Gerhard Pretorius
Die vernietiging van nog ’n kulturele landmerk in Pretoria gryp aan Afrikanerharte.
Die Doors Erasmus-murasies in die noorde van Pretoria is op 12 November gesloop en daar is onsekerheid oor wie verantwoordelik is.
“Hierdie geskiedkundige landmerk tussen die Paul Krugerstraat-verlenging en die Apiesrivier is binne ’n uur platgestoot,” sê raadslid Danie Erasmus.
Volgens rdl Ben Wannenburg is dit onduidelik wie hierdie sloping gereël het en ook hoe wettig die sloping was.
Dr Robert de Jong, ’n erfeniskonsultant, sê Wet 25 van 1999 van die Nasionale Erfenis en Hulpbronwet stipuleer dat enige gebou ouer as sestig jaar ’n permit vereis as daar veranderinge aangebring word of as die gebou vernietig sou word.
Een van die eerste Voortrekkers, Doors Erasmus het hom in Pretoria gevestig en dié huis in 1855 gebou.
Doors Erasmus was die eerste eienaar van die plaas Wonderboom waar daar huise, skure en selfs ’n klein skool gebou is.
Dit is dié murasies wat voor die sogenaamde onwettige slopings geswig het.
Hierdie grond is verlede jaar deur ’n privaatmaatskappy oorgekoop.
Hulle was in die proses om studies oor die opgradering en implementering van dié kulturele erfenis as ’n monument van die Afrikaanse geskiedenis te doen.
“Voertuie van die Tshwane-metro was op die toneel en hard besig met die sloping van die ou murasies.
“Hulle het reeds Donderdag begin sloop en op 13 November was daar verteenwoordigers van die gemeenskap en die privaatmaatskappy daar om die sloping stop te sit.”
“Alles is egter nie vernietig nie. Daar is een gebou se mure wat nog staan en die grafte van Doors Erasmus en sy seun Stephanus Petrus, wat binne die varkhok herbegrawe is, is onaangeraak,” sê ’n verteenwoordiger van die privaatmaatskappy.
“Die planne is gelukkig goed gedokumenteer en daar is ’n goeie moontlikheid om ’n akkurate rekonstruksie van die geboue na te boots,” se dr De Jong.
Die metro is genader maar het teen druktyd nog nie kommentaar gelewer nie.
http://www.rekord.co.za/story.aspx?lan=Afr&sid=37842