Ek sluit die draad vir kommentaar tot en met die boek in sy totaliteit hier opgelaai is . Die doel daarmee is dat dit dan as ‘n boek gelees en gedruk kan word . Sodra ek dit voltooi het sal ek die draad oopstel en sal kommentaar dan welkom wees .
Ek vra by voorbaat om verskoning vir enige ongerief hierdeur veroorsaak .Argief Jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis
Uitgegee op las van die Minister van Binnelandse Sake
Onder Redaksie van :
C. Graham Botha – Hoofargivaris van die Unie
Dr. Coenraad Beyers – Assistent- hoofargivaris van die Unie
Prof. Dr. J.L.M. Franken
Prof. Dr. H.B. Thom
Sekretaris : Dr. P.J. Venter – Argivaris
Die Vrystaatse Republiek en die Basoetoe Vraagstuk
Deur Dr. J.J.G. Grobbelaar
Gedruk 1939
VOORWOORD
Die onderwerp “die Vrystaatse Republiek en die Basoetoe vraagstuk “ sal seker die belangstelling wek van elke vrystater en meer bepaald van diegene wat tans in die “verowerde gebied” woon .
Daar is ongetwyfeld lesers wat met daardie benaming onbekend is , en daarom moet ter verduideliking gesê word dat daarmee die vrugbare deel van die Oostelike Vrystaat wat aan Basoetoeland grens , bedoel word . Die gebied het vroeër ‘n deel van Basoetoeland uitgemaak , maar is in 1865 – 66 deur die Boere verower en by die Vrystaat ingelyf .
Ek is in hierdie gebied gebore en het ook daar ‘n aantal jare onderwys gegee . Gevolglik was ek in die geleentheid om die bakens op die ou grenslyne en die slagvelde persoonlik op te spoor , en om persoonlike getuienisse van persone wat die gebeurtenisse van daardie tydperk meegemaak het , in te win . Dis jammer dat die meeste ou skakels met die verlede daar alreeds gebreek is .
Die Basoetoe vraagstuk tydens die opkoms van die Vrystaatse Republiek is ‘n uiters belangrike deel van ons vaderlandse geskiedenis en ‘n onderwerp waaraan in ons skole , en selfs ook universiteite , nie veel aandag aan gewy word nie . Die onderwerp is nog slegs in die verbygaan deur historici aangeroer en lê dus feitlik nog braak . Vandaar my poging om hierdie leemte in die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan te vul . Dat daar werklik so leemte bestaan , sal duidelik blyk deur die werke wat die onderwerp reeds behandel het , na te gaan .
Een van die eerste is dié van J.H. Hofstede . Sy “Geschiedenis van den Oranje Vrystaat” het in 1876 die lig gesien . Hofstede was ‘n republikeinse amptenaar en ‘n ooggetuie van die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland . Hy het maar min argivale bronne tot sy beskikking gehad en hy het nie besef dat die hoofoorsaak en die kern van die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland die kwessie van grondgebied was nie sodoende het hy ook gefaal in die juiste vertolking van dié botsing . Ook is sy voorstelling te eensydig en te partydig ten gunste van die Vrystaat . Nietemin het sy boek waarde as boustof vir die Vrystaatse geskiedenis .
Wat Theal se bydrae betref , sy “Fragment of Basutu History “ het in 1866 verskyn . Die titel van sy boek is enigsins misleidend . Hy kon dit net so wel die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland betitel het , want die staatkundige verhouding tussen die twee geweste is sy vernaamste tema . Theal wys wel daarop dat die stryd sy oorsaak gevind het in geskille oor grondgebied maar voer die stelling nie konsekwent deur nie . Bogenoemde “fragment” is geput uit Theal se “Basutuland records”. Met die publikasie van daardie drie dele in 1883 , het hy aan die Suid-Afrikaanse Historiografie ‘n groot diens bewys . Dit is ‘n versameling van offisiële dokumente wat loop oor die geskiedenis van Basoetoeland en deels ook oor die Oranje-Vrystaat vanaf 1833 tot 1868 . By die versamel en afskryf van die stukke het Theal hom bedien van die hulp van persone in Bloemfontein , Kaapstad en Basoetoeland . In Bloemfontein o.a. van Charlie Fichardt maar daar hierdie persoon destyds nog maar ‘n seun was , kan ‘n mens jou op sy werk nie sonder meer verlaat nie . Sommige belangrike stukke is weggelaat en uittreksels is ook nie altyd ewe oordeelkundig gemaak nie . Die afskrifte op sigself is egter getrou en juis . Die waarde van Theal se Records lê veral hierin dat dit stukke bevat waarvan die oorspronklikes sindsdien verlore gegaan het , en sodoende vir die geskiedskrywer beware gebly het . Altesame bestaan Theal se “Basutuland Records” uit ses bande , drie ongepubliseerde dele word in die Kaapse Argief bewaar .
Die eerste werk oor die Vrystaatse geskiedenis wat as wetenskaplik bestempel mag word , is dié van H.P.N. Muller wat in 1907 verskyn het . Sy “Oude tyden in den Oranje-Vrystaat” is hoofsaaklik op Hamelberg se dagboek gebaseer . Hamelberg was ‘n Hollandse regsgleerde en Muller beskryf die aandeel wat Hamelberg aan die stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland geneem het . Sy werk behandel dus slegs ‘n onderdeel . Net soos Hofstede se geskiedenis , dra Muller se werk ‘n chauvinistiese stempel .
W.W. Collins se “Free Statia” , wat in dieselfde jaar verskyn het , is ‘n verbetering op die werke van Hofstede en Muller. Collins is objektiewer in sy kyk op sake , alhoewel hy tog oorhel na die kant van die Boere . Hy het meer bronne as sy bogenoemde voorgangers tot sy beskikking gehad . Maar sy werk is hier en daar kronologies verward en sy stof is nie voldoende verwerk nie , baie stukke word in extenso gegee . Ook hy het nie die kern van die vraagstuk raakgesien nie .
G. Lagden se “History of the Basuto” wat twee jaar later die lig sien , is min of meer van dieselfde gehalte as die werk van Collins , maar met hierdie verskil dat hy bepaald party kies vir die Basoetoes . Hy het hoofsaaklik geput uit die “Basutuland Records” en die Imperiale Blouboeke .
J.M. Orpen se “Reminiscences” van 1915 , verskaf waardevolle nuwe materiaal maar ook sy oordeel en voorstelling is te eensydig ten gunste van die Basoetoes .
Die eerste Vrystaatse geskiedskrywer , wat afgesien van Theal , sy stof direk in die argiewe versamel het , is J.H. Malan . Sy “Opkoms van ‘n Republiek” 1929 beskryf die geskiedenis van die Oranje-Vrystaat van sy ontstaan tot 1863 . ‘n Groot deel van die Vrystaat se stryd teen die Basoetoe t.w. dié tussen 1863 en 1870 , val dus buite sy bestek . Malan het verdienstelike werk gelewer deur nuwe stof by te bring . Hy het ingesien dat die stryd teen die Basoetoe die belangrikste vraagstuk in die opkoms van die Republiek was , maar sonder om weens die aard van sy werk daar dieper op in te gaan .
In 1934 het F.D.J. Wepener se “Louw Wepener” verskyn . Die skrywer is ‘n seun van die gevierde held , Louw Wepener , en hy beskryf die rol wat sy vader in die Basoetoe-oorloë gespeel het . Die oorsake van die stryd word nie genoegsaam aangedui nie . Alhoewel die boekie sommige interessante persoonlike getuienisse bevat , moet die geskiedskrywer daar omsigtig mee te werk gaan van weë die onjuisthede wat daarin voorkom .
Die slotsom waartoe ‘n mens dus kom , is dat die onderwerp tot op datum nog nie deeglik wetenskaplik ondersoek en behandel is nie . Om dit te doen was dit in die eerste plek nodig om die materiaal gelewer deur gepubliseerde werke aan te vul met voortgesette bronnestudie . Daartoe was ‘n redelike kennis van sesoetoe en frans ‘n vereiste . Sommige briewe van Moshesh is in sesoetoe geskrywe ; in die meeste gevallle is egter ‘n engelse vertaling , deur ‘n Franse sendeling gemaak , bygevoeg . Die geskrifte van die Franse sendelinge , vanaf 1833 in Basoetoeland gevestig , verskaf ‘n onuitputlike bron van inligting vir die geskiedskrywer . Die sendelinge het behalwe hulle sendingjoernaal , “Journal des missions Evangeliques”, in 1912 ook ‘n amptelike geskiedenis van hul sending “Livre d’or de la mission du Lessoutou”, uitgegee . Hierdie geskrifte van die Franse sendelinge wat ooggetuies van die stryd was en voortdurend in noue kontak gestaan het met die Basoetoes , vorm ‘n onskatbare bron vir die begrip van die standpunt en die gevoelens van die teenoorgestelde party .
‘n Nie minder belangrike bron in hierdie opsig nie en waarin weinig persone nog insage gehad het , is die korrespondensie tussen J. Burnet , siviele kommisaris van Aliwal-Noord , en J. Austen die superintendent van die Wittenbergen-naturellereserwe . Hierdie reserwe het aan Basoetoeland gegrens en dus was Austen op hoogte van vrywel alles wat in Basoetoeland plaasgevind het . Stelselmatig is dit dadelik aan Burnet gerapporteer wat dit weer volgens sy opdrag gereeld aan die Kaapse goewerneur berig het . Sonder die korrespondensie tussen Burnet en Austen en die Journal en Livre d’or van die sendelinge is dit bykans onmoontlik om van die Basoetoe gesigspunt gedurende die tydperk onder behandeling ‘n behoorlike begrip te vorm . Ek het dan ook van beide bronne ruimskoots gebruik gemaak .
Die bylaes van die Vrystaatse Volksraad het aan die ander kant waardevol geblyk vir ‘n insig in die Boere se standpunt . Die burgers het gewoonlik die Volksraad per memorie met hul gevoelens en sienswyse bekend gestel . Hierdie memories is in die Bylaes opgeneem . Die Bylaes bevat ook ‘n groot verskeidenheid van oorspronklike stukke o.a. rapporte van kommissies deur die Volksraad benoem .
Na kennisname en bestudering van hierdie aanvullende bronne het dit vir my eers regtig duidelik geword dat die hele stryd tussen die Vrystaat en Basoetoeland hoofsaaklik draai om die betwisting van grondgebied . In ‘n nuwe inkleding van die Basoetoe vraagstuk was dit noodsaaklik om die nadruk te lê op hierdie gesigspunt .
Reeds in 1833 ontstaan daar grond- en grensvraagstuk in dir driehoek tussen die Caledon- en Oranjerivier .
Dit was Moshesh se plan om Basoetoeland , wat destyds uitsluitend uit Thabo Bosiu en die omliggende bergspitse bestaan het , in dié rigting uit te brei . In die betwisde driehoek word die grenslyn na heelwat verandering gedurende die Soewereiniteitsperiode eers in 1858 , na die Eerste Basoetoe-oorlog , finaal gereël . Na 1858 rig Moshesh sy aandag op die noordwestelike grenslyn van Basoetoeland en daar word nog twee oorloë gevoer alvorens hierdie grens in 1869 finaal vasgestel word .
Ek besluit hierdie voorwoord met , in die eerste plek , my groot erkentlikheid uit te spreek aan my promotor prof. dr. H.B. Thom . Prof. Thom het nie alleen ‘n lewende belang in my werk gestel nie , maar ook gaandeweg die gehalte daarvan verhoog deur die bekwame wetenskaplike voorligting wat ek van hom ontvang het . Dit was vir my ‘n voorreg om onder hom te werk en die samesprekings wat tydens die opstel van my werk met hom gevoer is , was vir my besonder waardevol gewees .
Voorts wil ek my dank betuig aan my vrou . Sy was my van groot hulp by die afskrywe van die verskillende stukke en die tekening van die karate . Ook rig ek ‘n woordjie van dank aan die personeel van die Vrystaatse en Kaapse argiewe , en die openbare biblioteke van Bloemfontein en Kaapstad . Ook mag ek nie nalaat om mnr. Thos Blok , Lektor in Geskiedenis aan die Normaalkollege Bloemfontein , te bedank vir sy advies en bereidwilligheid om sekere seldsame stukke aan my in bruikleen af te staan . Verder wil ek ook daardie persone in die Clocolanse distrik , wat my by die opsporing van die ou bakens en slagvelde behulpsaam was , hartlik bedank . Tenslotte my opregte dank aan Prof. J.L.M. Franken wat die nodige taalkundige en stilistiese veranderinge in die manuskrip aangebring het , asook aan die redaksie van die argief jaarboek vir Suid-Afrikaanse Geskiedenis wat my werk vr publikasie waardig geag het .
J.J.G. Grobbelaar
Stellenbosch 15 Maart 1939