Kaapstad-’n Babelse verwarring heers in onderwyskringe oor of uitkomsgebaseerde onderwys (UGO) laat vaar is of nie.
Nadat Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, eergister in die parlement aangekondig het dat daar nie meer UGO is nie, het sy gister teruggekrabbel en ontken dat die stelsel heeltemal uitgefaseer gaan word.
Haar jongste verklaring is dat daar weggedoen word met “die manier waarop baie dinge in UGO gedoen is”, maar “daar is geen beleidsveranderinge” nie. Daar word bloot teruggekeer na hoe baie dinge in die verlede gedoen is.
Onderwyskenners, onderwysers en skoolhoofde het gemengde gevoelens oor Motshekga se aanvanklike aankondiging dat UGO tot die verlede behoort.
Graeme Bloch, onderwysontleder by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsbank en voorheen ’n voorstander van UGO, het Motshekga geloof vir haar besluit om ’n einde aan dié stelsel te maak. Volgens hom was die resultate en implementering van UGO swak, veral in literatuur en wiskunde.
Volgens prof. Arend Carl, vise-dekaan van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, is die idee van UGO baie edel. “Daar is egter oormatige klem op assessering geplaas. Dit is goed dat nugter denke nou aangewend is en dat die departement probleme in die onderwysstelsel kon identifiseer en oplos.”
Hoewel skoolhoofde oor die algemeen bly is dat onderwysers se administratiewe take verminder gaan word, is hulle ook bekommerd oor die aankondiging.
Mary Banda, hoof van die Senior Sekondêre Skool Klein Nederburg in die Paarl, het gesê sy het goeie resultate met UGO behaal. “Dit het kinders geleer om krities te luister, te leer en te interpreteer.”
Müller Retief, hoof van die Hoërskool Bredasdorp, het gesê dit is goeie nuus dat UGO vervang gaan word, maar dit is frustrerend dat die kurrikulum weer gaan verander. “Nie alles van UGO was sleg nie, maar ek dink kinders sal bly wees om eerder op hul studie te fokus as die tientalle take en projekte wat UGO vereis.”
Riyaadh Najaar van die Hoërskool Spine Road in Mitchells Plain het gesê hy is skepties oor die verandering van die kurrikulum. “Daar was sekere dinge van UGO wat gewerk het. Ek sal graag wil weet presies wat hulle vir die toekoms beoog.”
Motshekga het nog nie ’n vaste tydsraamwerk vir die inwerkingstelling van al die wysigings aan die leerplan aangekondig nie.
Sy het wel gesê die eerste wysigings aan die leerplan sal reeds aanstaande jaar geïmplementeer word. Dit sluit in:
- dat alle leerders van gr.4 tot gr.12 voortaan hul eie handboeke vir elke vak sal ontvang;
- ’n terugkeer na die basiese beginsels van leer en onderrig soos reken, lees en skryf – veral in die grondslagfase; en
- jaarlikse assesserings van gr.3-, gr.6- en gr.9-leerders in wiskunde, eerste taal en eerste bykomende taal om vas te stel of kinders se taal- en syfervaardighede op peil is.
Veranderinge aan die leerplan wat meer noukeurige beplanning verg, sal oor ’n langer tydperk geïmplementeer word.
http://www.nuus24.com/Content/Suid-Afrika/Nuus/1479/5203d25027a04c64a0c748c790df85a2/07-11-2009-06-21/Verwarring_oor_onderwys