Bekroonde fotograaf Paul Alberts sterf
2010-11-19 04:00
Charles Smith
Bloemfontein - Die bekroonde en wêreldbekende fotograaf, joernalis en uitgewer Paul Alberts (64) is gisteroggend dood dieselfde oomblik toe sy jongste boek waarop hy baie trots was, Bannelinge in die Vreemde, afgelewer is.
Sy vrou, Charmaine, het gesê hy het gewag vir sy seuns Thomas en Adriaan om uit Londen en Pretoria by hulle in die hospitaal in Bloemfontein aan te sluit toe hy sy laaste asem uitgeblaas het.
Haar broer, mnr. Riaan Heunis, het op daardie oomblik ook gebel om te sê hy het pas deur die hekke van Solidariteit in Pretoria gery om die boek af te lewer.
Sy kon toe die nuus aan hom oordra.
“Sy bloeddruk het hemelhoog geskiet toe die kinders by hom is. Sy werk was voltooi. Bannelinge in die Vreemdeis afgelewer. He died with his boots on,” het sy aan Die Burgergesê.
Bannelinge in die Vreemde, oor die Boere-krygsgevangenes in die kampe oorsee tydens die Anglo-Boereoorlog, beslaan 416 bladsye en is die jongste in sy reeks Erwe van die Vaad’re.
Alberts het drie boeke die afgelope jaar voltooi nadat pankreaskanker by hom gediagnoseer is.
Solidariteit het in September betrokke geraak by Alberts se uitgewery, Kraal, wat hy van sy huis in Brandfort bedryf het.
Mev. Alberts het gesê hy het onlangs nog in die hospitaal gesê toe hy oor Bannelinge in die Vreemdegepraat het: “Hierdie boek is my trots. Dit is ’n wonderlike stuk werk.” Dit was vir haar asof hy daarna agteruit gegaan het.
“Op ’n manier is my hart in stukke, op ’n ander manier is dit ’n verligting,” het sy gesê. “Min mense het met soveel passie soos Paul gelewe.”
Alberts word ook deur nog twee seuns, Marcus en Dewald, oorleef.
Hy sal veras word en sy as sal volgens sy wens in ’n private seremonie langs ’n vaderlandswilg langs sy vrou se kantoor by hul huis in Brandfort begrawe word.
- Die Burger
http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Bekroonde-fotograaf-Paul-Alberts-sterf-20101119