Afrikaanse kinders kan omtrent glad nie spel nie2011-07-23 21:13

Die “lastige” taalreëls tog! ’n Matriek aan die Hoërskool Linden merk ’n mede-leerling se speltoets wat Rapport opgestel het. Foto: Brendan Croft
Hanri Wondergem en Celinda Groenewald
Die spelling en ander taalvaardighede van Afrikaanse leerlinge is nou die swakste tot nog toe, met moderne tegnologie wat ’n groot rol hierin speel, het onderwysers die afgelope week gekla.
Dit word bevestig deur Rapport se eie ondersoek waarin gr.12-leerlinge van enkele skole in alle provinsies gevra is om ’n speltoets van tien woorde af te lê.
Selfs die leerlinge moes giggel oor die vorme en verbuigings van die woorde liefdevolle, darem, privaatheid, definitief, aggressief, onmiddellik, tatoeëer, waardeer, gemaksone en nogmaals.
Die swakste gemiddelde klaspunt was drie uit tien, terwyl die hoogste punt net sewe uit tien was. Die gemiddelde punt van al die klasse wat aan die steekproef deelgeneem het, was ses uit tien.
“Op gr.12-vlak is dié soort taalfoute (sien SMS-taalbrokkie) nie veronderstel om kop uit te steek nie. Die meeste leerlinge verstaan glad nie die funksie of werking van taalreëls of leestekens nie,” sê dr. Nico van Niekerk, departementshoof van Afrikaans aan die Hoërskool Linden in Johannesburg.
’n Onderwyseres aan ’n skool in Noordwes wat al 26 jaar lank Afrikaans aanbied, sê leerlinge se spelling is die swakste tot nog toe.
Dit word aan verskeie faktore toegeskryf.
“Die kinders leer nie meer deur klankleer om woorde te spel nie. Hulle leer nou op die globale metode van woordherkenning.”
Dit beteken flitskaarte met woorde en prente word eerder gebruik as om woorde klank vir klank uit te spel. Kinders skryf ook foneties en redeneer nie meer hoe klanke in ’n woord aanmekaargesit word nie.
Televisie, selfone en rekenaars dra ook by tot die agteruitgang in kinders se spelling.
“Leerlinge moet in volsinne skryf en reg spel. MXit- of SMS-taal is nié aanvaarbaar nie,” sê sy.
Die meeste onderwysers skryf dit ook toe aan gebrekkige leerplanne in die grondslagfase en dat kinders nie meer in Afrikaans lees nie.
Die onus rus, volgens dié onderwysers, op die ouers.
“Ouers moet die kinders se tyd voor die rekenaar en met die selfoon beperk en leesstof soos tydskrifte en koerante beskikbaar stel.”
Volgens ’n onderwyseres het een kind selfs “Jesus” as “Hesus” gespel.
Ouers moet ook saam met jong kinders stories lees, eerder as om die rekenaar aan te skakel.
Van Niekerk waarsku dat leerlinge meer met die oorbrugging na tersiêre opleiding sal sukkel en die probleem só die universiteite s’n word.
“Praat ’n mens met kollegas oor ’n breë spektrum, is die meeste dit eens dat die taalvaardigheid van skoolverlaters nie op peil is nie,” sê mnr. Jurie Geldenhuys, hoof van die Eenheid vir Akademiese Geletterdheid aan die Universiteit van Pretoria.
“Hulle kan nie meer ’n goed gestruktureerde stuk skryfwerk doen nie en die spelvermoë laat veel te wens oor.”
“Hulle kan ook nie sinne formuleer nie en hul kennis van woordsoorte is uiters beperk.”
Volgens Geldenhuys is die invloed van SMS-taal op jong mense (en toenemend ook ouer mense) se skriftelike kommunikasie nog nie klinkklaar bewys nie.
“Wat wel duidelik blyk, is dat hulle nie altyd in staat is om te onderskei tussen verskillende registers nie.
“Hulle is geneig om selfs in ’n e-posboodskap SMS-taal te gebruik en is nie altyd in staat om tussen formele en informele taalgebruik te onderskei nie,” het hy gesê.
***
Speltoets-woorde:
Liefdevolle: liefde foli
Darem: darm, daram
Privaatheid: prifaathuit, prifaathyt
Definitief: defendetief, deffennetief
Aggressief: agrisif, aggresief
Onmiddellik: ommedelik
Tatoeëer: tatooheer, tattoheer, tatoheer, tatoeheer, tatuheer, tatooweer, tatoreêr, tatoejuheêr, tatoehjeer, ta-toe-hee, tattoeïr
Waardeer: wardeur, waardeur, waar deur, wardeer
Gemaksone: gemakzone, gemakswone
Nogmaals: nogmals, nog maals
SMS-taal:
Metriks kn di sin darm ommedelik wardeur. Rapport ht mt i spiesiale speltuts i spil kindrs yt hul gemakswone ganeem en deffennetief beweis dt dar nogmals naa talkinde gekyk mut wort.