Algemene Sake > Volksmoord
Vordering in moordsake
Werner Smook:
Sy laaste woorde: ‘Bid vir my’
2010-08-31 23:27
Mev. Elana Maree (27) by die hooggeregshof in Pretoria. Sy het getuig haar man het gevra sy moet vir hom bid nadat hy in hul slaapkamer geskiet is.
Jeanne-Marié Versluis
Sy het uit die bed gespring, hul twee kinders gegryp en op die vloer bo-op hulle gelê om hulle te beskerm terwyl haar man met ’n rower op hul bed gestoei het.
Mev. Elana Maree (27) van Centurion het gister in die hooggeregshof in Pretoria só getuig oor ’n aanval deur twee rowers in hul slaapkamer.
Haar man, Dawie (27), is in die aanval gewond en hy het haar gevra om vir hom te bid voordat hy beswyk het.
Mev. Maree het gister huilend uit die hofsaal gestap.
Mnre. Lawyer Marabe Talane en Rodney Katang Masemola het skuld ontken aan moord (twee aanklagte); huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede; en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Die staat voer aan hulle het mnr. Maree, asook mnr. Seporo Martin Tshebesebe, ’n medepligtige, op 23 Mei 2008 doodgeskiet en die Maree-gesin beroof.
Die Marees het toe in Meyerspark, Pretoria, gewoon.
Mev. Maree het getuig hul kinders (toe onderskeidelik twee jaar en 11 maande) het in die egpaar se slaapkamer geslaap. Sy en haar man het wakker geword toe ’n “persoon” op hul bed gestaan en gebuk het om haar man se vuurwapen te vat.
“My man het hom bespring en met hom begin stoei. My man het sy eie vuurwapen onder die ou se hand uitgekry.”
Sy het ’n tweede persoon in die kamerdeur gesien.
Sy het die kinders uit hul bedjies gegryp en op die vloer bo-op hulle gaan lê.
Die geveg tussen haar man en die “eerste persoon” het voortgeduur. Skote het geklap.
Sy het in ’n stadium die tweede man ’n wapen sien rig “op waar die geveg was”.
Die kamerdeur het daarna toegeklap.
Haar man het geroep en gesê sy moet die lig aanskakel. Sy het toe gesien haar man pen die eerste persoon op die bed vas.
Haar man was gewond. Daar was bloed op die laken en bloed op sy been en aan sy mond.
Sy het nie toe besef die man wat op die bed vasgepen word, is ook gewond nie.
Mev. Maree het getuig sy het dié man se vuurwapen op die vloer opgetel, dit op hom gerig en gesê hy moenie beweeg nie.
“My man het my gevra om die polisie en ambulans te bel en dat ek vir hom moet bid.”
Weens skok kon sy nie die polisie se 10111-nommer bel nie.
Haar man het “verskriklik gesukkel om asem te haal”.
Sy het hul buurman, mnr. Braam Espach, en hul vriend, mnr. Marius Esterhuizen, gebel terwyl hul kinders huilend agter haar gestaan het.
Espach het met haar man na die Wilgers-hospitaal gejaag. Sy is ook later hospitaal toe. “Die dokter het ingekom en ek het geweet dat Dawie dit nie gemaak het nie,” het sy getuig.
Die saak duur voort.
Wyle mnr. Dawie Maree met sy kinders.
Werner Smook:
Skoolmeisie pleit by mans wat haar oorval, ma vermoor
2010-10-06 10:29
Amanda Roestoff
“Moet my asseblief nie seermaak nie,” het ’n 18-jarige meisie by haar ma se moordenaars gepleit.
Alicia O’Dell (18), dogter van die vermoorde Krugersdorpse arbeidsterapeut mev. Marinda O’Dell (48), het gister getuig in die hof
waarin mnr. Mphaphantsi Stanley Mabulana (toe 28) teregstaan op aanklag van moord op haar ma.
Mabulana ontken skuld op aanklag van moord, huisbraak met die opset om te roof en poging tot moord.
Mnr. Phetoke Cedrick Lebea (toe 29) is reeds skuldig bevind op aanklag van moord op O’Dell en dien lewenslange tronkstraf uit.
Hy sal later vir die staat getuig.
O’Dell se keel is in die aanval op 29 Julie verlede jaar afgesny.
Alicia, vanjaar in matriek, het getuig hoe sy in die huis oorval is toe sy van die skool af gekom het. Sy is gewurg en met ’n skroefsleutel aangerand totdat sy flou geword het.
Haar ma se lyk is op die boonste verdieping van die gesin se huis in Magaliesbergstraat, Noordheuwel, met verskeie meswonde gevind.
Alicia het weens trauma en om haar as getuie te beskerm via kringtelevisie getuig.
“Ek het gesien hoe kom hy met ’n mes in sy hand na my toe aangestap. Ons het gebaklei oor hy die deur wou oopmaak en ek dit wou toedruk. Hy’t my kamer ingekom en my dadelik begin wurg?.?.?. hy het my heeltyd aan my nek vasgehou,” het sy getuig. “Ek het sy koue hande gevoel. Hy’t langerige naels gehad?.?.?.”
“Ek het begin duiselig word. Ek het die mes (op die grond) gesien. Toe ek dit wou vat, het hy dit weggeskop. My oë het begin omdop en ek het my bewussyn verloor.”
Alicia het getuig sy het drie mense as aanvallers op ’n uitkenningsparade in die Kagiso-polisiekantoor uitgewys.
“Ek het drie uitgeken omdat hul almal baie dieselfde gelyk het. Hulle het almal baarde gehad en was donker (van gelaat),” het sy getuig.
Sy het later vlugtig in die hof verskyn en Mabulana uitgeken as een van die aanvallers.
Die verhoor duur voort.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Skoolmeisie-pleit-by-mans-wat-haar-oorval-ma-vermoor-20101006
Werner Smook:
Moord op Pta-vrou: nog ’n lyk gekry
2010-10-07 23:22
Gesoek: Mnr. Nyasha Mabure (19)
Hilda Fourie
’n Man wat sy werkgewer glo in die kop geskiet het, word ook gesoek weens die moord op ’n man wat saam met hom in haar tuin gewerk het nadat dié se ontbindende lyk etlike dae later in ’n vraghouer gevind is.
Ao. Louis de Bruin, polisiewoordvoerder, het gister gesê ’n lasbrief is vir mnr. Nyasha Mabure (19) se arrestasie uitgereik nadat hy me. Christa du Toit na bewering drie weke gelede in haar huis in Swacinapark, op die Uitzicht-hoewes in die weste van Pretoria, vermoor het.
Hy word ook daarvan verdink dat hy mnr. Piet Mothwa (27) vermoor het.
Volgens De Bruin het Mothwa dié noodlottige oggend vir werk opgedaag.
Kort daarna het Du Toit vermoedelik die hek vir Mabure, wat saam met Mothwa in haar tuin gewerk het, oopgemaak.
Mabure het Du Toit glo in die kop geskiet waarna hy haar vriendin mev. Mickey Coetzee (48) en haar huiswerker, me. Maurine Mambo (30), glo aangehou het.
Hy het die twee vroue glo gedwing om vier keer bo-oor Du Toit se lyk te klim en het die lyk elke keer geskop. Hy het Coetzee glo ook verskeie kere met die vuis in die gesig geslaan voordat hy gevlug het.
De Bruin het gesê Mothwa was ná die aanval net weg.
Mnr. André du Plessis (54), Du Toit se verloofde, het gister gesê sy bulhond het sedert die aanval “mal geword om die vraghouer”.
Verlede Dinsdag het Mambo gekla iets stink vreeslik buite.
Sy en Coetzee het die oorsaak van die stank vergeefs gesoek.
Du Plessis het eergister mense gekry om die heining te herstel.
“Toe hulle by die motorhuis stilhou en uitklim, het die een dadelik gesê iets stink,” het Du Plessis gesê.
Toe die hond in die vraghouer inhardloop, het een van die herstelspan die deur oopgemaak.
Mothwa se lyk is agter stoele in die vraghouer gevind.
Die polisie het inligting gekry dat Mabure in die omgewing van Daveyton aan die Oos-Rand is.
- Mense wat Mabure gewaar, word gevra om ao. Martin Smit, ondersoekbeampte, te bel by 082 778 9385 of 012 377 4100.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Moord-op-Pta-vrou-nog-n-lyk-gekry-20101007
Werner Smook:
Boer (82), kleinseun vermoor ná werker glo sê hy’s honger
2010-11-22 23:14
Jeanne-Marié Versluis
’n Plaaswerker het ’n boer na bewering met ’n skoffel doodgeslaan nadat dié hom nie gesteur het aan die werker se klagtes dat hy honger was nie.
Dít blyk uit getuienis wat gister in die hooggeregshof in Pretoria gelewer is in die verhoor van mnr. Isaac Masuku.
Masuku het vroeër skuld ontken op twee aanklagte van moord; een van huisbraak met die opset op te roof en roof met verswarende omstandighede; asook die onwettige besit van vier gewere, ’n pistool en ammunisie.
Hy het geen pleitverduideliking gegee nie.
Die staat beweer Masuku het mnr. Hendrick Janse van Rensburg (82) en sy kleinseun, Dean Charles Woodraffe (17), op 7 Maart 2008 vermoor.
Masuku het vir Janse van Rensburg op die plaas Zusterstroom by Bronkhorstspruit gewerk.
Die staat beweer Janse van Rensburg is aan kopbeserings dood nadat Masuku hom geslaan het en sy kleinseun aan verwurging.
Masuku word daarvan beskuldig dat hy onder meer vuurwapens, elektriese en elektroniese toestelle, ’n kas met breekgoed, linneware en klere, ’n matras en R3 000 kontant uit Janse van Rensburg se huis gevat het.
Konst. Aaron Kabini, wat destyds by die polisie se honde-eenheid in Bronkhorstspruit gewerk het, het gister vir die staat getuig hy het Masuku gearresteer. Hy het Masuku gevra wat gebeur het. Volgens hom het Masuku gesê hy het aan sy werkgewer gesê hy is honger.
Janse van Rensburg het glo toe gesê: “Nee, f*k” en weggestap.
Masuku het glo later weer aan sy werkgewer gesê hy is honger. Die antwoord hierop was glo: “Nee, f*k. Die k*****s is altyd honger.”
Masuku het glo kwaad geword. Hy en sy werkgewer het mekaar toe glo gestamp. Kabini het getuig volgens Masuku het hy ’n skoffel gehad en “die wit man daarmee gekap”.
Hy het getuig volgens Masuku het ’n seun met ’n haelgeweer uit die huis gekom.
Masuku het glo die haelgeweer gegryp en die seun verwurg.
Hy het toe vervoer gaan reël. Goedere in die huis is in dié motor gelaai en na ’n plaas geneem waar sy meisie gewoon het.
Kabini het getuig Masuku was tydens sy arrestasie verskrik.
“Ek dink hy het gedink as hy alles vertel, sal daar geen probleme wees nie.”
Hy het getuig Masuku het die toneel en die goedere aan die polisie uitgewys. Masuku is nooit aangerand nie en die polisie het hom in der waarheid beskerm, “want wit boere in die gebied was so kwaad”.
Hy het gesê as die boere Masuku vóór die polisie in die hande gekry het, “sou hy nie hier gewees het nie”.
Die saak duur voort.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Boer-82-kleinseun-vermoor-na-werker-glo-se-hys-honger-20101122
Werner Smook:
Een skuldig aan moord op berader
2010-12-06 22:20
Mnr. Siegfried en mev. Carolyn Müller, Warbarton se ouers.
Jinine Botha
Net een van die drie mans wat aangekla is van die moord op me. Bianca Warburton, wat verlede jaar in ’n mislukte kaping buite die Alexandra-kliniek in Johannesburg doodgeskiet is, is skuldig bevind aan moord.
Regter Halima Saldulker het mnr. S’tembiso Mseleku (25) gister in die hooggeregshof in Johannesburg skuldig bevind aan moord, poging tot roof en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Mnr. Mphumuzeni Gumede (27) is skuldig bevind as ’n begunstiger ná die moord en aan die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Mnr. Moffat Mthonti (29) is skuldig bevind aan die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Warburton, ’n opvoedkundige sielkundige, is op 14 Oktober verlede jaar in ’n mislukte kaping buite die Alexandra-kliniek in Johannesburg, waar sy vrywillige berading aan ma’s en kinders met MIV/vigs verskaf het, doodgeskiet.
In ’n gedig wat haar familie oor haar geskryf het en wat adv. Herman Broodryk, aanklaer, gister ná die uitspraak voorgelees het, beskryf hulle haar as “passievol en pragtig” met ’n “skitterende verstand”.
Regter Saldulker het Mseleku in haar uitspraak as ’n leuenaar en ontwykende getuie bestempel.
Volgens Saldulker was Mseleku se verweer dat hy deur die polisie gemartel is om uitwysings van die moordtoneel te maak, asook om Gumede aan die polisie uit te wys, “vals en ’n duimsuigery.”
Volgens vroeëre getuienis het Mseleku die moordwapen ná die moord aan Gumede gegee, wat dit minder as ’n uur later aan Mthonti gegee het. Die polisie het die wapen in ’n kas in Mthonti se plakkershut gevind, is vroeër getuig.
Gumede en Mthonti het albei skuld beken op die aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen.
“Hoewel daar geen direkte bewyse is wat Gumede op die toneel plaas nie, het hy die moordwapen by Mseleku gekry en hy moes geweet het dié wapen het iemand beseer.”
Volgens Saldulker het Gumede Mseleku dus probeer help om van die moordwapen ontslae te raak. “Dit maak hom skuldig as ’n begunstiger na dié misdaad,” het Saldulker gesê.
Saldulker het gesê daar is ook nie bewyse wat Mthonti op die moordtoneel plaas nie. “’n Ooggetuie het ook bevestig dat Mthonti nie saam met Mseleku op die toneel was nie.”
“Dit was in dié saak moeilik om die waarheid van die leuens te skei,” het Saldulker gesê.
Saldulker het die polisie en staat se toewyding geloof en gesê laasgenoemde het “’n moeilike tyd gehad om geregtigheid te laat geskied.”
Die staat het in vertoë ter strafverswaring lewenslange tronkstraf vir Mseleku en Gumede gevra. Adv. Mbhazima Mavodze, Mseleku se regsverteenwoordiger, het gesê hy moenie lewenslange tronkstraf kry nie omdat hy weens sy jeugdigheid ’n goeie kandidaat vir rehabilitasie is.
Adv. Enrico Guaneri, vir Mthonti en Gumede, het gevra dat Gumede nie lewenslange tronkstraf kry nie omdat hy ’n mate van berou getoon het deur te erken dat hy die vuurwapen gehad het. Ook Mothonti moet weens sy oortreding ligter gestraf word as die gebruiklike drie tot vyf jaar tronkstraf omdat hy deur sy bekentenis ook berou getoon het.
Die mans word na verwagting môre gevonnis.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Een-skuldig-aan-moord-op-berader-20101206
Navigation
[0] Message Index
[#] Next page
Go to full version