Deur Cees Bruggemans, Hoof Ekonoom FNB
23 Augustus 2010
Die ekonomiese herstel wat so fluks gevorder het gedurende laat 2009 het in 2010 begin vasval.
Terwyl die jaar optimisties begin het, met privaat sektor BBP groei vooruitskattings van oor die 3%, en selfs nog beter vir volgende jaar, was beleidsmakers minder geneig om opgewonde te raak, met vooruitskattings van net 1.5% tot 2% groei hierdie jaar.
Hierdie publieke sektor sienings het uiteindelik te pessimisties blyk te wees, en beleidsmakers het hul groeivooruitsigte nader aan 3% aangepas. Sommige privaat vooruitskatters het egter in onlangse weke begin om hul optimistiese verwagtinge af te skaal. Sommiges verwag nou ook minder as 3% groei hierdie jaar.
Daar is al hoe meer ekonomiese sektore wat verlies aan groei momentum wys. Die ekonomie sukkel maar voort op hierdie stadium.
Elektrisiteit opwekking het teen begin 2010 mooi herstel en het sy vorige hoogtepunt van 2007 begin ewenaar. Daarna het produksie egter sywaarts begin beweeg, miskien deels as gevolg van beperkte kapasiteit, maar ook omdat baie nywerhede se energie gebruik gestabiliseer het.
Vervaardigingsproduksie het eers baie gedaal tydens laat 2008 en vroeg 2009 en het daarna sterk gestyg in laat 2009 soos uitvoer en voorrade herstel het. Kapasiteitsbesetting het tot 80% verbeter en in Junie 2010 was vervaardigingsproduksie ’n yslike 8.8% hoër as ’n jaar gelede.
Hierdie groeisyfer vergelyk egter die huidige 2010 produksie met ’n lae 2009 basis. As die verandering in vervaardigingsproduksie sedert einde 2009 ontleed word, blyk dit dat groei in 1H2010 net 1.8% op jaarbasis was, en selfs nul groei in 2Q2010 aangeteken het.
Mynbouproduksie het onlangs nog slegter gepresteer. Dit het in 2Q2010 skerp na vroeg 2009 se vlakke teruggeval. Veral platinum groep metale, goud, steenkool en boumateriale het teleurgestel.
Dinge lyk nie veel beter in die bou en konstruksie bedryf nie. Die bou van behuising en kantore daal nog steeds. Siviele ingenieurswerke se omset het met 40% gedaal hierdie jaar, en konstruksie sal waarskynlik ook krimp (hoewel daar onlangs ’n merkbare styging in tenders waargeneem is).
Dit is deels as gevolg van huishoudings wat nog steeds sukkel met baie skuld en nie bereid is om nuwe aankope te maak nie. Maar ook is daar toenemend ’n ooraanbod van kantoorruimte. Verder is staatskontrakte die afgelope jaar nie vinnig genoeg toegeken soos ou kontrakte afgeloop het nie (hoewel daar binnekort verandering kan kom in hierdie situasie).
Selfs die groot finansiele sektor, wat besigheidsdienste en eiendomsdienste insluit, trek maar swaar. Kredietgroei is nog steeds minder as 1%, en baie eiendomsmakelaars het blykbaar alreeds uit die bedryf getree.
Die enigste werklike ligpuntjies vandag is die staatsdiens wat voortgaan om mense in diens te neem, hoewel dit met die staatsfinansies ook maar broeksskeur gaan en bestedingsgroei afgerem word, soos in die salaris onderhandelings hierdie jaar waargeneem kon word. Verder is die kleinhandel en motorbedryf besig om te herstel.
Huishoudings se inkomste styg weer, met koopkrag wat verbeter soos inflasie bly verminder terwyl lone nog steeds goed styg, hoewel ten koste van werkgeleenthede.
Kleinhandelverkope het hierdie jaar mooi begin herstel en het in Junie met 7.4% gestyg ten opsigte van verlede jaar, ook aangehelp deur die wêreldbeker.
Wanneer ons egter seisoen-aangepaste kwartaal data vergelyk, blyk dit dat 1Q2010 teen 16% op jaarbasis gegroei het, maar dit alweer tot 5% verlangsaam het in 2Q2010 (MET inagneming van die wêreldbeker). Hierdie is ’n soortgelyke ontwikkeling soos in vervaardiging.
Die sterkste groei word in die motorbedryf ervaar, met oor die 25% groei in motorverkope soos dit steeds meer noodsaaklik raak dat motors vervang word.
Die vervangingssiklus van motors is so erg in onlangse jare deur resessie en dinge vertraag dat vervanging nou baie dringend geraak het in sekere segmente van die mark. Met die ekonomie uit resessie, en rentekoerse baie laag, kon sommige mense uiteindelik nie meer die vervanging van hul motors uitstel nie, en sien ons groei terugkom.
Dit is egter in baie gevalle ’n noodsaaklikheid eerder as ’n gewillige besluit aangesien huishoudelike skuldvlakke baie hoog bly en baie verbruikers tog maar versigtig vir die toekoms bly.
Hierdie beperkte groei impulse is nie genoeg om die BBP groeikoers verder te laat versnel nie. Inderdaad is dit die reeds genoemde groei teleurstellings in baie ander sektore wat die algemene groei beeld oorheers.
BBP groei sal hierdie jaar waarskynlik minder as 3% bedra en sal heel moontlik ook volgende jaar nog maar sukkel soos vertroue lank vat om te herstel na al die krisesse van die afgelope paar jaar.
Cees Bruggemans is hoofekonoom van First National Bank. Besoek sy webwerf
www.fnb.co.za/economics en skryf in op sy gratis e-pos artikels.