Opvoeding > Departement van Kuns en Kultuur

Bekroonde fotograaf Paul Alberts sterf

(1/1)

Werner Smook:
Bekroonde fotograaf Paul Alberts sterf
2010-11-19 04:00

Charles Smith

Bloemfontein - Die bekroonde en wêreldbekende fotograaf, joernalis en uitgewer Paul Alberts (64) is gisteroggend dood dieselfde oomblik toe sy jongste boek waarop hy baie trots was, Bannelinge in die Vreemde, afgelewer is.

Sy vrou, Charmaine, het gesê hy het gewag vir sy seuns Thomas en Adriaan om uit Londen en Pretoria by hulle in die hospitaal in Bloemfontein aan te sluit toe hy sy laaste asem uitgeblaas het.

Haar broer, mnr. Riaan Heunis, het op daardie oomblik ook gebel om te sê hy het pas deur die hekke van Solidariteit in Pretoria gery om die boek af te lewer.

Sy kon toe die nuus aan hom oordra.

“Sy bloeddruk het hemelhoog geskiet toe die kinders by hom is. Sy werk was voltooi. Bannelinge in die Vreemdeis afgelewer. He died with his boots on,” het sy aan Die Burgergesê.

Bannelinge in die Vreemde, oor die Boere-krygsgevangenes in die kampe oorsee tydens die Anglo-Boereoorlog, beslaan 416 bladsye en is die jongste in sy reeks Erwe van die Vaad’re.

Alberts het drie boeke die afgelope jaar voltooi nadat pankreaskanker by hom gediag­noseer is.

Solidariteit het in September betrokke geraak by Alberts se uitgewery, Kraal, wat hy van sy huis in Brandfort bedryf het.

Mev. Alberts het gesê hy het onlangs nog in die hospitaal gesê toe hy oor Bannelinge in die Vreemdegepraat het: “Hierdie boek is my trots. Dit is ’n wonderlike stuk werk.” Dit was vir haar asof hy daarna agteruit gegaan het.

“Op ’n manier is my hart in stukke, op ’n ander manier is dit ’n verligting,” het sy gesê. “Min mense het met soveel passie soos Paul gelewe.”

Alberts word ook deur nog twee seuns, Marcus en Dewald, oorleef.

Hy sal veras word en sy as sal volgens sy wens in ’n private seremonie langs ’n vaderlandswilg langs sy vrou se kantoor by hul huis in Brandfort begrawe word.

- Die Burger


http://www.dieburger.com/Vermaak/Nuus/Bekroonde-fotograaf-Paul-Alberts-sterf-20101119

Karina Marais:
Dis nou vir my nogal hartseer om te hoor. Ek het vir Paul goed geken en hoewel 1 en 1 nie altyd vir my 2 gegee het nie, kan ek nie stry dat hy 'n aansteeklike passie vir ons land se geskiedenis en veral vir die Anglo Boereoorlog gehad het nie.

Hy het nie net 'n passie vir ons erfenis nie, hy woon ook in een van ons land se geskiedkundige geboue, 'n hotel op Brandfort wat deur die Engelse beset is tydens die ABO. Hy het dit gekoop en ten volle gerestoureer en dit is waarlik 'n pragtige plek.

Ek is bly hy kon sy laaste boek voltooi. Alle sterkte vir Charmaine en hul vier seuns (ek ken net vir Adriaan).

Navigation

[0] Message Index

Go to full version