Ons belowe....
1. Ons belowe ons sal nie jou e-pos adres vir iemand anders gee of leen nie. Ons haat SPAM en daarom belowe ons dat ons nooit jou e-pos adres aan iemand anders sal gee om jou te irriteer nie.
2. Met tyd gaan daar dalk ’n advertensie of ’n borg se naam in jou e-pos saam met jou gratis storie verskyn. Hopelik kry ons ’n anonieme borg van miljoene sodat ons al ons kostes kan dra en jou nie hoef bloot te stel aan wie ook al se advertensie nie. Die realiteit is egter dat ons ook moet eet... Jammer daaroor! Ons gaan probeer om dit so min as moontlik te hou!
Skrywers...
Stuur vir ons dadelik jou storie of kortverhaal na
info@vannermerwe.com en sorg dat ons jou naam en jou werk by die publiek uitkry. Net ’n paar voorwaardes:
1. Dit moet jou eie oorspronklike werk wees. (Ons vat geen verantwoordelikheid vir jou werk nie. Plagiaat is sonde en dalk nog ’n misdaad ook!)
2. Hou dit onder 2000 woorde (Die meeste ouens wat die goed gaan lees, lees dit in werkstyd en ons wil nie hê hulle moet uitgevang word nie. So hou dit lekker kort!)
3. Skrywers behou kopiereg, maar gee toestemming aan Vannermerwe Media om dit aan soveel as moontlik mense in digitale formaat te stuur. (Dit bly jou werk, ons verkoop dit nie. Hopelik verkoop ons lesers dit ook nie... NS: ons vat geen verantwoordelikheid vir wat ons lesers met dit doen nie, hoor...)
4. As jy wil kan jy jou kontakbesonderhede saam met jou storie uitstuur. Op die manier kan mense direk kommentaar lewer op jou werk. (Nie altyd lekker om te hoor nie, maar sommige kritiek is die moeite (pyn) werd)
Ag kom nou...
Al wat ons vra is dat jy jou e-pos adres vir ons stuur en hierdie e-pos na ALMAL wat jy ken toe sal stuur. Van daar af gaan jy elke dan en wan ’n lekker Afrikaanse kortverhaal of storie kry, heeltemal gratis en verniet!!!
Deur deel te word van hierdie projek kan ons ‘n klomp nuwe skrywers die geleentheid gee om hulle voet by die deur, in ’n baie kompeterende mark, in te kry!!
Dankie dat jy Afrikaans help oorleef!!!
Groete
Vannermerwe Media