Nuusflits

Aandag aan alle Bravoland Besoekers. Hier kan u 'n aansoek indien om Bravoland Burgerskap te verkry:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php/topic,5566.0.html

Skrywer Onderwerp: Uit my ("Boeremag-dagboek)  (Read 3155 times)

0 Lede en 1 Gas bekyk die onderwerp.

Afwesig Ankoren

  • Bravoland Burger
  • *
  • Poste: 104
    • Uit my ("Boeremag")-dagboek
Uit my ("Boeremag-dagboek)
« op: May 20, 2009, 09:31:56 AM »
Wat de 'heck'? - Die Boeremagsaak se sesde verjaarsdag   
19 Mei 2009


"Is jy ook my pa se sussie?" vra die sewejarige klein snip oor my skouer.

"Nee, ek is sy skoonsussie, ek is met sy boetie getroud."

"My pa se boetie?" (Sy het hom nog nooit gesien nie.)

"Jou oom wat tronk toe is twee weke voor jy gebore is," vervolg Ouma hier langs my.

Die graadeentjie frons, maar dan onthou sy skielik - ons het haar al vertel.

"Nou wat de 'heck' het hy gemaak," frons sy. "Hoekom is hy in die tronk?"

"Dit kan jy weer vra!... Wat de 'heck'? Hul noem dit die 'Boeremag'."

Ek verwens myself - ek moes voor my skoonsussie uitgespring het om die hek oop te maak - dan kon iemand anders solank begin verduidelik het... Ek het saamgery Bosveld toe net om te ontsnap van die "Boeremag"-dinge en my kop skoon te maak. En hier sit ek. Vas gehek! Ons ry verder. "Wat de 'heck' het hy gemaak?" herhaal my swaer die vraag en probeer my oog in die truspieëltjie vang. Ek maak of ek dit nie sien nie. Almal lag en ek lag maar saam. Ja, die "Boeremag" het soos 'n hek homself staan kom maak in die paadjie van my lewe...

My skoonsus gee ons jongste niggie 'n drukkie skuins na agter as sy ná die tweede hek weer inklim: "Toemaar, nie een van ons ander se name sal in die geskiedenisboeke staan nie, maar jou oom wat in die tronk is, syne sal..."

Ek wonder of enige een van ons régtig kan onthou waar dit alles begin het? By drie mans wat op Gerdau op die verhoog gestaan het, met `n politieke ideaal. Hulle het die mense gewaarsku dat as hier gevaar sou kom, enige toestand soos die voorspelde "nag van die lang messe" - ook volgens die Vula-dokument en ander inligting wat na hulle aangedra is - ons onsself sou moes kon verdedig. Maar, later was daar baie dinge...

"Hoe gaan dit met die manne daar?" vra ons my skoonma se broer, waar ons in sy Bosveld-stoep se koelte sit.

"Onder omstandighede goed, Oom weet mos - wat nie dood maak nie maak sterk!"

Herman Scheepers, wat oorlede is nadat hy 'n virus op sy brein gekry het in 2007, het altyd vir my gesê as ek hom vra hoe dit gaan: "Party dae op en ander af, maar in die deursnee nog goed." Dit lyk maar nog steeds so, Oom. Alhoewel ek dink as mens dit op 'n grafiek sou natrek, daardie gemiddeld heelwat laer is, as wat dit altyd was. Die laaste twee jaar was rof! Mens kan dit op die mans se gesigte sien - die saak het sy pond vleis gevat! Almal het oud geword. Grys! Tot Herman en Rudi, daardie twee outjies wat mos weggeloop het uit die hof, begin al silwer om die slape word. Party dae kan ek sommer sien dat dit met sommiges so gemoedslangs sleg gaan, maar as ek weer in die hof kom, sien ek dat hul ook weer moed geskep het en glimlag hul ewe breed. Hehehe, daar's een nuwe vroumens wat daar kuier en dit lyk so al vir my of Cupido daar ronddans besoektye..."

"Wat-se-pit praat jy nou?"

"Daai engeltjie wat mens so met die pyle skiet dat jy verlief moet raak, Oom."

"O" en ons oujongkêrel-oom grom iets oor heidense gebruike.

Ons oom staan op om die hoenderkos uit te haal - hy maak verskoning - hy is maar aldag besig.

 "Daar's seker nie in die tronk so baie werk soos hierso op die plaas nie," spot my swaer. "Ons stuur hom hier na oom toe as hy uitkom, dat hy weer kan leer werk."

"Nou waarmee hou hul hulselwers besig?" wil die oom weet.

"Hy het 'n rekenaar en 'n radio en hy kan ook flieks kyk. Ons het vir hom so 'n DVD-masjientjie gekoop." Ek verduidelik so effens, want ons oompie se enigste gevorderde tegnologie op die plaas is 'n selfoon, en ook maar net omdat dit noodsaaklik is. "Musiek is seker die belangrikste ding om hom positief te hou, hy kyk graag na André Rieu se musiekvideo's. 'n Vriend het nou onlangs vir hom 'n stel oor die dierelewe van Animal Planet gegee, wat hy oor en oor gekyk het. Dis net eers 'n hele riekmarrôl om die toestemmingsbriewe te kry, maar dan mag mens die goed vir hulle vat. Baie van die ouens het televisiestelle. As hulle radio luister, moet oorfone opsit sodat die klank nie die ander pla nie. Hy het ook 'n elektroniese klavier, so ene wat met krag werk, sonder die klankkas agter, waarop hy oefen, dit hou hom goed besig. Hy lees ook baie, al die goed waarin hy belangstel. Filosofie en sielkunde... Hy lees mos nie storieboeke nie, hy aard te veel na sy oom..." terg ek.

"Nee jong, ek lees net die Bybel en dié gaan ook maar swaar." Ek glimlag saam met die res. In my verbeelding sien ek hoe daardie hard gewerkte hande sukkel om die fyn blaaie van 'n Bybel geblaai te kry.

"Ja, oom. Hy skrywe ook… van die ander ook. Ek wil net Maandag vir my, by Bienedell, Mike du Toit se derde boek bestel. Dit gaan oor Die Strewe en Stryd van ons Volk van 1902 tot 1994. Het oom die resensie in die nuutste Afrikaner daarvan gelees?"

"Nee jong, dié kerant sal ek eers antstaande week by die pos kry."

"In elk geval, oom, Mike se tweede boek was vir my te ingewikkeld, ek sukkel om dit klaar gelees te kry. Lyk my dis meer vir geleerde mense bedoel - mense wat wetenskapfilosofie studeer - dit gaan oor paradigmas. Ek het baie meer van sy eerste boek oor die oud-Germaanse geskiedenis gehou. Sy broer André het ook al 'n digbundel uitgegee, daar is die mooiste gedigte in! Wilhelm Pretorius het ook al van sy gedigte gepubliseer. Hy het laasjaar sy meestersgraad in Kerkgeskiedenis gekry. Hulle het glad vir hom 'n gradeplegtigheid daar (soos sy ma sê) in die skadu van die galg gehou. Die kapel waar hulle dit gehou het daar by C-maks, is mos net langs die galg. Hy is nou met sy doktoraal by Tukkies besig. Adriaan ook besig om vêrder te studeer, iets met boekhou te doen… Nee wat Oom, daar is 'n klomp van hulle wat goed besig is…"

"Dr. Lets het mos daardie boek met die spotprente oor die Boeremagsage uitgegee. Hy teken gereeld nog elke getuie en al die snaaksighede wat daar in die hof gebeur. Hy het gepraat van 'n tweede boek, een of ander tyd. Hy het mos borg gekry, maar lyk my hy is nou so baie betrokke by Boerevryheid, dat hy nie te veel kans het om dit agtermekaar te kry nie."

"Die borg-ouens glo ek nog altyd het dit maar net so erg (al is dit op 'n ander manier), as dié wat toegesluit is. Oom moes daardie gesigte gesien het toe ek gister vir hulle elkeen gevra het, wat hulle vir my kan vertel van die ses jaar wat nou verby is! Oom Fritz het sommer vir my gelag: "Hene ou kinta, jy vra nog?" "Tannie weet mos!" het klein Jacques geantwoord. Deon het nou een dag gespot dat hy so permanent by die hof is dat die bank in die portaal waarop ons altyd sit en wag, nou syne is. Ek het so gelag, want hy reken toe dis tyd dat hy bedank. Ek het lustig saam gespot dat dit nou een plek is waar jy kan bedank tot jy blou is, dit sal nie aanvaar word nie. Hulle haal maar almal deur 'n dun rietjie asem. Moet elke dag in die hof wees en hulle kan nie ander geld verdien nie, en moet huur betaal en nog kos koop. Petrolgeld ook hê en parkeergeld betaal. In die tronk is die goed gelukkig nie nodig nie. Ons vrouens dra net kos aan, want die tronk s'n is nie aldag eetbaar nie, maar eintlik gaan dit meer daaroor dat hulle iets van die huis af kry. Oom weet mos, 'n man se pad na sy hart loop deur sy maag.

"Hoe gaan dit nou met die ou wat so met die suikersiekte gesukkel het?" wil my skoonsussie weet.

"Sy vrou het laas week gekla dat sy suiker weer hoog was, maar dit gaan nou weer beter. Hulle lyk my is darem net twee in die tronk wat so met hulle gesondheid sukkel. Twee van die borg-ooms het al hartaanvalle gehad en Oom Vis se vrou het net anderdag vir my gesê hy word nou te oud vir die tronk. Maar wat, jou boetie was nog nooit in sy lewe so uitgerus nie, hy sê hy is nou al moeg gerus."

"En die kleingoed? Samel julle nog vir hulle geld in?" wonder sy verder.

"Die kleinstes is skool toe vanjaar, André se twee het so goed met die atletiek gevaar, glad medaljes huis toe gebring. Die klein Vrystatertjie het ook vir sy pa kom kuier met sy skoolbaadjie en al; hy het nou begin stoei en hy sit glo sy ma ore aan as dit by skaakspeel kom. Die ander het ook almal sulke langbeendogters geword, mens ken hul amper nie as hul by die hof kom kuier nie. Daai oudste een van Johan het glad anderdag vir haar Oupa vertel hy sal die moesie op haar been moet verwyder, want binnekort sal sy begin skeer en dan gaan sy dit raak skeer. Sy was so 'n kleutertjie toe ons haar die eerste keer gesien het... Oom Vis se jongste seun het ook sy graad in Ingenieurswese klaargemaak. Sy ouboet is nou terug op Universiteit, besig met sy meestersgraad. As mens so na die kinders kyk, besef jy eintlik eers hoe lank ons al met die storie besig is... Ekself het niks meer met die Helpmekaar-hulpfonds te doen nie, maar hul het die einde van laasjaar vir almal geld vir geskenkies gegee en het in die begin van die jaar skoolfonds betaal. Die fonds gee darem ook vir die mans sakgeld elke maand en telefoonkaartjies om mee te bel. Daardie kaarte red my gewoonlik aan die einde van die maand."

"Hoe lank is dit nou al?"

"Die eerste drie was Aprilmaand al sewe jaar toegesluit. Ek gaan nie weet wat om met my man te maak as hy die dag huis toe kom nie. Ek raak soms benoud as ek daaraan dink; dit gaan 'n groot aanpassing wees! Maar wat, ek herinner hom gereeld daaraan dat ek sy eerste én tweede vrou sal wees en hy moet net onthou dat 'n tweede vrou baie bederf moet word. Hy sal byvoorbeeld nie mag nee sê as ek wil kom kuier hier by Oom in die bosveld nie," lag ek na Oom Boet toe.

"Ek hoor die saak kos 'n almintige klomp geld."

"Die Regshulpraad praat van twintig miljoen, Oom. Dis maar omdat daar so baie mense betrokke is. Dis die Regter en sy twee assessore, die drie staatsaanklaers, die ondersoekspan, die verdediging se advokate en dan is daar nog die polisie om hulle op te pas. Ek tel daar is ses voertuie wat saamry as hulle vervoer word. Dis nie eintlik vir my snaaks dat dit al so 'n groot klomp geld is nie. En dit gaan nog meer word, ek dink nie die saak sal nie voor die einde van die jaar klaar kry nie." 

"Nou hoe so?"

"Dinsdag, die 19de, sal dit die saak se sesde verjaarsdag wees. Hulle is nou met Dirk Hanekom besig in die bank. Hy is beskuldigde nommer twaalf. Dit gaan maar woes, maar daar was al groot pret en lekker lag. Veral toe Tom Vorster in die bank gestaan het. Hy en die Staatsadvokaat, Fick, is natuurlik vet en vuur bymekaar. Fick het hom eendag toegesnou dat hy lieg, waarop hy vir Fick vertel het dat hy wat Fick is, vet is. Almal het gelag, hoewel die Regter het hul berispe en gevra om nie so persoonlik in die hof te wees nie. Die Regter self het maar gesukkel om nie te hard te lag nie. Ek moet Oom sê, ons weet nie wat hy op die ou einde gaan besluit nie, maar een ding moet ons darem vir Regter Eben Jordaan gelyk gee, hy het 'n goeie humorsin.

In die koerant het hulle ook genoem dat die saak die laaste tyd slegs 55 minute gemiddeld per dag aan die gang was, maar hulle sê nie dat daar alweer 'n lang reses is wat vir ons voorlê nie. Tom se suster is oorlede in die tyd wat hy getuig het en hy het 'n paar maal gevra om bietjie af te staan. Hy't glad geweier om verder te getuig, want hulle het hom toestemming geweier om die begrafnis by te woon, nes die tyd vir Mike en André, en ook vir Adriaan toe hulle pa's oorlede is. Nee wat Oom, Tom het hulle mooi vertel hoe sy en sy medebeskuldigdes se menseregte geskend is gedurende die ses jaar wat hy sit. Ook sommer dat mens nie kan verstaan dat ander dan sommer net so mediese parool kry nie of dat sake sommer net teruggetrek word nie."

"Dis maar erg om in daardie bank te sit, Oom. Daar word baie gepraat, die oorkonde(waar hulle elke woord optik wat gesê word in die hof) is reeds 38 000 bladsye lank. Daar is nog 9 beskuldigdes oor, ek weet nie of almal van hulle gaan getuig nie. Die ouens wat min dinge teen hulle het, vat omtrent so week of drie in die bank. Ander van hulle staan meer as 'n maand in die bank. Ek dink Tom Vorster en Mike du Toit het die langste van almal getuig, dis seker logies want hulle is die twee wat beskuldig word dat hulle die 'leiers' was. Die twee Pretorius-boeties wat skuld beken het, sal dalk die tyd verkort, maar dit weet niemand ook vir seker nie. Ons weet ook nie hoeveel getuies elkeen gaan roep nie.

Dis nou 'n ander ding daai Oom - om mense te gaan vra om te getuig. Sommiges steek viervoet vas! Die ouens sweet in daardie bank, maar daar was darem 'n paar manne vir wie ek die wêreld se respek gekry het oor hoe hulle dit hanteer het. Veral vir Gideon Meiring! Hy was die tweede getuie vir die verdediging en hy het baie mooi verduidelik, (uit ondervinding) dat ons onsself sal moet beskerm. Dit sluit aan by die mans se verweer dat die hele ding defensiewe beplanning was. Daar was 'n oud-weermagoffisier ('n baie netjiese man), ek het nou sy van vergeet, wat vir die regter gesê het dat dit vir hom 'n voorreg was om daar te gaan staan. Van nog 'n ander offisier sal ek altyd onthou dat hy vir die regter gesê het, mens het nie altyd die luukse van 'n terugblik nie. Boet sal onthou word omdat hy vir die regter gesê het dit sal vir hom voel hy smokkel met 'n bord kos as hy die vraag antwoord. Die staatsaanklaer was natuurlik woedend en het gesê Boet skeer die gek, maar soos oom weet dit is maar Boet se manier van praat. Ek het ook eendag daar gesit en krimp in my hart vir 'n ou wat vir die regter verduidelik het dat dit sy heel eerste keer is wat hy in 'n hof kom. Almal kon sien hoe swaar hy kry om daar te staan. Maar ten minste het hy probeer! Die verdediging se getuies is maar min, nie naby aan die 162 wat die staat geroep het nie."

"Maar elke ou moet nou maar sy kans gegun word om sy saak te stel. Die ouens beskuldig mekaar maar erg. Hulle is soos daardie twee opgeskote bulletjies wat Oom nou daar in dieselfde kampie het. Net, hulle kampie is ekstra klein! Het my man net so uitgekryt dat hy 'n verraaier is. Ons sal seker maar eers op die heel einde sien wat is wat regtig Oom, ek weet tog nie. Ek weet net dis baie ingewikkeld. En mens het nie so mooi perspektief as jy so betrokke is by 'n ding nie. Nog minder as dit so lank aanhou.

Die 'Boeremag' is by uitstek 'n storie van verraad en nou praat ek nie van hoogverraad nie. Verraad wat anders lyk as wat ons dink. En vraagtekens, Oom. Baie dinge om die saak maak nie mooi sin nie. Dr Theuns Botha het getuig dat hulle toestemming van Mbeki gehad het om die informante van die AWB te ondersoek, maar toe hulle by die 'Boermag' kom is daardie toestemming summier teruggetrek. Die doktor se plaas het toe ook afgebrand terwyl hy getuig het, ek kon nie help om te wonder of dit net so 'toevallig' was soos die tas met hofdokumente en aantekeninge wat uit beskuldigdes nommer een en twee se advokate se kar gesteel is nie. In die eerste jaar wat hulle in die tronk was, het Koos Venter in die Afrikaner 'n artikel geskrywe: "Boeremag of Intelligensie-Operasie," ek begin al hoe meer dink dat hy 'n punt beet gehad het. Maar Oom, ek glo ons is hier om te leer van politiek, dít wat ander ons nie kan vertel nie..."

Die gesprek dwaal na die politiek in die algemeen en almal gesels saam. Ons oom wend hom tot my skoonpa: "Ou Swaer, die skrif is aan die muur vir ons in hierdie land. Ek sê vir jou Botha en De Klerk het ons uitverkoop daardie jare al... ek sê jou dis klaarpraat met ons ou volkie... daar's nie hoop vir ons nie..."

"Nee alla wêreld, Oom, ons kan dinge verander! Ek sien Mike praat in sy boek van drie tydperke in ons geskiedenis en ses belangrike datums tussen die Boereoorlog en die ANC-magsoorname. Dis nou tyd dat ons na 'n vierde tyd beweeg. My man het my juis anderdag beduie van die boek wat hy gelees het waarin die skrywer reken dat die Weste alles sal moet herdefinieer. Die huidige religie(en ek weet oom verskil van ons daaroor, maar ons gaan nie nou daaroor stry nie), die sosiale orde, ekonomiese verhoudings, lewens- en wêreldbeskouing en veral die politieke voorstelle moet verander word."

Soos die kampies waardeur ons nou gery het, die datums as hekke... want kampies sonder hekke sal nie werk nie, besef ek skielik.

"Boonop dink ek dat almal uit die 'Boeremag' se foute kan leer. En behalwe dit, Oom - daar is altyd hoop," vervolg ek minder driftig.

Die oom luister egter nie meer na my nie, hy's nou goed op dreef oor die ou Nasionale Party, verraad en De Klerk en kie...

Ek staan op. "Ons sal die 'Boeremag' deursien, niks is ooit verniet nie," sê ek vir myself "dis net 'n hek in ons pad..." Ek stap in die stofpad weg van die huis af. Die Bosveld se stil geluide is lawend op my gemoed. Ek is bly ek het saamgekom. Langs die hek staan 'n groot hardekool. Daar staan 'n Afrikanerkoei langs die draad in die ander kamp. Ek strek my arms uit en meet op 'n afstand haar horingspan - van vingerpunt tot vingerpunt. Sy lig trots haar kop en stap weg. In Uys Krige se gedig van die plaashek, staan daar 'n kremetart, dink ek. Wyl ek by die hek sukkel om die draadlus oor die houtpaal te hak, is die gedig se laaste strofes deel van my oomblik:

Die stilte in my's volkome met niks troebels, niks verward.

Ek lig die knip... Ek maak 'n hek oop in my hart.


 http://praag.co.za/content/view/4893/403

Afwesig Attie

  • Bravoland Burger
  • *
  • Poste: 72
Insake: Uit my ("Boeremag-dagboek)
« Antwoord #1 op: May 20, 2009, 01:11:37 PM »
"Dr Theuns Botha het getuig dat hulle toestemming van Mbeki gehad het om die informante van die AWB te ondersoek, maar toe hulle by die 'Boermag' kom is daardie toestemming summier teruggetrek. Die doktor se plaas het toe ook afgebrand terwyl hy getuig het, ek kon nie help om te wonder of dit net so 'toevallig' was soos die tas met hofdokumente en aantekeninge wat uit beskuldigdes nommer een en twee se advokate se kar gesteel is nie. In die eerste jaar wat hulle in die tronk was, het Koos Venter in die Afrikaner 'n artikel geskrywe: "Boeremag of Intelligensie-Operasie," ek begin al hoe meer dink dat hy 'n punt beet gehad het."

Wak kan mens se na n standpunt soos die? Miskien baie, maar gaan dit help? Ek voel jammer vir almal wat ly a.g.v hierdie Operasie, ek glo vas hulle is uit gelok.
If history is anything to go by then the mystery of the Zimbabwe ruins is now quite obvious.

Sanderis

  • Gas
Insake: Uit my ("Boeremag-dagboek)
« Antwoord #2 op: May 20, 2009, 09:20:14 PM »


Die stilte in my's volkome met niks troebels, niks verward.

Ek lig die knip... Ek maak 'n hek oop in my hart.




Afwesig Ben Geldenhuys

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 7621
  • Verkenner
    • Verkenners
Re: Uit my ("Boeremag-dagboek)
« Antwoord #3 op: August 13, 2009, 04:31:51 PM »
http://praag.co.za/content/view/5451/386/

Meimaand en die Boeremagsaak
Geskryf deur Anita du Plessis
Donderdag, 13 Augustus 2009

Ná 'n reses van sewe weke het die Boeremagsaak op 11 Augustus 2009 in die Hooggeregshof, te Vermeulenstraat, Pretoria, hervat. Toevallig is dié datum die herdenking van die dag waarop die hofsaak oorspronklik sou begin het vir die eerste drie beskuldigdes - Mike du Toit, André du Toit en Rooikoos du Plessis - in die jaar 2002. Dit het egter nie gebeur nie omrede daar nog agt mans die voorafgaande paar dae gearresteer is en nog arrestasies sou volg.

Die saak sou eers op die 19de Mei 2003 begin, in die Paleis van Justisie op Kerkplein. Die eerste drie van die beskuldigdes was op daardie stadium reeds dertien maande in aanhouding. Die res - tussen nege en vier maande. Al die beskuldigdes staan nog steeds tereg op 42 klagte van onder meer hoogverraad, terrorisme, sabotasie, moord, poging tot moord en die onwettige besit van wapens en ammunisie.

'n Gestoei met die Regshulpraad veroorsaak egter dat die saak eintlik eers in Junie daardie jaar begin. Ses van die beskuldigdes pleit onskuldig op al die aanklagte. Dertien ander meen dat die staat geen jurisdiksie oor hulle het nie, aangesien hulle die huidige regering as onwettig beskou en hulle pleit vir eers nie. Twee ander, Dirk Hanekom en Fritz Naude, sou eers wag tot Augustus voordat hulle sou pleit, omdat hulle advokaat op daardie stadium nog nie opdrag van die Regshulpraad ontvang het nie.

Tom Vorster weier om te pleit, omdat sy grondwetlike regte "grof geskend" is nadat tronkbewaarders beslag gelê het op geprivilegeerde dokumente van hom waarin hy die basis van sy verweer uiteengesit het. Regter Jordaan teken 'n pleit van onskuldig vir hom aan.

Die vorige dag(18 Mei 2003) is Dawie Oosthuizen, een van die 23 beskuldigdes, tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Vier jaar van sy vonnis word opgeskort vir vyf jaar, nadat hy 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het. Hy is egter op 20 Desember 2005 op parool vrygelaat, nadat hy vir die staat getuig het.

Gedurende die eerste jaar van die saak word die aansoek oor die jurisdiksie van die staat gebring. Daar is ook 'n vooraansoek waarin die eerste drie beskuldigdes vra dat hulle saak van die res geskei moet word. Ook maak hulle drie beswaar dat hulle nie 'n regverdige verhoor te wagte kan wees nie, omrede die ondersoekspan op hulle verweer beslag gelê het tydens 'n visentering gedurende Oktober die vorige jaar, in die Lokaal-gevangenis, Pretoria.

Die eerste getuie vir die staat, JC Smit, 'n polisieinformant, handel sy getuienis gedurende die eerste jaar af.

Op 4 Mei 2004 begin die tweede getuie, Louwrens du Plessis, vir die staat getuig. Hy sou die eerste een wees wat saam met die ander toegesluit was, wat vir die staat as 204-getuie sou getuig.

Op die 14de hou 'n swart werklose man 'n eenmanbetoging voor die hof, vir die vrylating van die 22 beskuldigdes, met 'n plakkaat: "Ek het die wit man in my land nodig."

Gedurende die maand word 'n video van Siener van Rensburg die eerste keer in die hof vertoon.

Op die saak se eerste verjaarsdag, die 19de, spreek regter Eben Jordaan die hoop uit "dat daar nié nog baie meer gaan wees nie."

Teen die saak se tweede verjaarsdag, die 19de van die volgende jaar, 2005, het slegs agt van die staat se getuies getuig en kos die saak reeds R3-miljoen.

Op 3 Mei 2006 ontsnap Herman van Rooyen en Rudi Gouws uit die Hooggeregshof. Die saak staan eers af vir 'n grootskaalse soektog na die twee. Teen die 16de gelas die regter dat die saak in hul afwesigheid moet voortgaan. Hulle is 8 maande op vrye voet voordat hulle weer in hegtenis geneem word.

Die dag wat die saak sy derde verjaarsdag vier, op 19 Mei 2006, het 64 getuies vir die staat getuig.

Op die 16de Mei van die jaar 2007 sterf Herman Scheepers, beskuldigde nommer 5 op 52-jarige ouderdom aan 'n breinvirus. Hy is op die 19de, wat ook die vierde verjaardag van die saak was, te Piet Retief begrawe.

Snr. superintendent Louis Pretorius, wat die eerste staatsgetuie se hanteerder was, is op daardie tydstip die staat se 138ste getuie in die bank. Kort daarna staan die onkoste van die Regshulpraad op nagenoeg R11-miljoen en die oorkonde steek 28 000 blaaie verby.

Op 19 Mei 2008 is beskuldigde nr. 3, Rooikoos du Plessis in die bank. Tydens sy getuienis het die staat geëis dat sy vorige regsverteenwoordiger, me. Louisa van der Walt, moet onttrek, as gevolg van botsende belange met haar ander kliënt, André du Toit. Die regter gelas egter dat 'n ander regsverteenwoordiger namens haar André se kruisondervraging mag doen, en dus hoef sy nie te onttrek nie. Advokaat Piet Pistorius staan vir haar in. Hy is dan ook aan die woord op die saak se vyfde verjaarsdag en noem dit aan die regter, waarop dié 'n verbaasde "o" laat hoor het.

Die 19de Mei deser, is beskuldigde nr. 12, Dirk Hanekom, in die bank.

Die Regshulpraad het reeds meer as R20-miljoen aan die saak bestee. Die oorkonde is reeds meer as 38 000 bladsye lank. In die hof word gespot dat daar maar 'n partytjie gehou sal word op die saak se tiende verjaarsdag.

Aan die begin van die maand het Tom Vorster, beskuldigde nr. 11, geweier om verder te getuig, omdat sy regte voortdurend deur die saak geskend word. Hy voltooi egter sy getuienis, met voortdurende woordskermutselings tussen hom en die staatsadvokaat, Fick (SC).

Op die 31ste Mei erken beskuldigde 12, eers onder kruisondervraging, dat hy onder die skuilnaam Jan Brand 'n proklamasie van die "oorlogskabinet van die Suid-Afrikaanse Boererepubliek" onderteken het. Ook dat hy as militêre bevelvoerder sou optree vir die Boeremag wat beoog het om op 'n politieke en militêre vlak oorlog teen die regering te voer. Sy bekentenis laat 'n unieke situasie in die saak ontstaan. Die staat eis dat sy advokaat moet onttrek, weens 'n botsing van belange tussen hom en sy advokaat se tweede kliënt. 'n Etiese komitee word genader vir advies oor die aangeleentheid. Daar word besluit dat die advokaat, Antonie Viviers, ter verdediging van beskuldigde 12, Dirk Hanekom, sal aanbly. Sy ander kliënt, mnr. Fritz Naudé, wat reeds sy getuienis afgesluit het, se betoog sal later deur mnr. Paul Kruger, regsverteenwoordiger van vyf ander beskuldigdes, waargeneem word.

En so raak Meimaand(aan die begin van die winter) en nie Augustus nie (aan die einde van die winter) - dié herdenkingsmaand in die Boeremagsaak...

Afwesig Ankoren

  • Bravoland Burger
  • *
  • Poste: 104
    • Uit my ("Boeremag")-dagboek
Re: Uit my ("Boeremag-dagboek)
« Antwoord #4 op: August 23, 2009, 09:44:48 PM »
ʼn Uitsonderlike Vrouegalery

(  -  ʼn persoonlike perspektief)



By die uitgang van die Hooggeregshof gaan staan sy ʼn oomblik lank stil. Sy lyk verlate en hartseer, asof sy haarself verloor het. Of die jare hier, die groot bitter kol êrens diep binne-in haar, so versteen het, dat sy enige oomblik gaan verbrokkel. Die pilare van die hek weerskante van haar, omraam haar soos die raam van ʼn portret. Net soos die ander vroue betrokke in hof GD - waar die Boermagsaak homself afspeel - hang haar teenwoordigheid soos ʼn kunswerk, as deel van ʼn galery, aan die houtbeklede mure van die hof agter haar.

Hierdie uitstalling is beslis ʼn besoek, in die geestesoog, werd. Die tema daarvan is Politieke Gevangenisskap. Elke vrou het hier haar eie unieke voorstelling. Daar is egter ook verskeie kombinasies van die uitbeeldings - verweef as goeie hoedanig-hede en verweer teen die lewe - in elke vrou afsonderlik te vind.

Die galery kan in afdelings verdeel word. Ten eerste is daar die hoofuitstalling: diegene, wat, so gereeld as wat hulle verpligtinge en finansies dit toelaat, hier kom besoek aflê...

Reg in die middel is ʼn standbeeld - van middelmatige grootte - van ʼn Voortrekkervrou. Haar gesig is half verberg deur die kappie op haar kop. In haar hand klem sy die Bybel stewig vas. Niks keer egter die trane wat oor haar wange stroom nie - in kil graniet is hul verewig op haar gesig. Sy staan roerloos stil en daar ʼn vasberade trek om haar mond.

Teen die langste muur is ʼn groot skildery wat mens sterk herinner aan Picasso se Guernica. Die gesig in die middel lyk asof dit een is wat baie lag en gedurig praat, maar as mens verder kyk, sal jy merk dat die omringende gesigte heel verwronge is. In somber skakerings van  grys en swart skreeu die ‘viktimisasie van die onskuldiges’ (wat net so duidelik te siene is, as wat ʼn kritikus dit in die oorspronklike werk beskrywe het) teen die dakpanele vas.   

ʼn Dag-droom soos die een van Rosetti, is ʼn pragtig versorgde vrou - wie jy ook daar sal vind - met haar boek oop op haar skoot. Haar drome bring sy sonder vermoeienis in die vorm van berading aan haar medemens. Sy kan met vrymoedigheid aanbeveel word, want haar raad en begrip is uit persoonlike ervaring gebore.

Langsaan staan daar ʼn prent nageteken van G.F. Watts se Hoop, ʼn vrou alleen op die aardbol, geblinddoek, met die strewe om die laaste soet musieknote uit die gebroke lier in haar hande te haal.

ʼn Groot helderkleurige natuurtoneel, vol van Namakwaland se Blommeprag, soos die werk van Pieter Hugo Naudé, hang langsaan. Vars, soos na ʼn lentereën. Daar is aardse vrolikheid en opwinding wat wag, want eendag sal alles hier tot ʼn einde kom.

Volgende is ʼn sagte skildery wat na die Waterlelies van Manet trek. Broos en teer, met soveel kalmte en rustigheid. In dieselfde kleurskema, hang daar ʼn dromerige figuur van ʼn jong vrou, wat sterk herinner aan die skildery, Lente van Renoir. Sy is vol verwagting op die lente - ten spyte van die winter waarin sy haar tans bevind.

In die hoek is ʼn raam met oudtydse swier, die prent daar binne-in so klassiek soos Da Vinci se Mona Lisa. Die komposisie, hoewel effe afsydig, is sterk gebalanseerd en tydloos.

In skerp kontras daarmee is daar ʼn werk soos van Salvador Dahli se Persistence of Memory. Net ʼn kenner, met ʼn fyn oog, sal dit na waarde kan skat. Tog sal die lag om jou mondhoeke pluk, selfs al staan jy verstom oor jou eie onbegrip van die kompleksiteit van hierdie werklikheid.

As hul pa’s-se-jammer-liefdes kan mens die dogters van die beskuldigdes almal as temas op Sir Joshua Reynolds se Age of Innocence, teen die mure hang. Selfs al het hulle soveel groter geword sedert die saak se begin en al het sommige van hulle, hul kinderskoene ontgroei.

As onderafdeling van die hoofuitstalling is daar ʼn Moeder-en-Ouma-deel:
Die Seun in blou soos van Thomas Gainsborough trek dadelik mens se aandag. Met soveel moederliefde en deernis sal sy hom graag klein wou hou. Hy is egter so selfstandig en vol lewenskrag, dat jy verwag om haar bo hom in goedkeuring te sien glimlag.

Langsaan is ʼn Madonna  – soos dié een met die angelier van Leonardo Da Vinci – met haar hand koesterend na haar kind gehou.

Na Liberty guiding the people van Delacroix kan ʼn mens maar net in verwondering bly staar. Om haar vlag te laat sak sal meer verg as hierdie Vervolgingsgesag.

In opregte ou-wêreld se vertroue en ewige moederliefde is daar een in ʼn houtraam. Aan die bokant is blomme helder gekleur in die glas en onder in  ʼn halfmaan loer die teksvers in blink papiertjies deur: De Heere is mijn licht en mijn Heil. Ps. 27:1 
Stil in haar gryse ouderdom, skynbaar verwese, sit ʼn ouer dame, soos Whistler se Arrangement in Grey and Black,  Portret van die kunstenaar se moeder. ʼn Vaas van fyn porselein is kunstig vasgevang op die stillewe in die volgende skildery. Die patrone op die doek is met ʼn veerdun kwassie ingelas. Tekeninge wat lyk soos die  Vrou wat ‘n brief opskeur van Dirck Hals, met ʼn leë stoel agter haar, pas by die twee moeders wat weduweeskap moes aanvaar.

Daar is skoonmoeders van die gevangenes, wat hulle deur die jare - soos die Gleaners van Millet – gebesig het met die versorging van die fyner detail, in hul dogters se lewens. Met dieselfde ‘epiese grandeur’ waarmee kritici die oorspronklike skildery beskrywe het...

Sprekend van ʼn ouma se liefde: soos in Oppasser en kind  (die portret van Catharina Hooft van Frans Hals) sal jy op die kindergesiggies die lag kan sien van die sorg wat die volgende vrou gebring het. Ook hoe sy, haar kleinkinders onder die omstandighede, in die fynste kant geklee het.

In die gang hang daar een soos die Peasants’ Dance van Breughel, vol vrolikheid. Een wie haarself, met watter geleentheid ook al, uitbundig kom voeg by die wat gereeld daar pryk.

ʼn Kalm en rustige natuurtoneel, asof deur die meester John Constable op die doek vasgelê, beklee ʼn ere plek vir die vrou wat tot die dood haar kant gebring het.

Dan is daar die vaag uitgestalde groep. Diegene wat net halfpad deel is van die verrigtinge, wie se betrokkenheid vir eers die tronk gespaar is.

Laastens is daar die geslote deel van die galery. Die groep van wie nog net die illusie oor gebly het - diegene wat gekies om hul plekkies leeg te laat raak: Tretchikoff se Orgidee wat verspil op die kliptrappe lê.  ʼn Naïewe kinderprent wat jou aan die hart ruk. Een soos ʼn hersenskim - tot die naam het onleesbaar geword. ʼn Ander minder onduidelik maar tog ook wasig dof - geteken met oogwater uit ʼn egskeidingsbevel. Daar is ook die gesofistikeerde, realistiese een, wat gou-gou op haar eie weg gegaan het. Daar is die impressionistiese een - wat gedink het sy kon probeer. Dan is daar die leë plek, wat mens jou net kan verbeel dat die naamplaatjie nog die spasie teen die muur in bewaring hou.

Die plakkaat wat die uitstalling adverteer, lyk soos van Gogh se Gevange kamp. Dit is ook die hoofskildery. Die bindkrag - of dit nou bloot ʼn moontlikheid of reeds ʼn jarelange werklikheid is – wat die vroue hier vasgevang hou soos olie op ʼn doek.

Die versameling is so uiteenlopend van aard, dat geen kunshandelaar dit sou waag om daarmee te koop te loop nie. Ten spyte daarvan is die galery al jare lank reeds oop en die sluiting daarvan nog in die toekoms versluier.

Die musiek en klanke van hierdie uitstalling is ook uniek. Daar is gereelde gelag - soms vol vreugde en soms net skel – maar meestal, stille onbegrip. Soms ʼn asem-snak van verbystering oor wat werklik gebeur. Met geleentheid, rou snikke van intense seer. Tog, in weerwil daarvan ruis deur die brose leegheid, ʼn teer melodie van hoop... dat eendag wel sal kom!

Die raarste van die galery is dat die uitstallers letterlik self betaal – duur, met trane, smart en alleenbestaan.  Tog hang hul trou en trots teen die galery se muur - met hul enigste beloning - die hoop dat hul opoffering bewaar sal bly, as iets wat waarde had.

Afwesig Ankoren

  • Bravoland Burger
  • *
  • Poste: 104
    • Uit my ("Boeremag")-dagboek
Re: Uit my ("Boeremag-dagboek)
« Antwoord #5 op: May 19, 2010, 02:17:01 PM »
Vandag, 19 Mei 2010 is die Boeremagsaak se sewende verjaarsdag. Die hof het nie gesit vandag nie, maar gaan hopelik volgende Woensdag, die 26ste weer voort.

As dankie-sê spesiaal vir my Moeder, het ek die onderstaande Kantlynnotas vir Moedersdag op die web geplaas. Dit moet gelees word met verwysing na die vorige pos op hierdie draad. Die laaste paragraaf is egter ook as 'n dankie aan 'n elle lange lys mense in my lewe bedoel:

Baie Dankie aan al die Bravolanders wie se name op my ererol pryk!


Uit my ("Boeremag")-dagboek - Mei 2010

Kantlynnotas vir die Uitsonderlike Vrouegalery.

Ten einde ʼn besoek aan die Boeremagvroue-galery na waarde te skat, dien die volgende notas vermeld te word:

Die keuse om die vroue betrokke in die saak as ʼn galery voor te stel, is gemaak na aanleiding van Marcel Proust se siening: “It is only through art (and books) that we can escape from ourselves and know how another person sees a universe which is not the same as our own…”As Boeremag-vriendinne bespreek die vroue dikwels onder mekaar, dat hul in ʼn totaal ander wêreld lewe as hulle ander vriendinne. Om te deel in hierdie wêreld, wat vreemd is om te verduidelik aan iemand wat nie daarmee te doen het nie, is u genooi om hierdie galery in die kuberruimte te kom besoek.

Veral aan die begin van die hofsaak was hierdie vroue se doen en late in die media uitgestal kompleet soos ʼn skildery teen ʼn muur. Elkeen se grootste taak was en is nog steeds om haaks teen daardie muur te hang. Die wye wêreld, as ruimte van die galery, het vir haar – sonder hom aan haar sy – verdwaal-groot geword. Sy moes leer om die werklikheid van elke dag se bestaan en die eng twee-by-vier-ruimte waar haar maat gevange gehou word, (en sy noodwendig in gees saam vasgekeer is), te balanseer. Haar rol het skielik verander na die van versorger, deurdat haar en haar man se welstand daarvan begin af hang het of sy hierdie balans kon vind en behou.

Die Duitse digter Rilke se unieke siening van die huwelik dat twee eggenotes ‘beskermers van mekaar se afsondering’ moet wees, het in hierdie galery besonderse betekenis gekry. Elkeen van die vroue wat hier uitgestal is, word beoordeel na die wyse waarop sy, haar en haar lewensmaat se saamwees as enkeling voortdra. Sy leer ook van Rilke verstaan dat “gemeenskaplikheid net in die versterking van twee ‘naas mekaar bestaande eensaamhede’” tot ‘nie-besittende’ liefde kan lei. Na jare besef sy ook dat die uitbou van gemeenskaplikheid in die diepste sin, met afstand en afsondering bitter min te make het.

Hoewel sy dikwels teen haar eie onmag te staan kom, leer sy om in die liefde van ʼn man te skuil wat bereid was om alles vir sy volk te offer.

Delacroix het meestal sy inspirasie gevind in die digkuns. Hy kon homself vereenselwig met die passie en aspirasies van digters soos Dante, Shakespeare en Byron. Tog, het die emosie rondom werklike gebeure hom ook aangegryp en met die skildery, Liberty Guiding the People het hy die Julie Revolusie van 1830 uitgebeeld. Alles in die skildery is so werklik soos wat dit gebeur het, behalwe vir die allegoriese figuur van Marianne. ʼn Robuuste vrou, uit die gewone klas, wat nog steeds gesien word as die simbool van vryheid en rede.

In ʼn brief aan sy broer, het Delacroix geskrywe, dat selfs al het hy nie vir sy land geveg nie – hy tenminste daarvoor geteken het! Volgens oorlewering was sy uitbeelding van die Revolusie so sterk dat die Direkteur van die Skone Kunste gedurende 1831 die skildery gekoop het en dit met die gesigkant na die muur opgehang het! Die skildery word ook beskryf as ʼn fragment van die werklikheid en ʼn ideaal – ‘n tema sentraal in die univers van die vroue van die galery.

Die uitgestalde vrou moes haar ook losmaak van skindertonge en verwyte net soos die skilder Frans Hals. Met sy skildery van Catherina Hooft, (waar sy sit met die kind op haar skoot) het hy aan die wêreld bewys dat hy nie die dronkaard was soos algemeen aanvaar nie. Gerald Davies het jare na Hals se dood uitgewys dat slegs ʼn vaste hand die oorvloedige detail van kant so meesterlik sou kon teken soos op hierdie skildery en dat dit onmoontlik sou gewees het vir ʼn sestigjarige alkoholis.

Salvador Dali se gesmelte horlosies stel volgens sommige kritici die irrelevansie van tyd voor, maar hy moes verstaan het, wat die vroue van hierdie galery moeisaam moes leer … dat tyd rondom enige iets kan vou… dat dit vreeslik lank kan neem om ongelooflik vinnig verby te gaan. Gelukkig ook dat tyd ʼn genadegawe is wat mens naderhand net die goeie laat onthou en die slegte laat vergeet.

Rosetti is in verskillende fases van sy skilderwerk deur die ideaal van vrou-wees geïnspireer. Om dit uit te beeld het hy ten eerste sy suster, Christina en later sy vrou Eleanor as modelle gebruik. Na sy vrou dood was hy nie in staat om weer te werk nie. Na tien jaar waarin sy as konstante inspirasie vir hom gedien het, was hy verpletter, totdat hy die vrou van sy leerling William Morris ontdek het en as model van die laaste van hierdie drie fases gebruik het. Haar skoonheid het hom geïnspireer tot die mooiste van sy werke – Die Dag-droom. Vir elke vrou kan dit wees soos 'n droom wat waar word, om te weet dat sy as inspirasie vir iets moois en groots gedien het.

Meer as enige ander vrou staan hierdie vroue gereeld voor die raaisel van vrou-wees, daarom is die Mona Lisa sentraal geplaas in die galery. In 'n handboek van kunswaardering is daar geskrywe dat daar in die sagte gelaatstrekke van die Mona Lisa ʼn glimlag lê wat deur groot kunskritici geroem word as "die suiwerste beliggaming van die ewige raaiselagtige in die vrou.”

Die skryfster MER het ook haar antwoord op die raaisel van vrou-wees in ʼn skildery gevind – die Madonna van Raphael.

“ʼn Vrou se lewe is om bewys te wees van die noodsaaklikheid en die onmisbaarheid van Goedheid. Goedheid… is opregtheid, liefde, getrouheid by al die werksaamhede van die lewe. En in haar(Madonna) oë… is die uitdrukking van een wat al die feite en waarhede van die lewe onvervaard in die gesig kyk, wat vir geen kennis bang is nie, en wat oor alles kan oordeel uit die opregtheid, die getrouheid en die liefde wat daagliks werk in haar hart… Sy is… die verwesenliking van die mens se Moeder-ideaal. Sy is die ewig-vroulike, wat die mens ontwikkel en beskaaf. In haar is al die eenvoud van alle eenvoudige getroue vroue, al die wysheid van alle verstandige ervare vroue, al die kennis van alle geleerde vroue, al die fynheid van alle fynbeskaafde vroue, almal se strewe opwaarts, van watter aard ook, is in haar verenig” (Aangehaal uit die boek van Jaap Steyn, Die honderd jaar van MER.)


Millet se Gleaners, is in die negentiende eeu met gemengde gevoelens ontvang. Die sosialistiese, realistiese kommentaar wat dit gelewer het, was een te veel vir die kunswêreld. Dit het skerp vrae gevra. Volgens sommige kritici is party nog steeds vandag relevant in politieke kuns. Is dit geregverdig om aan mense wat so ʼn minderwaardige taak verrig – soos om koringare op te tel na die oes – groter menswaardigheid toe te ken? Kan die verrigting van so ʼn alledaagse taak, ʼn persoon as individu laat uitstaan bo ander? Kan brutaliteit deur die prag van kuns versag word? Verdien die alledaagse om na die mistieke verhef te word?


Tog het die skildery die grootste ‘gleaner’ van alle tye – die Bybelse figuur Rut – in herinnering geroep en is dit bekend as die kunstenaar se meesterwerk. Hierdie skildery is vir die moeders van die vroue opgehang. Die vroue wat getrou gaan waar hul dogters moet gaan. Wat ook gereeld kom kuier en alles – wat in die haas van die oes sorgeloos bly lê het – bymekaar maak. Daar kan met reg gesê word dat hierdie die waardevolste skildery in die hele galery is.

'n Item wat 'n groot rol in die vroue se lewens speel en na vele oorweging nie in die galery opgehang is nie; is 'n spieël. Net soos die dramaturg Deon Opperman by monde van sy karakter, Sarie Marais, ʼn lewensmaat uitbeeld as ʼn spieël waarin jy na jouself moet kyk – is die glas in die besoekhokkie voor die tralies, die dubbel-spieël waarvoor die vrou van ʼn politieke gevangene gereeld gaan staan. Die moed om te kyk ontbreek haar soms… daarom gaan staan sy eerder voor hierdie mooi uitgestalde skilderye waar sy inspirasie kan vind en met grasie kan vergestalt wat die Engelse noem: ‘to endure…’

Hierdie galery sou egter nooit sinvol kon bestaan as dit nie vir die besoekers was nie. Vreemdelinge, vriende en familie wat deur die jare steeds hul bystand aan die vroue bied, finansieel sowel as emosioneel. Mense wat deur hul woorde en dade, die swaarkry deel, help om kinders deur Universiteit te kry, motors padwaardig hou, politieke ideale lewend hou en gereeld moed inpraat. Mense wat die vroue soms ʼn honderdrandnoot of meer in die hand stop – gewoonlik op ʼn tydstip wanneer dit dringend nodig is. Mense wat so konstant en ruim bydra dat hulle name met verdienste op ʼn ererol by die ingang aangebring kan word.

My innige dank aan almal, besoekers en ook lesers wat die tyd afgestaan het om die galery te besoek, op welke manier ook al. Dit is wat die galery laat voort bestaan, wat keer dat die stof en spinnerakke van moedverloor die vroue oorval.


Share me

Digg  Facebook  SlashDot  Delicious  Technorati  Twitter  Google  Yahoo

 


* Nuwe Inskrywings


SA Topsites



SA Topsites :: .

SimplePortal 2.3.3 © 2008-2010, SimplePortal