Nuusflits

Aandag aan alle Bravoland Besoekers. Hier kan u 'n aansoek indien om Bravoland Burgerskap te verkry:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php/topic,5566.0.html

Skrywer Onderwerp: Die Vrystaatse Republiek en die Basoetoe vraagstuk  (Read 880 times)

0 Lede en 1 Gas bekyk die onderwerp.

Sanderis

  • Gas
Die Vrystaatse Republiek en die Basoetoe vraagstuk
« op: January 06, 2011, 01:18:22 AM »
Ek sluit die draad vir kommentaar tot en met die boek in sy totaliteit hier opgelaai is . Die doel daarmee is dat dit dan as ‘n boek gelees en gedruk kan word . Sodra ek dit voltooi het sal ek die draad oopstel en sal kommentaar dan welkom wees .
Ek vra by voorbaat om verskoning vir enige ongerief hierdeur veroorsaak .




Argief Jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Uitgegee op las van die Minister van Binnelandse Sake

Onder Redaksie van :
C. Graham Botha – Hoofargivaris van die Unie
Dr. Coenraad Beyers – Assistent- hoofargivaris van die Unie
Prof. Dr. J.L.M. Franken
Prof. Dr. H.B. Thom
Sekretaris : Dr. P.J. Venter – Argivaris

Die Vrystaatse Republiek en die Basoetoe Vraagstuk

Deur Dr. J.J.G. Grobbelaar
Gedruk 1939





VOORWOORD


Die onderwerp “die Vrystaatse Republiek en die Basoetoe vraagstuk “ sal seker die belangstelling wek van elke vrystater en meer bepaald van diegene wat tans in die “verowerde gebied” woon .
Daar is ongetwyfeld lesers wat met daardie benaming onbekend is , en daarom moet ter verduideliking gesê word dat daarmee die vrugbare deel van die Oostelike Vrystaat wat aan Basoetoeland grens , bedoel word . Die gebied het vroeër ‘n deel van Basoetoeland uitgemaak , maar is in 1865 – 66 deur die Boere verower en by die Vrystaat ingelyf .

Ek is in hierdie gebied gebore en het ook daar ‘n aantal jare onderwys gegee . Gevolglik was ek in die geleentheid om die bakens op die ou grenslyne en die slagvelde persoonlik op te spoor , en om persoonlike getuienisse van persone wat die gebeurtenisse van daardie tydperk meegemaak het , in te win .  Dis jammer dat die meeste ou skakels met die verlede daar alreeds gebreek is .

Die Basoetoe vraagstuk tydens die opkoms van die Vrystaatse Republiek is ‘n uiters belangrike deel van ons vaderlandse geskiedenis en ‘n onderwerp waaraan in ons skole , en selfs ook universiteite , nie veel aandag aan gewy word nie . Die onderwerp is nog slegs in die verbygaan deur historici aangeroer en lê dus feitlik nog braak . Vandaar my poging om hierdie leemte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan te vul . Dat daar werklik so leemte bestaan , sal duidelik blyk deur die werke wat die onderwerp reeds behandel het , na te gaan .

Een van die eerste is dié van J.H. Hofstede . Sy “Geschiedenis van den Oranje Vrystaat” het in 1876 die lig gesien . Hofstede was ‘n republikeinse amptenaar en ‘n ooggetuie van die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland . Hy het maar min argivale bronne tot sy beskikking gehad en hy het nie besef dat die hoofoorsaak en die kern van die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland die kwessie van grondgebied was nie sodoende het hy ook gefaal in die juiste vertolking van dié botsing . Ook is sy voorstelling te eensydig en te partydig ten gunste van die Vrystaat . Nietemin het sy boek waarde as boustof vir die Vrystaatse geskiedenis .

Wat Theal se bydrae betref , sy “Fragment of Basutu History “ het in 1866 verskyn . Die titel van sy boek is enigsins misleidend . Hy kon dit net so wel die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland betitel het , want die staatkundige verhouding tussen die twee geweste is sy vernaamste tema . Theal wys wel daarop dat die stryd sy oorsaak gevind het in geskille oor grondgebied maar voer die stelling nie konsekwent deur nie . Bogenoemde “fragment” is geput uit Theal se “Basutuland records”. Met die publikasie van daardie drie dele in 1883 , het hy aan die Suid-Afrikaanse Historiografie ‘n groot diens bewys . Dit is ‘n versameling van offisiële dokumente wat loop oor die geskiedenis van Basoetoeland en deels ook oor die Oranje-Vrystaat vanaf 1833 tot 1868 . By die versamel en afskryf van die stukke het Theal hom bedien van die hulp van persone in Bloemfontein , Kaapstad en Basoetoeland . In Bloemfontein o.a. van Charlie Fichardt maar daar hierdie persoon destyds nog maar ‘n seun was , kan ‘n mens jou op sy werk nie sonder meer verlaat nie . Sommige belangrike stukke is weggelaat en uittreksels is ook nie altyd ewe oordeelkundig gemaak nie . Die afskrifte op sigself is egter getrou en juis . Die waarde van Theal se Records lê veral hierin dat dit stukke bevat waarvan die oorspronklikes sindsdien verlore gegaan het , en sodoende vir die geskiedskrywer beware gebly het . Altesame bestaan Theal se “Basutuland Records” uit ses bande , drie ongepubliseerde dele word in die Kaapse Argief bewaar .

Die eerste werk oor die Vrystaatse geskiedenis wat as wetenskaplik bestempel mag word , is dié van H.P.N. Muller wat in 1907 verskyn het .  Sy “Oude tyden in den Oranje-Vrystaat” is hoofsaaklik op Hamelberg se dagboek gebaseer . Hamelberg was ‘n Hollandse regsgleerde en Muller beskryf die aandeel wat Hamelberg aan die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland geneem het . Sy werk behandel dus slegs ‘n onderdeel . Net soos Hofstede se geskiedenis , dra Muller se werk ‘n chauvinistiese stempel .

W.W. Collins se “Free Statia” , wat in dieselfde jaar verskyn het , is ‘n verbetering op die werke van Hofstede en Muller. Collins is objektiewer in sy kyk op sake , alhoewel hy tog oorhel na die kant van die Boere . Hy het meer bronne as sy bogenoemde voorgangers tot sy beskikking gehad . Maar sy werk is hier en daar kronologies verward en sy stof is nie voldoende verwerk nie , baie stukke word in extenso gegee . Ook hy het nie die kern van die vraagstuk raakgesien nie .

G. Lagden se “History of the Basuto” wat twee jaar later die lig sien , is min of meer van dieselfde gehalte as die werk van Collins , maar met hierdie verskil dat hy bepaald party kies vir die Basoetoes . Hy het hoofsaaklik geput uit die “Basutuland Records”  en die Imperiale Blouboeke .

J.M. Orpen se “Reminiscences” van 1915 , verskaf waardevolle nuwe materiaal maar ook sy oordeel en voorstelling is te eensydig ten gunste van die Basoetoes .

Die eerste Vrystaatse geskiedskrywer , wat afgesien van Theal , sy stof direk in die argiewe versamel het , is J.H. Malan . Sy “Opkoms van ‘n Republiek” 1929 beskryf die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat van sy ontstaan tot 1863 . ‘n Groot deel van die Vrystaat se stryd teen die Basoetoe t.w. dié tussen 1863 en 1870 , val dus buite sy bestek . Malan het verdienstelike werk gelewer deur nuwe stof by te bring . Hy het ingesien dat die stryd teen die Basoetoe die belangrikste vraagstuk in die opkoms van die Republiek was , maar sonder om weens die aard van sy werk daar dieper op in te gaan .

In 1934 het F.D.J. Wepener se “Louw Wepener” verskyn . Die skrywer is ‘n seun van die gevierde held , Louw Wepener , en  hy beskryf die rol wat sy vader in die Basoetoe-oorloë gespeel het . Die oorsake van die stryd word nie genoegsaam aangedui nie . Alhoewel die boekie sommige interessante persoonlike getuienisse bevat , moet die geskiedskrywer daar omsigtig mee te werk gaan van weë die onjuisthede wat daarin voorkom .

Die slotsom waartoe ‘n mens dus kom , is dat die onderwerp tot op datum nog nie deeglik wetenskaplik ondersoek en behandel is nie . Om dit te doen was dit in die eerste plek nodig om die materiaal gelewer deur gepubliseerde werke aan te vul met voortgesette bronnestudie . Daartoe was ‘n redelike kennis van sesoetoe en frans ‘n vereiste . Sommige briewe van Moshesh is in sesoetoe geskrywe ; in die meeste gevallle is egter ‘n engelse vertaling , deur ‘n Franse sendeling gemaak , bygevoeg . Die geskrifte van die Franse sendelinge , vanaf 1833 in Basoetoeland gevestig , verskaf ‘n onuitputlike bron van inligting vir die geskiedskrywer . Die sendelinge het behalwe hulle sendingjoernaal , “Journal des missions Evangeliques”, in 1912 ook ‘n amptelike geskiedenis van hul sending “Livre d’or de la mission du Lessoutou”, uitgegee . Hierdie geskrifte van die Franse sendelinge wat ooggetuies van die stryd was en voortdurend in noue kontak gestaan het met die Basoetoes , vorm ‘n onskatbare bron vir die begrip van die standpunt en die gevoelens van die teenoorgestelde party .

‘n Nie minder belangrike bron in hierdie opsig nie en waarin weinig persone nog insage gehad het , is die korrespondensie tussen J. Burnet , siviele kommisaris van Aliwal-Noord , en J. Austen die superintendent van die Wittenbergen-naturellereserwe . Hierdie reserwe het aan Basoetoeland gegrens en dus was Austen op hoogte van vrywel alles wat in Basoetoeland plaasgevind het . Stelselmatig is dit dadelik aan Burnet gerapporteer wat dit weer volgens sy opdrag gereeld aan die Kaapse goewerneur berig het . Sonder die korrespondensie tussen Burnet en Austen en die Journal en Livre d’or van die sendelinge is dit bykans onmoontlik om van die Basoetoe gesigspunt gedurende die tydperk onder behandeling ‘n behoorlike begrip te vorm . Ek het dan ook van beide bronne ruimskoots gebruik gemaak .

Die bylaes van die Vrystaatse Volksraad het aan die ander kant waardevol geblyk vir ‘n insig in die Boere se standpunt . Die burgers het gewoonlik die Volksraad per memorie met hul gevoelens en sienswyse bekend gestel . Hierdie memories is in die Bylaes opgeneem . Die Bylaes bevat ook ‘n groot verskeidenheid van oorspronklike stukke o.a. rapporte van kommissies deur die Volksraad benoem .

Na kennisname en bestudering van hierdie aanvullende bronne het dit vir my eers regtig duidelik geword dat die hele stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland hoofsaaklik draai om die betwisting van grondgebied . In ‘n nuwe inkleding van die Basoetoe vraagstuk was dit noodsaaklik om die nadruk te lê op hierdie gesigspunt .

Reeds in 1833 ontstaan daar grond- en grensvraagstuk in dir driehoek tussen die Caledon- en Oranjerivier .

Dit was Moshesh se plan om Basoetoeland , wat destyds uitsluitend uit Thabo Bosiu en die omliggende bergspitse bestaan het , in dié rigting uit te brei . In die betwisde driehoek word die grenslyn na heelwat verandering gedurende die Soewereiniteitsperiode eers in 1858 , na die Eerste Basoetoe-oorlog , finaal gereël . Na 1858 rig Moshesh sy aandag op die noordwestelike grenslyn van Basoetoeland en daar word nog twee oorloë gevoer alvorens hierdie grens in 1869 finaal vasgestel word .

Ek besluit hierdie voorwoord met , in die eerste plek , my groot erkentlikheid uit te spreek aan my promotor prof. dr. H.B. Thom . Prof. Thom het nie alleen ‘n lewende belang in my werk gestel nie , maar ook gaandeweg die gehalte daarvan verhoog deur die bekwame wetenskaplike voorligting wat ek van hom ontvang het . Dit was vir my ‘n voorreg om onder hom te werk en die samesprekings wat tydens die opstel van my werk met hom gevoer is , was vir my besonder waardevol gewees .

Voorts wil ek my dank betuig aan my vrou . Sy was my van groot hulp by die afskrywe van die verskillende stukke en die tekening van die karate . Ook rig ek ‘n woordjie van dank aan die personeel van die Vrystaatse en Kaapse argiewe , en die openbare biblioteke van Bloemfontein en Kaapstad . Ook mag ek nie nalaat om mnr. Thos Blok , Lektor in Geskiedenis aan die Normaalkollege Bloemfontein , te bedank vir sy advies en bereidwilligheid om sekere seldsame stukke aan my in bruikleen af te staan . Verder wil ek ook daardie persone in die Clocolanse distrik , wat my by die opsporing van die ou bakens en slagvelde behulpsaam was , hartlik bedank . Tenslotte my opregte dank aan Prof. J.L.M. Franken wat die nodige taalkundige en stilistiese veranderinge in die manuskrip aangebring het , asook aan die redaksie van die argief jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis wat my werk vr publikasie waardig geag het .

J.J.G. Grobbelaar
Stellenbosch  15 Maart 1939       
« Laaste verandering : January 06, 2011, 01:31:10 AM deur Sanderis »

Sanderis

  • Gas
Re: Die Vrystaatse Republiek en die Basoetoe vraagstuk
« Antwoord #1 op: March 04, 2011, 02:22:02 PM »
INHOUDSOPGAWE

INLEIDING
Die ontstaan van die vraagstuk
Die oorsprong van die Basoetoe . Moshesh en die opkoms van die Basoetoemag . ‘n Paar kenmerke van die Basoetoe-staat (plus-minus 1833). Die aankoms van die Franse en Wesliaanse sendelinge . Die eerste blanke emigrante in die driehoek tussen die Oranje en Caledon en die begin van die grondvraagstuk tussen die Boere en Basoetoes . Na 1858 ook ‘n soortgelyke vraagstuk op die Noordwestelike grens van Basoetoeland .

HOOFSTUK I
Die grondvraagstuk tussen die Oranje- en Caledonrivier , 1838 - 1849
Klagte van Moshesh oor emigrante . Die Napier verdrag met Moshesh in 1843 . Die grenslyn . Moshesh ontevrede . Maitland se plan van territoriale segregrasie . Sy instruksies aan Kommandant Joubert . Joubert se verslag . Sir H. Smith en die proklamasie van die Soewereiniteit . Southey se poging om ‘n grenslyn in die Caledonrivier-distrik vas te stel . Teenstand van die Basoetoes .

HOOFSTUK II 
Die grondvraagstuk tussen die Oranje- en Caledonrivier , 1849 - 1854
Die Warden lyn . Moshesh ontevrede . Grenslyne tussen ander opperhoofde ook vasgestel . Warden se optrede in verband met naturelle-twiste . Moshesh verseker hom van die Boere se vriendskap . Slag van Viervoet . Moeilike posisie van Warden . Pretorius se hulp ingeroep – Sandrivier konvensie . Britse regering stuur kommissie van ondersoek . Slag van Berea . Verandering in die Britse koloniale beleid in Suid-Afrika . Die soewereiniteit moet prysgegee word . Clerk moet prysgawe reël . Clerk se reëlings met Moshesh en die Boere . Die Bloemfontein konvensie . Die grenslyn . Moeilike omstandighede waarin die Republiek tot stand kom .

HOOFSTUK III
President Hoffman en die Basoetoe vraagstuk
Bepalinge van die Bloemfontein konvensie . Verkiesing van Hoffman . Die Vrystaatse beleid teenoor Moshesh . Moshesh se optrede teenoor die Vrystaat . Witsi verstoor die vrede . Hoffman se konferensie met Moshesh . Moshesh vra ‘n geskenk kruit . Hoffman se verslag van sy samespreking met Moshesh . Hy laat paragraaf oor buskruit weg . Die geskenk kruit lek uit . Stormagtige Volksraadsitting van Februarie 1855 . Hoffman se Basoetoe-beleid oorsaak van sy onpopulariteit . Onbevredigende verhouding met die Basoetoe .

HOOFSTUK IV
Die Caledonrivier-grens en vraagstukke wat daaruit voortgevloei het , 1855 - 1857
Die verkiesing van President Boshof . Sir G. Grey wil ‘n botsing tussen die Vrystaat en Basoetoeland afweer . Die totstandkoming van die Smithfield ooreenkoms , 6.10.1855 . Witsi verstoor weer die vrede en daar word ‘n strafekspidisie teen hom uitgestuur . Moshesh verhef sy stem oor die grenslyn . Die Caledonrivier-grens word nou danig deur die Basoetoes bedreig . ‘n Deputasie na Moshesh . Die kwessie van grondhonger . Moeilikheid om kompensasie van Moshesh te verkry . Die Vrystaat moet nou optree in belang van die burgery . Moshesh en Kreli . Grey word deur die konvensies verbied om in te gryp . Pretorius se aanspraak op die Vrystaat . Moshesh probeer in Grey se guns te kom . Nehemiah na Moshesh gestuur om veediefstalle op die Caledonrivier-grens teen te werk . Samevatting en konklusies .

HOOFSTUK V
Die Eerste Basoetoe-oorlog , 1858
Nehemiah se pogings word gou verydel en die hele grens kom in beroering . Oorsake van die oorlog : Poshuli se gewapende inval en die moeilikheid om skadevergoeding van Moshesh vir die wandade van die onderhoofde in die Caledonrivier distrik te verkry . Krygsraadvergadering te Blaauwboschfontein . Boshof se ultimatum en Moshesh se antwoord . Die verloop van die oorlog : stand van die strydende partye ; vernaamste veldslae : Beersheba , Vecghtkop , Cathcartdrif , Morija en Thaba Bosiu . Die Vrystaat kan oorlog nie met sukses beëindig nie en soek tevergeefs hulp . Die kommandos word opgebreek en die burgers gaan huistoe . Boshof word verplig om Moshesh om vrede te vra . Moshesh se astrante brief . Sir G. Grey bied sy bemiddeling aan . ‘n Wapenstilstand word op 1 Junie 1858 gesluit . Uitwerking van die oorlog op die Republiek en die Franse sending . Betekenis van die oorlog .

HOOFSTUK VI
Sir G. Grey se bemiddeling 
Die konferensie te Beersheba . Moshesh daag nie op nie . Getuienisse en bewysstukke van die Vrystaatse kommissie . Hulle memorandum oor die oorsake van die oorlog en ‘n aanhangsel om dit te verduidelik .Vrystaat stel ‘n ontwerp vredesverdrag op . Grey neem die dokument na Thaba Bosiu . Tweede konferensie te Aliwal Noord . Die grenslyn word weer bespreek . Grey tref kompromis . Die grondvraagstuk nader ondersoek . Die eerste verdrag van Aliwal Noord en die vernaamste bepalinge . Die resultaat van Grey se bemiddeling . Grenslyn tussen Jammerbergdrif en Oranjerivier word deur Grey afgebaken . Moshesh se aandag word nou na die grenslyn in die Winburg- en Harrismith distrikte verplaas . Konklusies .

HOOFSTUK VII
Die Vrystaat soek hulp : Federasie of Vereniging ?
Drie weë vir die Vrystaat oop : vereniging , federasie of handhawing van die bestaande staatkundige posisie . Vereniging met die Transvaal . Sir G. Grey se beskouing . Voordele en nadele van vereniging met die Transvaal . Federasie met die Kaapkolonie . Die Britse Parlement se standpunt . Grey se federasieplan . Boshof ten gunste van ‘n federasie met die Kaapkolonie . Die Britse parlement keur Grey se federasieskema af . Die Vrystaat verplig om sonder hulp van buite die Basoetoe vraagstuk op te los .

HOOFSTUK VIII
Die Basoetoe-vraagstuk in die tyd van Pretorius
Sir G. Grey baken die lyn tussen Jammerbergdrif en die Oranjerivier af . Grey wil Letelle verplaas . Boshof bedank in 1859 . Die Poshulli – Letelle kwessie . Pretotius word in 1860 as President ingesweer . Sy plan van vereniging . Die wonderkop-ooreenkoms . Basoetoes se houding na ooreenkoms . Die grenslyn noord van Jammerbergdrif . Samekoms te Mabolela . Moshesh se dubbelsinnige rol . Van Soelen se besoek aan Thaba Bosiu . Die regulasies van die grenspolisie . Weer die Letelle – Poshuli kwessie . Die fonds vir ‘n grenspolisie . Vrystaatse afvaardiging na Kaapstad . Wodehouse se hulp ingeroep om die grenslyn noord van Jammerbergdrif aan te wys . Pogings om die grenslyn met Moshesh te skik . Grenspolisie opgehef . Pretorius bedank . Toestande in die Vrystaat . Federasie ?  Die Volksraad se optrede . Samevatting .

HOOFSTUK IX
Die Wodehouse Award
Konferensie met Moshesh oor grenslyn . Die oortredinge van die Basoetoes verdubbel . Wodehouse word deur die Vrystaat genader . Van Soelen weer na Thaba Bosiu gestuur . Moshesh se antwoord . Konferensie te Platberg . Korrespondensie met Wodehouse . J.H. Brand , die man van die daad , verskyn op die toneel . Burnet na Thaba Bosiu om Moshesh se goedkeuring vir die arbitrasie te verkry . Wodehouse en die Volksraad se sienswyses . Wodehouse onttrek hom aan die arbitrasie .  Die Volksraad gee Wodehouse die verlangde mag . Moshesh se eise aan die waarheid getoets . Wodehouse kom die betwiste grenslyn na veel vertraging aanwys . Sy prosedure en bevinding . Die Basoetoes hou ‘n pitso . Basoetoe oortreders moet nou terugtrek . Basoetoes vra om hulle oes later te mag insamel , en die Volksraad weier . ‘n Grenswag word op die lyn gelaat . Lesaoana soek moeilikheid . Slot .

HOOFSTUK X
Die Tweede Basoetoe-oorlog 1865 - 1866
Tsekelo die perdedief . Lesaoana se oortredinge . Moperi en Molapo . ‘n Strafekspedisie teen Lesaoana . Brand kla oor die gewelddade . Oorlogsverklaring teen die Basoetoe . Moshesh se kontra-proklamasie . Die oorsake van die oorlog . Veediewery , arrestasie van Vrystaatse burgers . Stand van die strydende partye . Pretorius en Wodehouse proklamasies .Voordele van die Basoetoes . Aanval op Mabolela . Flater van die Vrystaat . Die leër verdeel in drie afdelings . Basoetoe invalle in Kroonstad- en Caledonrivier distrik . Gruweldade van die Basoetoes . Veroweringe van Fick en Wepener . Vereniging van die leërs voor Thaba Bosiu . Thaba Bosiu aangeval . Mislukking . Die Transvaal verklaar ook oorlog . Moshesh vra vrede . Brand se voorwaardes . Beleg van Thaba Bosiu prysgegee . Verenigde aanval op Molapo . Slag van Cathcartdrif . Wessels val Morosi aan . Vrywilligerskorpse en Wodehouse se houding . Moshesh wil Britse onderdaan word . Die Basoetoe inval in Natal . Molapo maak vrede . Verdrag van Imperani . Moshesh en sy onderhoofde besluit om sy voorbeeld te volg teneinde hulle koringoes te red . Die verdrag van Thaba Bosiu . Gevolge van die tweede Basoetoe-oorlog . Samevatting .

HOOFSTUK XI
Die verowerde gebied en sy vraagstukke , 1866 - 1867
Nuwe probleme as gevolg van veroweringe . Die Franse sendelinge . Kolonisasie van die verowerde gebied . Die okkupasiewet . Regering van Molapo . Transvaalse aansprake op verowerde grond . Moroko . Basoetoe onderhoofde wil Vrystaatse onderdane word . Moshesh wil Britse onderdaan word . Wodehouse se houding . Toestande in verband met okkupasie . Basoetoes moet weer uitgedryf word . Letsie , Moperi , en Moletsani word Vrystaatse onderdane . Slinkse plan van Basoetoes . Hernude bedreigings , diefstalle en moord . ‘n Derde oorlog onvermydelik .

HOOFSTUK XII
Die Derde Basoetoe-oorlog en die Britse Anneksasie van Basoetoeland
Die Vrystaatse militêre optrede . Die Basoetoes se taktiek . Korannaberg en omstreke . Makwaisberg . Moshesh klop aan by Natal . Wodehouse ten gunste van aneksasie van Basoetoeland . Die Britse parlement keur sy plan goed . Wodehouse korrespondensie met Brand en Moshesh . Brand se weiering . Wodehouse tree op . Basoetoeland geannekseer . Sy proklamasie . Sy redes vir verbreking van die konvensie . Oorsake van die anneksaie : Moshesh se staatkunde , Franse sendelinge , beletting van die Vrystaatse tog na die see , Britse handelsbelange , verantwoordelike bestuur in die Kaapkolonie , Wodehouse self .

HOOFSTUK XIII
Die dilemma van die Vrystaat en die totstandkoming van die tweede konvensie van Aliwal Noord 
Lewenskwessie vir Vrystaat . Afvaardiging na Engeland . Memorandum van Brand . Wodehouse probeer om ‘n skikking te tref . Vrystaat neem ‘n wagtende houding in . Die her-anneksaie kwessie . Deputasie na Engeland keer onverrigtersake terug . Volksraad tree in onderhandelinge met Wodehouse . Die Tweede konvensie van Aliwal Noord . Wodehouse besoek Thaba Bosiu . Reaksie teen die konvensie . Natal , Buchanan , Tsekelo , en Daumas na Engeland .  Die Volksraad keur konvensie goed . Molapo word Britse onderdaan . Gevolge van die tweede Konvensie van Aliwal Noord . Terugblik .

HOOFSTUK XIV
Die uitwerking van die stryd op die ontwikkeling van die Republiek
‘n Verspilling van kragte . Seëninge van vrede : Boshof en Moshesh . Uitwerking van die stryd op die finansies . Papiergeld (Blue Backs) . Staat en burgery in skuld gedompel . Good Fors . Reaksie teen Blue Backs en Good Fors . Geen fondse vir interne ontwikkeling . Die uitwerking op Landbou en Veeteelt . Samevatting . Slot .

_________________________


LYS VAN KAARTE

No.1   Die Napier Verdrag
No.2   Grenslyne tussen Caledon en Oranje , 1845 – 1848
No.3   Die Soewereiniteit
No.4   Veldslae , oorlog 1865 – 1866
No.5   Eerste verdrag van Aliwal Noord
No.6   Die Wodehouse Award
No.7   Aanval op Mabolela
No.8   Veldslae , oorlog 1865 – 1866
No.9   Aanval op Thaba Bosiu
No.10 Grenslyn verdrag van Thaba Bosiu
No.11 Grenslyn finaal gereël   



 
LYS VAN ILLUSTRASIES

No.1  Lotspilaar
No.2  Skotse-heide-baken , Goewerneurskop
No.3  K.B. Baken
No.4  Waar Moperi se stat was
No.5  Die hang waar Louw Wepener gesneuwel het
« Laaste verandering : March 04, 2011, 02:51:25 PM deur Sanderis »


Share me

Digg  Facebook  SlashDot  Delicious  Technorati  Twitter  Google  Yahoo

 


* Nuwe Inskrywings


SA Topsites



SA Topsites :: .

SimplePortal 2.3.3 © 2008-2010, SimplePortal