Skrywer Onderwerp: Agri SA Landelike Misdaadkonferensie verklaring  (Read 914 times)

0 Lede en 1 Gas bekyk die onderwerp.

Afwesig André Strydom

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 2144
Agri SA Landelike Misdaadkonferensie verklaring
« op: March 09, 2010, 06:00:46 PM »

8 Maart 2010

Agri SA Landelike Misdaadkonferensie verklaring

Minister Nathi Mthtethwa, Minister van Polisie het vandag by Agri SA se Landelike
Misdaadkonferensie die erns van die voortslepende voorvalle van geweld en moorde
teen die landelike gemeenskap, veral die boerderygemeenskap, uitgelig en veroordeel.
Hy het verder gesê dat die polisie saam met alle belanghebbendes ‘n omvattende
strategie moet ontwikkel om landelike veiligheid te verseker. Voorts het hy ook
erkenning gegee dat die boerderygemeenskap ‘n belangrike bate vir die land en vir
voedselsekerheid is.

Die hoë voorkoms van geweld en ‘n gebrek aan respek vir lewe en privaat eiendom in
Suid-Afrika is ‘n vraagstuk wat negatief inwerk op gemeenskapsveiligheid, stabiliteit,
vertroue en ontwikkeling. Dié probleem manifisteer homself in misdaad met ‘n hoë
voorkoms van brutaliteit en trauma waarvan die motiewe dikwels bevraagteken word.
Die voorkoms van plaasaanvalle en algemene misdadigheid is slegs enkele van die
bedreigings wat ‘n nadelige effek op individuele veiligheid en die produksievermoë van
die Suid-Afrikaanse Landbou het. Sonder ‘n veilige en vooruitstrewende landbousektor
is voedselsekuriteit en landelike stabiliteit in Suid-Afrika nie gewaarborg nie. Die
boeregemeenskap se reg tot veiligheid, is een van die belangrikste regte van die land
se demokratiese bestel, wat deur misdaad aangetas word.

Sedert die Spitsberaad oor Plattelandse Veiligheid en Sekuriteit wat op 10 Oktober
1998 gehou is, is verskeie beleidsveranderinge oor die hantering van landelike
veiligheid aanvaar. Die Misdaadkonferensie het ten doel om konsensus te bereik oor
toekomstige prosesse en beleid om landelike veiligheid te hanteer sowel as die
versterking van bestaande strategië. Die Konferensie se besluite is soos volg:

1. Agri SA ondersteun die oppergesag van die reg as voorwaarde vir ‘n billike en
regverdige samelewing. Die sinnelose vlaag moorde, brutaliteit en algemene
misdadigheid wat die veiligheid en produksievermoë van die landbougemeenskap
bedreig, word veroordeel. Agri SA verwag van die regering om met sy handelinge
en uitsprake tot op die hoogste vlak hierdie verskynsel, veral soos dit die landbou
raak, te veroordeel.

2. Die oorsake van aanvalle en ander misdade gerig op die boerderygemeenskap is
kompleks en bestaan uit vele fasette waarvan die minste is, die kwesbaarheid van
die boerderygemeenskap. Soos die geval met misdaad in Suid-Afrika sluit hierdie
bydraende faktore soos ‘n kultuur van geweld en strafontwyking, onbevoegde
polisiebeamptes, minagting van wetgewing, sosio-ekonomiese probleme,
werkloosheid en armoede in plattelandse en stedelike gebiede in. ‘n
Veiligheidsbenadering alleen kan nie die misdaadprobleem in die langtermyn oplos
nie. Agri SA verwag van die Regering om ‘n geïntegreerde misdaadvoorkoming-en
bestuursplan te implementeer wat alle staatsdepartemente insluit, waardeur
misdaadbekamping effektief op ‘n gekoördineerde wyse op alle regeringsvlakke
bestuur kan word. Dit sluit ‘n stroombelynde kriminele strafregstelsel in.

3. Die polisie en die regering het die verantwoordelikheid in terme van die Grondwet
om misdaad te voorkom, te bestry en te ondersoek, die openbare orde te handhaaf,
die inwoners van die Republiek en hulle eiendom te beskerm en te beveilig, en die
reg te handhaaf en toe te pas. ‘n Toereikend opgeleide, bekwame, nie rassistiese en
verantwoordelike polisiemag moet tot stand gebring word om sonder vooroordele
hieraan uitvoering te gee. Doelgerige optrede is nodig om korrupte elemente in die
polisiemag uit te skakel en ‘n bevredigende vlak van dienslewering te handhaaf.
Polisielede wat hulle verantwoordelikheid ontduik, hulle skuldig maak aan kriminele
oortredings en wederregtelik teen die landbougemeenskap optree moet tot
verantwoording geroep word.

4. Dit het algemene gebruik geword om veral die kommersiële boeregemeenskap
verkeerdelik te beskuldig van ongewenste menseregte praktyke, onbillike
arbeidspraktyke, onwettige plaasuitsettings en vele meer. Uitsprake met sterk
rassistiese ondertone wat geweld of haat teen kommersiële landbou aanmoedig,
kan ‘n klimaat skep wat bevorderlik is vir vergelding, gemik teen die
boerderygemeenskap en hou ‘n veiligheidsbedryging in. Beweerde haatspraak en
opswepende uitsprake in watter vorm en uit watter oord ookal sal nie verdra word
nie en Agri SA sal die nodige stappe neem teen diegene wat hulle skuldig maak
daaraan.

5. Om aanvalle en misdadigheid op die boerderygemeenskap aan bande te lê is
doeltreffende wetstoepassing van onmiddellike belang. Agri SA aanvaar die
Landelike Beveiligingstrategie, ondersteun deur die beleid vir sektorpolisiëring en
reserviste as toereikende beleid en strategië om landelike misdaad te bekamp. Agri
SA verwag van die polisiemag om toe te sien dat stasiebevelvoerders hierdie
strategieë en beleid konsekwent moet toepas en uitvoer soos wat van hulle vereis
word.
Die landelike gemeenskap het ‘n besondere behoefte aan ‘n effektief
geïmplementeerde sektorpolisiëringstelsel waarvoor toereikende mannekrag en
toerusting beskikbaar is. Die bedeling vir reserviste moet dit vir gewilliges in die
boerderygemeenskap moontlik maak om in ‘n groter mate binne sy eie sektor as wat
tans die geval is, by die polisiemag in te skakel. Alle legitieme inisiatiewe deur die
boerderygemeenskap wat daarop gerig is om hulle te beskerm moet geïnkorporeer
word binne beleid.

6. Privaatinisiatiewe deur die boerderygemeenskap, binne die wettige raamwerk, en in
samewerking met die polisiemag word erken. In dié verband word die finansiële
bydrae deur die Agri Securitas Trustfonds verwelkom wat dit moontlik maak om
aanvullende hulpmiddels te bekom en by te dra tot meer doeltreffende misdaad
bekamping. Die bydraes wat die Agri Securitas Trustfonds lewer om persepsies en
gedrag te beïnvloed kan bydra tot die daarstel van ‘n meer veilige landelike
omgewing, word erken.

7. Veediefstal het ‘n negatiewe uitwerking op die winsgewendheid van kommersiële
veeboere en veral so ook op opkomende boere wat tydens ‘n voorval hulle totale
kudde kan verloor. Dit het ‘n negatiewe effek op die suksesvolle afhandeling van die
grondhervormingsproses en om opkomende boere te bemagtig. Ondersteuning aan
opkomende boere met die merk van hulle vee deur die Departement van Landbou,
Bosbou en Vissery moet oorweeg word.
Waardering bestaan vir die behoud van die spesialis veediefstaleenhede wat nie
gesluit is nie. Vakante poste binne die eenhede moet gevul word en permanente
opleidingskapasiteit moet geskep word vir die opleiding van lede en ook
staatsaanklaers. Lede van veediefstaleenhede wat uitsonderlike diens verrig behoort
op ‘n insentiefbasis erkenning te ontvang. Mobiele reaksie-eenhede moet deur die
polisiemag daar gestel word om vinnig operasies te loods. Swaarder strawwe deur
wetgewing moet geïmplementeer word en die proses van borg en parool vir
veediewe moet strenger toegepas word. Die finalisering van die skutwet is ‘n
prioriteit.

8. Dit word van die Regering verwag om homself te verbind tot volgehoue verbetering,
insluitende genoegsame befondsing en die harmoniëring in die werking en die
funksionering van agentskappe van die kriminele strafregstelsel om te dien as ‘n
doeltreffende afskrikmiddel vir misdaad. In besonder moet die uitroeiing van
korrupsie prioriteit aandag geniet en persone wat daaraan skuldig bevind word se
dienste moet beëindig word.

9. Die polisiemag moet voortgaan om rekord te hou van alle misdaadinsidente wat in
boerderygebiede plaasvind, dit ontleed om tendense te bepaal en dié inligting
kwartaalliks beskikbaar stel. Lede van die boerderygemeenskap moet alle
misdaadinsidente op plase en kleinhoewes aan die polisie rapporteer sodat die
werklike omvang van die probleem voortdurend bepaal en ontleed kan word. Hierdie
inligting is ook nodig om die regte hulpbrontoekennings volgens misdaadtendense
by die plaaslike polisiestasie te kan allokeer.

10. Die streng en konsekwente handhawing van die integriteit van Suid-Afrika se
grenslyne is van belang, vir handel, siektebeheer, veiligheid, misdaadbekamping,
onwettige instroming asook vir die noodsaak daarvan dat grondeienaars se
gebruiksreg van eiendom behoorlik beskerm moet word teen oorgrens inmenging en
misdaad. Leemtes om dié integriteit te handhaaf moet onmiddellik en deurlopend
deur die regering reggestel word sonder om die landbougemeenskap met duur en
uitgerekte regsprosesse te frustreer.

11. Om onwettige betreding op plase te voorkom en te verhoed sal die plaasprotokol
voortaan strenger deur die boerderygemeenskap toegepas moet word as ‘n verdere
maatreël om die gemeenskap te beskerm teen misdaad en ongeoorloofde betreding
van privaat eiendom. Die reg van staatsdepartemente om binne hulle wetlike
bevoegdheid plase te betree word erken. Persone wat hulle skuldig maak aan
betreding moet onverwyld deur grondeienaars aangekla word.

Uitgereik deur Agri SA Korporatiewe Skakeling

Navrae
Mnr André Botha, Voorsitter Agri SA Landelike Veiligheidskomitee 083 629 5685
Mnr Hans van der Merwe, Agri SA Uitvoerende Direkteur, 082 388 0001
Ons Sal!!!

Afwesig Hektor

  • Besoeker
  • *
  • Poste: 123
Re: Agri SA Landelike Misdaadkonferensie verklaring
« Antwoord #1 op: March 09, 2010, 09:36:12 PM »
Nou wonder ek oor plaasaanvalle.

Sou dit 'n probleem gewees het onder die ou bedeling of dalk in 'n Volkstaat?
Dis die vraag wat gevra moet word.

Afwesig Adri van Staden

  • Bravoland Burger
  • *
  • Poste: 1481
Re: Agri SA Landelike Misdaadkonferensie verklaring
« Antwoord #2 op: March 10, 2010, 07:40:31 AM »
Radio Pretoria se nuuskommentaar handel vandag oor hierdie saak. Baie geldige vrae word gevra, maar ek twyfel of die antwoorde ooit gekry sal word, want die ghawwermint is nie juis bekend daarvoor dat hulle ons vrae beantwoord nie.
... verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart - Ps. 37:4.


Share me

Digg  Facebook  SlashDot  Delicious  Technorati  Twitter  Google  Yahoo

 


* Nuwe Inskrywings


SA Topsites



SA Topsites :: .

SimplePortal 2.3.3 © 2008-2010, SimplePortal