Algemene Sake > Bravoland Kuier Afdeling

Baie paaie na dieselfde plek

(1/1)

James Kemp:
Die afgelope week het ek saam met die musiekgroep Ridder de Jongh (waarvan ek lid is) eers na Bloemfontein en daarna na Orania gereis vir optredes.  Omdat ek altyd met die N12 na Orania reis was dit die eerste keer dat  ek Bloemfontein oorgery het, en het ek veroorsaak dat ons sleg verdwaal. Die twee en `n half ure lange reis het ongeveer vyf ure geduur. Die Vrydagaand met ons aankoms op Orania het ons saam met vriende `n vleisie by die pragtige oewerpark gebraai. (Baie dankie aan Tiaan Theron van Beaufort-Wes vir die lekker skaapvleis.)

Onder die groep was die President van die Verkennersbeweging, Ben Geldenhuys. Toe Ben hoor van my swak navigasievaardighede het hy my gevra of ek nou darem besef het dat daar meer as een roete na die Volkstaat is. Ek het toegegee dat daar wel meer as een pad is om by `n bestemming uit te kom. Toe hy die vraag herhaal het ek besef dat hy ook bedoel dat daar meer as een manier is vir die Afrikaner om by sy vryheid uit te kom. 

Ek het `n hele rukkie oor Ben se vraag nagedink en weereens besef dat ons soveel vryheidspogings as moontlik moet ondersteun. Ek is, soos almal seker weet, `n groot ondersteuner van die Orania-gedagte. Om `n meerderheid in `n gebied te vorm en sodoende ons aanspraak op `n grondgebied te versterk. Maar ek is ook `n geregistreerde kieser van die VVK en moedig almal aan om ook daar te registreer sodat ons `n verteenwoordigende liggaam vir die Afrikaner kan verkies. So is daar ook plekke soos Kleinfontein en ander organisasies wat die vryheidsgedagte aanhang en ons ondersteuning verdien.

`n Engelsman het kort voor die afgelope nasionale verkiesing vir my gevra of ek gesien het dat daar meer as 50  organisasies is wat met die voornemende president gesprek voer wat almal na bewering namens Afrikaners of Afrikaanses praat. Ek het geantwoord dat ek wel bewus is daarvan, maar ook gevra of hy vir my slegs een organisasie kan noem wat vir die regte van engelssprekende Suid-Afrikaners opstaan – ek wag nog vir die antwoord...

Die afgelope paar dae het my laat besef dat ek glad nie bekommerd hoef te wees oor die Afrikaner nie. Ons is op die regte pad!

vannermerwe:
"Ons is op die regte pad!"

Of altans op die regte paaie...  ;D
 
 

 

Ben Geldenhuys:
Dankie James.

Ek moet dalk hier byvoeg dat daar Saterdag 'n gesprek was tussen lede van die bestuur van Orania en die VVK waaraan ek ook deel geneem het. James het tydens hierdie gesprek iemand aangehaal, (ek kan nou nie onthou wie dit was nie) wat vertel het dat mens die vyand op alle fronte moet aanval, wanneer jy vir vryheid veg. Eers oppad terug van Orania af toe ek tyd het om oor die gebeure op Orania na te dink, het ek besef hoeveel waarheid daar in hierdie stelling is. Ek het egter ook besef dat daar een belangrike aspek is in hierdie argument wat nie uit die oog verloor mag word nie en waaraan mens se aksies gemeet moet word; Vryheid.

Dit het my laat dink dat ek my stelling aan James wil wysig: Daar is talle roetes na vryheid, MAAR nie alle paaie lei na Vryheid. James sal dit verstaan, veral omdat hy toe hy verdwaal het, amper in PE ge-eindig het.

Die res van die gesprek Saterdag het ek as positief ervaar. Dit was verblydend om te verneem hoeveel van die Orania verteenwoordigers wat deelgeneem het, wel geregistreer is as kiesers van die VVK se verkiesing. Die vrae wat hulle gevra het krities maar opbouend en die antwoorde wat aan hulle gegee is, was klaarblyklik bevredigend.

Ek het weereens besef dat daar meer bemarking van die VVK moet plaasvind. Meer registrasie dae op meer plekke.

Oppad terug het ek ook oor Orania gedink. Ek het aan die persone wat saam met my was die opmerking gemaak dat Orania die bekendste klein dorpie in Suid-Afrika is. Dit beteken dat Orania se bemarking werk. Goed werk.

Tydens die gesprek, wat tot 'n groot mate oor onafhaklikheid gegaan het, is die stelling gemaak dat die volk nie besef wat is die prys van vryheid nie. Die teenstelling is gemaak dat die volk egter wel besef wat is die prys van verknegting. Ek het besef dat elke persoon vir homself 'n inkomste staat sal moet opstel en die twee kostes moet opweeg. Wanneer die koste van vryheid "goedkoper" word as die koste van verknegtheid, dan sal die volk aan die beweeg kom. Daardie dag is naby. Bitter naby en daarom is die VVK se verkiesing tydig.

Voor daardie dag is daar egter baie werk vir daardie volksgenote wat reeds besluit het die koste van Vryheid is nie te duur nie. Laat ons dan aan die werk spring, met nuwe ywer.

Sanderis:
Klink of julle 'n lekker tyd gehad het op Orania ..

James Kemp:
Ben, jy en Jan Beyers doen baie goeie werk wat veral ons volksekonomie betref, maar die afgelope naweek het ek besef dat die Afrikaner ook sterk filosowe in julle twee het. Die gesprek was baie produktief - ons eintlik meer gereeld (dalk volgende keer om `n braaivleisvuur) sulke tipe informele gesprekke voer.

Navigation

[0] Message Index

Go to full version