‘G’n tweede Zim’2011-05-12 23:04
Marietie Louw-Carstens
Polokwane. – Niemand sal toegelaat word om plase in Suid-Afrika met knopkieries of pangas te beset nie.
So het mnr. Mathews Phosa, tesourier-generaal van die ANC, gister hier tydens ’n ontbyt met sakeleiers gesê.
”Niemand sal toegelaat word om eie reg te gebruik met grond nie.”
Phosa het gesê veiligheid op plase moet dringend aandag kry. “Die ANC wil nie hê wit of swart boere moet onveilig voel op hul plase of dat produksie negatief geraak word deur veiligheidsprobleme nie.”
Hy het aan die sakelui by die Royal Hotel in Polokwane gesê veiligheid op plase is nie net nou belangrik omdat dit verkiesingstyd is nie. “Dit is ’n langtermynkwessie wat die regering en die landbougemeenskap moet bespreek.”
Die regering se hulp aan opkomende boere sowel as hulp met samewerking in die landbou tussen wit en swart kan beter wees, het Phosa gesê.
Hy het in reaksie op aanmerkings van mnr. Mokone du Preez, ’n bekende ANC-sakeman in die stad, gesê plase sal nie beset word nie.
Du Preez het gesê: “Ons het nie ’n Zimbabwe hier nodig nie. Ek het nie ’n ander land nie. Ek wil hier bly.”
Hy het ook ’n eksemplaar van Beeld in die lug geswaai en verwys na ’n berig daarin oor mnr. Julius Malema, president van die ANC-jeugliga, wat onlangs glo gesê het alle wit mense is misdadigers.
“Ons moet politici keer wat sê wit mense is misdadigers. Hoe kan iemand sê ek is ’n misdadiger?” het Du Preez driftig gesê.
Phosa het hom verseker die ANC het “geen beleid om wit mense of swart mense as misdadigers te brandmerk nie”.
Nog sakelui het gesê die polisie doen moeilike werk en daar word swak na hulle omgesien.
Phosa het gesê hy besef die polisie het nie ’n maklike taak nie, maar hy voel genl. Bheki Cele, polisiehoof, moet “afkoel”. Hy het gesê hy lyk kwaad op TV. “Hy moenie so kwaad wees nie. Wanneer ’n mens kwaad raak, verloor jy maklik die plot.”
Phosa het gesê aandag moenie net aan swart ekonomiese bemagtiging (SEB) gegee word nie, maar ook aan wit ekonomiese bemagtiging. Hy het nie uitgewei nie, maar gesê “dit sal mense hoop gee en ’n nie-rassige ekonomie skep”.
Mnr. Jacques “Jabulani” Nell, ’n ANC-kandidaat in wyk 21, wat Bendor en Welgelegen insluit, het gesê die verkiesing gaan “nie net oor gebreekte toilette nie, maar ook oor wêreldklas-sportstadions en die regering se behuisingsprojekte.”

Mnr. Mathews Phosa gister by Nell se 1936-Mercedes-Benz voor die Royal Hotel in Polokwane.
Foto’s: Marietie Louw-Carstens

Mnr. Jacques Nell