________________________________
ANC moet voor eie deur vee
Deur ISABEL STOLTZ
Dit is hartseer dat die ANC met propagandistiese uitsprake spanning aanblaas op plase terwyl hyself nou verder weg is van voedsel- en verblyfsekerheid en eiendomsregte as 16 jaar gelede, sê mnr. Marinus Blignault, voorsitter van die provinsiale arbeidskomitee van die TLU SA Noord [1].
Blignault het die ANC oor die kole gehaal oor die verklaring van sy nasionale uitvoerende komitee by die viering van die party se 98ste bestaansjaar dat plaaswerkers steeds van die mees uitgebuite burgers in die land is.
“Die ANC moet eerder konsentreer op die werklose massas en ontoereikende onderwysstelsel [2]en in gedagte hou dat plaaswerkers van die min mense op die platteland is wat werk het en gratis opleiding deur samewerking tussen georganiseerde landbou en die AgriSETA kry.”
Was dit nie vir die Regering se onbuigsame arbeidswette nie sou meer daarby kon baat, sê hy.
Die ANC moet ook in gedagte hou dat die voormalige tuislande van Venda, KwaZulu-Natal, Transkei en Ciskei 13% van die vrugbaarste landbougrond in Suid-Afrika het wat tot voedselsekerheid kan bydra.
“Ek hoop die Regering sal programme aan die gang kry om dit te verseker. Uitlokkende verklarings gaan dit nie regkry nie,” sê hy.
13 Januarie 2010
nuus artikel
________________________________
Source URL (retrieved on 13 Jan 2010 - 09:08):
http://www.landbou.com/nuus/nuus-artikel/anc-moet-voor-eie-deur-veeLinks:
[1]
http://www.tlu.co.za/index.php?option=com_content&view=frontpage&Itemid=1[2]
http://www.landbou.com/bedrywe/bedryfsake/bedryfsnuus/landbouskole-vaar-goed