Majuba doen iets aan mens. Miskien nie alle mense nie, maar verseker vryheidsgesinde volksgenote. Hierdie jaar was my ondervinding ook nie anders gewees nie en ek was bevoorreg genoeg om reeds die Donderdag op Majuba aan te kom.

Ek, Jan Beyers en Henk van de Graaf het die Donderdagaand besoek gaan afle by die Natal se Verkenners en ek was beindruk met hulle. Nie net is hulle op hoogte van die aksies in die volk nie, maar hulle neem ook deel daaraan en lewer uitstekende bydraes. So bv is hulle hard besig met VVK registrasies, in die proses om 'n Oranje Sakekamer te stig en besig om die hele Natal se inligting vir Projek2010 bymekaar te maak. Hulle is ook besig met verskeie aksies in hulle gebied op uiters profesionele manier.
Na die vergadering het ons op sosiale basis met die manne gesels en ek het hulle as aangenaam en gasvry ervaar.
Vrydag het die motors, woonwaens, tente en busse by Majuba begin opdaag. Die groot kamp opslaan het begin en mens kon die opgewondenheid tasbaar aanvoel. Mense op perde het in die pad gery en kinders het orals rond gespeel. Teen skemeraand het die geur van braaivleis vure ook in die lug gehang wat die atmosfeer net nog meer lieflik gemaak het.
Oudergewoonte het die kinders die Vrydagaand weer die fakkelloop aangepak teen die berg op. Ek moet byvoeg dat talle kinders teen die tyd wat die fakkelloop begin het, reeds een of twee keer reeds die berg op was. Voor die fakkelloops was dit natuurlik die gebruiklike opening in die saal, met die feesboodskap van die voorsitter en die welkomboodskap van die organiseerders van Majuba 2010, die AKB. Daar was ook 'n gaskunstenaar wat goeie Afrikaanse musiek gemaak het. Die kinders was egter ongeduldig om teen die berg op te gaan en kort voor lank het hulle dit dan ook gedoen.
Die Saterdagmore was daar oudergewoonte die opening en vlagseremonie.
Hierdie jaar het een van die Verkenners, Abel Malan, ook 'n historiese vertelling oor Majuba gedoen uit die oogpunt van CR de Wet.

Ruan Combrink het ook die feesgangers ingelig dat daar hierdie jaar koeldrank op die berg verkoop sal word deur die Verkenners jeug van Pretoria. Dit is om fondse te in vir 'n beplande werksvakansie op Majuba in Desember. Die gedagte is blykbaar om in Desember Majuba te besoek en opknapwerk te doen. Nietemin, hulle is goed ondersteun en al die koeldrank is verkoop.
Oom Hendrik van Blerk was ook by Majuba en het sy nuwe boek bekend gestel. Nie sleg vir 'n man van sy jare nie.

Die mooiste kampplek was verseker die van die GHA en dit is prysenswaardig dat hulle elke jaar soveel kinders na Majuba neem.
Die res van die dag was lekker feestelik en vir die eerste keer was daar ook "Majubabier" te koop. Nogal heel lekker.
Die VVK se stalletjie was ook lekekr besig en ek verneem dat die registrasies in stroom. Duidelik is die volk lus vir die volksverkiesing.
Die aand was daar oudergewoonte 'n Cantus en hierdie jaar se Cantus was werklik stukke beter as verlede jaar.
Sondagmore se diens was soos alle dienste op Majuba, besielend. Daar is iets aan Majuba wat selfs die kerkdiens iets besonders maak.
O ja, aan almal wat nie daar was nie. Die weer was wonderlik. 'n ligte motreen so dan en wan is die naaste aan reen oor die hele naweek.