Skrywer Onderwerp: Mariette Nel benodig hulp  (Read 1098 times)

0 Lede en 1 Gas bekyk die onderwerp.

Afwesig Werner Smook

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 1112
  • Verkenner
Mariette Nel benodig hulp
« op: August 16, 2010, 02:57:20 PM »
Kakebeen weggeskiet vir R300


DIE vrou met die geskende gesig kyk sonder woorde om haar rond. Die varkhokke is leeg, die bokkraal verlate. Daar is nie beeste wat op pad na die suiping bulk en stoot soos vroeër nog nie, voor ’n enkele haelgeweerskoot alles kom verander het.

Al die gewone plaasdinge hier op Mathafeni buite Ladysmith in KwaZulu-Natal het op daardie dag in 2002 tot stilstand gekom. Met die enkele skoot daar by die hek het ’n plaasaanvaller nie net die boervrou Mariette Nel (toe 47) se kakebeen weggeskiet nie, maar ook haar lewe onherroeplik verander.

Maar hier sal weer eendag geboer word, sê sy met oortuiging. Sy is dan hier gebore, was van kleins af al saam met pa Frik al met die boerdery doenig. Toe haar ouers in die middel 90’s sterf, het sy alleen voortgeboer.

Daardie Saterdagoggend van 26 Oktober 2002 het alles verander. Sy en haar huishulp, Miriam Mamyembe (59), het half-ses die oggend in die bakkie geklim om groente mark toe te neem. Toe sy 100 m verder by die plaashek stop, sien sy skrams uit die hoek van haar oog iemand op haar afstorm.

Hy het die geweer teen haar gesig gedruk en die sneller getrek; sy het vooroor op die stuurwiel geval en die aanvaller het ’n banksakkie met R300 gegryp en weggehardloop.

Sy het die vreeslikste pyn in haar gesig gehad, maar nie besef haar kakebeen is weggeskiet nie, vertel sy. Ook dat sy toe gewonder het of dit is hoe ’n bokkie moet voel wanneer hy deur jagters gewond is . . .

SO, MET ’n enkele sinlose daad, word ’n lewe eensklaps uit sy spore geruk.


http://www.huisgenoot.com/artikels/Plaaslik/Kakebeen-weggeskiet-vir-R300


















Dit is een van Mariette se bene wat hul gebruik het vir oorplantings op haar gesig.


Sluit gerus aan by die Facebookgroep van Lita Forie van Tabita, genaamd: 

Stop Plaasmoorde Tabita


http://www.facebook.com/profile.php?id=1293196840#!/group.php?gid=298070448834&ref=ts




« Laaste verandering : August 16, 2010, 03:06:58 PM deur Werner Smook »
"Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort"
- DF Malan

Afwesig Werner Smook

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 1112
  • Verkenner
Re: Mariette Nel benodig hulp
« Antwoord #1 op: August 16, 2010, 03:08:27 PM »
Bydraes kan in die volgende rekening gemaak word:

Enige bydraes kan gemaak word aan:
Tabita Organisasie. 
FNB Tzaneen.
Tjekrekening. 
Reknr.  62246701793

U is welkom om ons te skakel as u meer inligting verlang. 
Kontaknommers: 
Lita Fourie (0725427352), 
Hannelie Naude (0849412916), 
Vidette Venter (0725368331) 
Annietjie Smit (0769958110)
E-pos tabita12@ovi.com
"Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort"
- DF Malan

Afwesig Werner Smook

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 1112
  • Verkenner
Re: Mariette Nel benodig hulp
« Antwoord #2 op: August 16, 2010, 03:09:35 PM »
Vir meer agtergrond oor die nodigheid van geldelike hulp:


TABITA ORGANISASIE
YAMORNA 29
TZANEEN
0850


Mariette Nel boervrou van formaat.


Tabita organisasie ken Mariette al bykans ses jaar.  Mariette is uniek, ek glo dit en ek sien dit, maar ek het dit ook ervaar.  Die oomblik toe ek haar ontmoet, toe weet ek, hierdie vrou is ń boervrou, of nog beter ń ystervrou.  Vol selfvertroue en trots stap sy na my toe en stel haar self voor.  Dit hoort mos so, en let wel sy mag maar trots wees, want dit is haar plaas, en sy is baie trots daarop.  Kuiermense voel dadelik welkom, en haar gasvryheid ken geen perke.  Hoe meer ek na Mariette kyk en luister, hoe meer bewonder ek hierdie dapper vrou, en hoe meer besef ek, hoe baie het ek om oor dankbaar te wees.  Een vraag wat ek vir Mariette vra, is, “Mariette wat begeer jy die meeste in die lewe”?  Sonder om twee keer te dink antwoord sy, EK WIL BOER!  Eers het ek dit nie verstaan nie, wel ek meen, na wat hierdie vrou alles ervaar het, en nog steeds is haar antwoord, ek wil boer. Hier sit ń vrou voor my, erg geskend, en haar eerste wens is, om weer ń boerdery te kan begin, tenspyte van hoe sy lyk, en hoeveel pyn sy verduur.  Ek het gedink sy gaan sê, ek wil weer aantreklik en aanvaarbaar wees vir die samelewing.  Dit is maar soos ons vrouens mos maar is.  Maar nie Mariette nie.  Haar eertse keuse is boerdery, en dan wil sy baie graag ook weer mooi lyk, sodat mense kan ophou om na haar te staar, waar sy ookal gaan.  Wat Mariette nog meer uniek maak is die feit dat, sy vasberade is om op haar grond te bly, tenspyte van wat met haar gebeur het.  Ek wil dit net noem dat dit haar tweede aanval was, wat sy wonderbaarlik oorleef het.

Hier volg Mariette se verhaal, in haar eie woorde.  Tabita organisasie gaan haar help, om die beste behandeling vir haar te kry, en haar gesig te herstel.  Dan gaan ons na Mariette se boerdery kyk, en ook daar vir haar hulp kry, om ń boerdery op die been te bring.

Ons wil graag in Junie begin om Mariette te help, met rekonstruksie van haar gesig, en sal u deur middel van die media op hoogte hou van haar vordering.  Ons het Mariette in April 2010 gaan besoek, en alles met haar bespreek.  As gevolg van dat hul die vel van die been gebruik het om die rekonstruksie te doen, groei die beenhare nou in haar mond.  Aangesien Mariette nie ń mediesefonds het nie, moes sy maar gebruik maak van staatshulp.
"Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort"
- DF Malan

Afwesig Werner Smook

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 1112
  • Verkenner
Re: Mariette Nel benodig hulp
« Antwoord #3 op: August 16, 2010, 03:28:28 PM »
Meer agtergrond oor die voorval, soos deur die slagoffer self vertel:

-------------------------------------------------------------------

Dit is Saterdag 26 Oktober.


Ek staan gewoonlik elke Saterdag halfvier in die oggend op om klaar te maak om die koeke wat ek bak en groente wat ek kweek na die mark in Ladysmith te neem.  Die mark begin gewoonlik halfsewe in die oggend.  Na ek die diere versorg het laai ek en die bediende die goed op die bakkie dan ry ons so half ses dorp toe.  Sy gaan in om by my broer hulle te gaan werk en ek gaan mark toe.

Die oggend het ons halfses gery.  Die hek was toegemaak, wat normaal was want as daar beeste naby is word die hek toegemaak.  Ek het stilgehou, die bakkie uit rat uit gehaal want ek wou gou gaan kyk of die varke nog reg is, terwyl die bediende die hek oopmaak.  My hand was nog op die deurhandsvatsel toe ek net so met die kant van my oog iemand op my sien afstorm.  Ek het egter nie die kans gehad om op te kyk nie want die volgende oomblik het hy die geweer teen my slaap gedruk  Op dieselfde oomblik het ek my kop opgeruk toe die skoot afgegaan het.  Ek het vooroor geval met my kop op die stuurwiel.  Ek was heeltemal verlam en nie instaat om te roer nie.  Ek het gehoor hoe hy vir die bediende sê sy moet hom die geld gee.  Sy het gesê ons het nie geld nie.  Hy het my sak met +- R300 kleingeld wat ek by die mark gebruik gegryp waarin ook my ID boekie, bankkaart, lisensie en selfoon was.  Hy het ook die mandjie met die warmbottel tee en trui wat langs my was, oor my uitgehaal en dit op die grond langs die bakkie neergegooi.  Daarna het hy glo weggehardloop.

Ek het dadelik die vreeslikste pyn in my gesig gehad.  Ek kan nie beskryf hoe erg dit was nie.  In my lewe het ek nog nooit so magteloos gevoel van pyn nie en nie instaat om te beweeg nie.  Ek glo nie ek het lank so op die stuurwiel gelê nie tot ek weer stadig orent gekom het.  Die bediende het intussen uitgeklim na hulle weggehardloop het (hulle sê daar was drie met maskers op) en vir haar seun en ń ander werker daar naby geskree dat hulle moet kom help, ek het seergekry.  Toe hulle by ons kom kon ek darem wankelend uit die bakkie klim en het vir hulle beduie dat een met my moet ry dat ek kan hulp kry, waarop hulle gesê het hulle kan nie bestuur nie.  Ek het vir die bediende beduie om die hek oop te maak en in te klim dat ons kan ry.  Dit was die swaarste pynlikste rit van my lewe.  Die pyn was vreeslik maar ek het besef dat as ek nie gou hulp kry nie ek dit nie sal maak nie.  My asem het minder geraak en die pyngolwe wou my oorweldig.  Met ń gesukkel kon ek ry tot by die werkers se huise waar ek stilgehou het.  Dit is een kilometer van waar ek geskiet is.  Die bediende by my het vir die ander geskree om te kom help waarop die een, en jong seun aangehardloop gekom het.  Ek weet die seun kan trekker bestuur en het toe vir hom beduie om met my te ry tot by die teerpad.  Hy was ongeveer twaalf jaar oud.  Die teerpad was nog 1.5km verder.  Dit het stadig gegaan, die pyn was oorweldigend en die asem al minder.  By die teerpad gekom het hy stilgehou.  Ek het intussen op ń boks vriende van my (Gert en Koekie Berning en my broer in Ladysmith Fanie en Anne-Marie Nel) se selfoon nommers neergeskryf en gevra die werker moet ń kar stop en probeer hulp ontbied.

Gelukkig het daar ń swart man stilgehou en het dadelik sy selfoon vir die een swart vrou gegee om hulp te ontbied.  Gert Berning het kort daarna by ons aangekom en direk daarna het ń polisieman van Elandslaagte geariveer waar hy toe gesê het ek moet by hom in die kar klim, ons sal die ambulans tegemoet gaan.  Die pyn was vreeslik en ek het al swakker begin voel en my asem al minder.  Net duskant Modderspruit het ons die ambulans gekry waar ons toe in die ambulans geklim het en waar hulle toe met my hospitaal toe gejaag het.

Ons is Ladysmith provinsiaal toe.  Daar aangekom het ek uit die ambulans geklim en na my skoonsuster Anne-Marie toe geloop.  Ek weet sy het haar arms om my gesit en ek kon net vir haar wys ek kry nie meer asem nie.  Van toe af weet ek nie meer wat gebeur het nie.

Toe ek weer begin bykom het, was ek in die noodgevalle-eenheid.  Daar was ek vreeslik deurmekaar, die pyn onuithoudbaar, en ek het ń vreeslikke dors gehad.  Ek was bewus daarvan dat hulle my hande en voete vasgemaak het, en dit was vir my vreeslik, hulle wou my nie losmaak nie, want hulle het gesê ek baklei te veel, en ruk al die masjiene en pypy af sodra ek los is.  Ek het gesoebat vir water.  My mond was alles weggeskiet onder en my tong was ook aanmekaar gewerk. 

 Hulle het met my afgejaag na king Edward hospitaal in Durban,waar hulle my net so terug laat kom het Ladysmith toe,sonder om my enige behandeling te gee.ek het nie eers uit die ambulans geklim nie.ek weet nie wanneer ek soontoe is nie,ek weet net ek was in ń ambulans en weer vasgemaak.  Dit ht my nog benouder gemaak.  Ek was steeds baie deurmekaar, vreeslik dors en baie naar.  En ek weet ek het baie bloed opgebring.  Ek weet nie hoe lank al hierdie dinge geduur het nie.  In die noodgevalle eenheid in Ladysmith was hulle behandeling baie goed, tot hul my oorgeplaas het na een van die sale, waar die behandeling baie swak was.  Al die tyd was ek aan suurstof gekoppel, deur ń pyp wat hulle in my keel ingesit het.  Daar moes ek baie vra dat hulle my gesig moes skoonmaak, waar ek gelukkig was as hulle dit tweekeer ń dag gedoen het.  Ek het myself geruik stink.  Ek moes kos in kry deur ń pyp in my neus, ek was baie ure daarsonder ook.  Partykeer het hulle eers in die middag eers onthou, dat ek nog nie kos gekry het nie.  Sweersel het uit my mond geloop, en ek het gevoel hoe ek swakker en sieker word.  Die loodkorreltjies was nie uit my gesig uit verwyder nie.  Gedurende November is ek terug gestuur, na King Edward in Durban.  Daar is ek na die afdeling gestuur waar die gesig en tand rekonstruksie gedoen word. Ń Indiër dokter was geskok toe hy my sien.  Hy het gevra wat doen hulle aan my, hulle is besig  om my te laat opvrot.  Ek moes heeltyd met verbande om my mond loop om die spoeg in te hou.  Dit was vreeslik.

Ek kon nie praat nie.  Ek moes alles skryf.  Hy het gesê ek moet dadelik opgeneem word, en dat ek die volgende oggend moet oorgeplaas word Wentworth hospitaal  toe.

Behandeling in King Edward was die slegste wat ek nog ooit gesien het.  Ek het kouekoors en pyn gehad. Ek was honger en dors.  Ek het gevra hulle moet my mond asseblief skoonmaak, en my iets vir die pyn gee.  Die swart suster het gesê, sy kan niks vir my doen nie, die dokter het geen instruksies gegee nie.  Ek het gevra vir kos, en sy het gesê daar is geen voorsorg vir my getref vir kos nie.  Sy het naderhand twee boksies goed gebring, wat soos vla was.  Toe ek vir ń groot spuit vra, waarmee ek dit by die pyp deur my neus kan inspuit, het sy gesê, sy het nie een nie.  Ek het ń klein spuitjie in my tas gehad, waarmee ek toe die vla opgetrek het, op my rug gaan lê het, en dit dan in my keel afgespuit het.  Ek het later my mond self in die badkamer probeer skoonmaak.  Hulle het nie eers ń kombers gehad om vir my te gee nie, net ń halwe deken.  Ek het my baadjie aangetrek, en my trui om my voete gedraai.

Gelukkig is ek die volgende oggend Wentworth toe oorgeplaas.  Daar was die dokters ook geskok toe hulle sien dat die lood nog nie eers uit my gesig verwyder is nie.  Hulle het foto’s van my gesig geneem, en my dadelik teater toe geneem, waar hulle my onder narkose skoongemaak het.  Hulle behandeling was baie goed, jy kon sien hulle gee regtig om.  Oor my was ń blanke, Indiër en ń swart dokter, hulle was almal goed.  Ek was in die hospital tot in die helfte van Desember, waar hulle my toe eers laat huistoe gaan het, om aan te sterk vir die operasies. 

Op 25 April is ek toe in die Albert Luthuli hospital opgeneem, waar hulle op 29 April die rekonstruksie van my onderste kakebeen gedoen het.  Hulle het been bokant my maermerrie uitgehaal, sowel as vleis en vel om my gesig weer op te bou.  Die vleis en vel is onder my knie uitgehaal, tot onder op die skeen.  By my linker been bokant die knie, is die vel weer afgeskil, om oor te plant waar hulle die vleis en been uitgehaal het.  In my linker arm het hulle ń sening uitgehaal, om oor te plant ook in my gesig.  Die operasie het 19 uur geduur.  Toe ek daar bykom was die pyn verskriklik.  My gesig het gepyn, altwee my bene was in pyn.  Ek moet net op my rug lê, wat toe al vreeslik seer was.  Op saterdag is ek weer 3 ure geopereer nadat daar infeksie in my gesig gekom het.  Die behandeling in Albert Luthuli was uitstekend.  Ek het stadig beter geword.  Hulle het my huistoe gestuur gedurende Mei.  In dié maande kon ek niks kos by my mond inneem nie.  Ek moes alle kos in vloeistofvorm by my maag, in ń pyp inspuit met ń groot spuit.

By die huis het ek my toe self geleer om op my rug te lê en eet, (alles moes fyn en sag wees, want ek kon nie kou nie) en drink met ń spuit.  Dit was vreeslik moeilik om dit aan te leer, maar dis al hoe ek kon sterker word.  Ek het altyd plus minus 65kg geweeg, maar op die stadium was ektoe al 54kg.

Ek het baie pyn gehad wat besig was om beter te word.

Ek sal vir nog baie operasies moet gaan want ek moet nog tande kry en my lip moet nog gebou word.  Ek gaan die 8ste September weer vir ń ondersoek.  Die voedingspyp is nog steeds in my maag.  Die helfte van my tong is dood waar die dokter blykbaar niks kan doen nie.  Ek praat moeilik en ek eet baie swaar.  As die kos in die linkerkant van my mond is voel ek niks nie, dan moet ek dit met my vinger oorstoot tot agter in my mond en dan insluk. Ek is nou skaam om voor mense te eet want dit is ń gemors en ń gesukkel.                                       

Ek voel moedeloos en geweldig terug gesit in die lewe.  Ek wou so graag die plaas behou het.  Ek is hier gebore en bly al 47 jaar hier.  Ek is nie baie lief vir die dorpslewe nie.  Ek het finansieël baie swaar gekry maar was vol moed vir die nuwe somer om baie groente te plant, vark boerdery weer te begin asook braai hoenders groot te maak en ook die koekbakkery groter te maak.  Maar in ń paar sekondes is my moed gebreek deur ń gewetenlose moordenaar wat vandag nog vry rondloop.  Hy wou my net doodskiet en ek dink hy het my vir dood gelos want ek kon vir ń ruk nie beweeg nie.

Al wens wat ek gehad het deur al die swaarkry nadat my ouers en ouma almal oorlede is, was net om die plaas te behou waar my puers hard gewerk het en swaar gekry het om vir my en my broer die plaas na te laat.

Ek voel so terug gesit dat ek nie weet hoe ek weet gaan regkom nie.My droom is steeds om hier te bly en ek is ook nie bang nie, as ek net weer heeltemal gesond kan word.

My gesig sal ook vir die res van my lewe geskend wees en dit is ook swaar om dit te aanvaar.

Al wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie, is die gevoel van magteloosheid nadat ek geskiet is, die vreeslikke pyn in my gesig en die naderende dood as ek nie gou hulp kry nie.  Verder die gevoel van benoudheid, honger en die vreeslike dors.

In die nege maande wat amper verby is weet ek dat die Here my gesteun het en my gedra het.  Verder wil ek al die mense, bekendes en onbekendes bedank wat vir my gebid het en steeds nog bid, wat my gereeld besoek het en ook geldelik probeer help het.  Ek waardeer dit baie. 

In die geval is my hele onderkaak weggeskiet.  My tong is beskadig en ń groot gedeelte daarvan is verlam wat volgens die dokter nooit herstel kan word nie.

Die operasies is sovêr op staatsonkoste gedoen.Die weiding wat ek verhuur, dek egter net ń gedeelte van die onkostes.

Ek woon nog op die plaas.  Ek is nie bang om hier te woon nie omdat ek glo dat niks verder met my sal gebeur, as dit nie die wil van die Here is nie.  As gevolg van die operasies voel ek selfbewus want my gesig is geskend.  My persoonlikheid het nie verander nie.  Ek voel nie verbitter nie, maar ek voel dit is onregverdig oor wat met my gebeur het.  Ek het nog nooit iemand skade berokken nie.  Ń deel van die been wat verwyder is, is dood en moet weer vervang word.  Die spesialis het gesê dat hy nie weet of hulle die boonste tande sal vervang nie, en of ek dit op eie onkoste sal moet doen nie.

Mariette Nel.
"Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort"
- DF Malan

Afwesig Werner Smook

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 1112
  • Verkenner
Re: Mariette Nel benodig hulp
« Antwoord #4 op: November 19, 2010, 12:25:03 PM »
Goeiedag: Goeie nuus. Ons het n datum gekry. 17/11/2010
 
Marietta het n antwoord gekry van die dokters in Kaapstad. Sy moet die 22ste November 2010 om 1nm daar wees. Die 21ste November 2010 vlieg ons Kaapstad toe. Maandag die 22ste sien sy Dr Richter, en dan sal hy besluit oor die CT scans en X-strale wat gedoen moet word, en wanneer die rekonstruksie gedoen sal word. Op die oomblik is Marietta baie siek, en het erge ontsteking in haar mond. Dit is so erg dat die skroewe saam met die etter uit sweer. Sy is baie ongemaklik, en eet moeilik. Sy het egter volle vertroue in Dr Richter, en ook die ander dokters wat gaan help met die rekonstruksie.
 
 
 (Verw: Huisgenoot 19 Augustus 2010). Ek heg die brief van die diagnostiese Radioloë vir u aan. Al die reëlings neem onsettend baie tyd in beslag.. Dr Richter gaan die rekonstruksie doen. Tabita is tans nog by Marietta op die plaas, en sal hier wees tot alles gedoen is, en sy weer by die huis is. Huisgenoot het reeds met dr N du Plessis n onderhoud gehad, van Kaapstad, en sy sal ook teenwoordig wees by die ondersoeke en ook by elke operasie. In die volgende artikel van Huisgenoot, sal Jaco hulle met die drs gesels, en die artikel sal gaan oor watter prosedure die drs gaan volg met die operasie. Marietta sal eers behandel word vir die infeksie in haar mond, alvorens daar geopereer kan word, vir plus minus drie weke. Na die rekonstruksie sal daar nog n artikel wees in Huisgenoot, waar die artikel dan gaan handel oor Marietta en hoe sy na die rekonstruksie lyk.
 
 
Op hierdie stadium het ek ook die buiteland gevra om te help met fondse. Hulle het hulle hulp aangebied, maar na vele eposte, my nog nie terugvoering gegee nie. Ons het baie oproepe ontvang, van persone wat hulle hulp aangebied het, om diere vir haar te skenk, en ook om fondse te skenk, maar daar is tot en met nou nog niks ontvang nie. Vir die persone wat debietorders gereël het by die bank, wil ons baie dankie sê, en ook die persone wat wel bygedra het. Van die selnrs waarvandaan persone geskakel het, om hulp aan te bied, bestaan tans nie meer nie, en ons haal daardie nommers nou van die skenkerslys af.
 
Ons wil u dan inlig dat die fondse wat wel ingekom het, nog by verre te kort skiet, en ons gaan dus voort met die fondsinsameling. Aangesien die artikel in Huisgenoot eksklusief is, bemoeilik dit ons saak, om ook met ander media te gesels. Ons wil n ernstige beroep doen, op u, om nou terwyl alles gefinaliseer is, te help met fondse, veral by die deel van hospitalisasie. Ons het nou sover gekom met al die reëlings, en die dr N du Plessis het gevra dat ons vir n tydperk van drie weke voorsiening moet maak, vir hospitalisasie, en verblyf in Kaapstad.  Ons het reeds met SABC geskakel oor n spesiale uitsending van Marietta, maar ongelukkig kleef die stigma van n plaasaanval daaraan, en kry n mens nie voldoende samewerking nie.
 
Indien u weet van persone wat moontlik kan help met bydraes, wil ons u vra om die epos ook aan daardie persone te stuur.
 
Byvoorbaat baie dankie vir u hulp sovêr, en ons hou u op hoogte .
 
Lita Fourie
0725427352
tabita12@ovi.com
 
BANKING DETAILS:
FNB Tzaneen
Acc Holder: Tabita organisasion
Branch Code: 260349
Acc Number: 62246701793
Reference: Marietta Nel.
Swift Code: Firnzajja612
"Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort"
- DF Malan

Afwesig Werner Smook

  • Lid van die Volksraad
  • ***
  • Poste: 1112
  • Verkenner
Re: Mariette Nel benodig hulp
« Antwoord #5 op: November 22, 2010, 12:53:22 PM »
Lita Fourie:

Ons is veilig in die Kaap. Die vlug was baie lekker en Marietta het dit geniet. Nou begin die groot werk, en weereens wil ek julle ouens se ondersteuning vra asb, sonder julle hulp en dalk n bydrae kan dit nie gedoen word nie. Ek sal moreaand vertel wat die dokter se bevinding is, en wat nou volgende is. Persone wat graag n bydrae wil maak, Tabita se bankbesonderhede is by Stop Plaasmoorde Tabita.


"Bring bymekaar wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort"
- DF Malan


Share me

Digg  Facebook  SlashDot  Delicious  Technorati  Twitter  Google  Yahoo

 


* Nuwe Inskrywings


SA Topsites



SA Topsites :: .

SimplePortal 2.3.3 © 2008-2010, SimplePortal