Media Verklaring
28 April 2010
Die Voortrekkermonument is tans besig met wat hulle beskryf as 'n omvattende oudit. Een van die aspekte, is 'n emmosionele oudit wat met behulp van 'n vraelys gedoen word wat genoem word 'n quo vadis vraelys.
Op die webwerf van die Voortrekkermonument is die vraelys beskikbaar en daar is ook op hierdie webwerf 'n verduideliking van die doel van hierdie vraelys. In die agtergrondinligting word verduidelik en ek haal aan: "Gegewe die finansiële omstandighede moet daar onder andere bepaal word wat die wenslikheid al dan nie daarvan is om hierdie instellings as nasionaal verklaarde instellings te laat registreer."
Ter verduideliking van wat 'n verklaarde instelling is, word die volgende aangebied: In die eenvoudigste moontlike terme is 'n verklaarde kulturele instelling (hierna net na verwys as "verklaarde instelling"), 'n instansie wat aan die staat behoort. Dit word 100% deur die staat befonds en hoewel ander fondsinsamelings-projekte gehou kan word, word die totale begroting besonder streng beheer en is die 'Public Finances Management Act - (PFMA)" 100% van toepassing. Met die ander funksies van so 'n instelling word nie ingemeng nie, maar aspekte soos swart ekonomiese bemagtiging ("BEE"), voorsieningsbestuur ("supply chain management"), aankope is 100% van toepassing.
Vir menigte volksgenote is dit totaal onaanvaarbaar dat daar enigsins gedink kan word om die Voortrekkermonument in 'n verklaarde instelling te verander, veral omdat die bestuur deeglik bewus is van die gevolge van so skuif. Gevolglik het talle besorgde volksgenote ander volksgenote aangemoedig om die vraelys in te vul. ds. Coen Janse van Rensburg van Natal het ook die APK lidmate versoek om hierdie vraelys in te vul en het die volgende motivering daarvoor gegee: "Ek sluit hierby in 'n vraelys wat gaan bepaal wat met die Voortrekkermonument in Pretoria gaan gebeur. Die betrokkenes tans by die monument wil dit aan 'n swart bemagtigings organisasie "verkoop". Die volgende een is glo Bloedrivier."
Hierdie boodskap is ook op die voorblad van die APK se webwerf geplaas.
Let asb dat die woord "verkoop" in aanhalingstekens is. Enige iemand met 'n basiese begrip van skryf en leestekens, sal weet wat bedoel word wanneer 'n woord in aanhalingstekens geskryf word, binne die sin wat ds. Coen dit geskryf het. Enige iemand behalwe Gert Opperman.....
My e-pos is vandag bevuil met 'n e-pos wat oorspronklik van Gert Opperman afgekom het waarin hy nie net in die karakter van ds. Coen klim nie, maar waar hy ook ds. Coen as leuenaar verklaar.
Sy e-pos lui as volg na hy die boodskap op die APK webwerf aangehaal het:
"As dit bloot was dat ds van Rensburg van die AP Kerk Newcastle nie ingelig was nie, kon ’n mens dalk nog probeer het om hom sy onkunde te vergewe. Hy, as predikant, behoort egter te weet dat baie mense hom as geloofwaardig sal beskou en sal glo dat sy uitsprake sekerlik vooraf bevestig is en die toets van waarheid en billikheid behoort te kan deurstaan. Dieselfde geld natuurlik vir u tuisblad as amptelike mondstuk van die AP Kerk. Helaas!
Graag word bevestig dat die bewering oor die voorneme om die monument “aan ’n swart bemagtigingsorganisasie te verkoop”, ‘n volslae leuen is, asook die suggestie dat Bloedrivier volgende sou wees. ’n Mens kan nie anders as om ds van Rensburg se eerlikheid, objektiwiteit en kwaadgesinde klimaatskepping ernstig te bevraagteken nie. As dit is hoe hy navorsing doen en “feite” voor verkondiging daarvan bevestig, sal ek persoonlik dit moeilik vind om ooit ernstig te luister na enige boodskap wat hy uit die Bybel verkondig, maar gelukkig is ek nie ’n lid van sy gemeente nie.
Graag word drie afskrifte van sake wat onlangs wyd in die media gerapporteer is, vir u insae hierby aangeheg. Dit word vertrou dat u dieselfde prominensie daaraan sal gee op u tuisblad as wat u aan ds van Rensburg se onwaarhede en onwaardighede gegee het. As minimum behoort u onverwyld die feite reg te stel en om verskoning te vra, in belang van u eie beeld en geloofweardigheid as die AP Kerk se Direkteur van Kerkadministrasie.
Die uwe
Gert Opperman"
Na aanleiding van Gert Opperman se onvermoeë om te lees en te verstaan wat op die webwerf van die Voortrekkermonument geskryf staan en ook weens sy onvermoeë om te verstaan wat beteken 'n woord wat in aanhaalingstekens geskryf staan, sal die Verkenners Beweging van Suid-Afrika die CVO skool in Pretoria versoek en betaal sodat Gert Opperman 'n paar Afrikaanse lesse saam met die graad 3 klas kan bywoon. Dit is immers belangrik dat 'n man wat die posisie van hoof uitvoerende beampte beklee by die Voortrekkermonument, nie homself en by implikasie die Voortrekkermonument, belaglik maak, bloot omdat hy nie basiese leesvaardighede het nie. Ons hoop en vertrou dat Gert Opperman na hy hierdie vaardighede aangeleer het, sal verstaan wat geskryf staan op die Voortrekkermonument se webwerf en ook verstaan wat ds. Coen geskryf het. Verder dring ons daarop aan dat Gert Opperman die eerbare ding sal doen en ds. Coen verskoning vra vir die kwaadwillige ongegronde beledigings.
Die uwe,
Ben Geldenhuys
President
Verkenners Beweging van Suid-Afrika
Ns. Ek hoop nie hier is te veel groot woorde in hierdie skrywe nie en dat Gert Opperman die inhoud hiervan sal verstaan. Dit het my opgeval dat Mnr. Opperman “VTM” skryf wanneer hy na die Voortrekkermonument verwys, ek neem aan “Voortrekkermonument” is een van daardie groot woorde waarmee hy sukkel en sal ek die CVO skool in Pretoria vra om hom tog te help om hierdie groot woord te leer skryf.