Volksekonomie > Departement van Mineraal en Energiesake
Gas in die Karoo ?
(1/1)
Sanderis:
Mnr. Jonathan Deal van die Treasure the Karoo-aksiegroep (TKAG)
Op ys, ja op ys alle ‘ fracking ’-aansoeke
2011-04-30 22:27
Julian Jansen in Kaapstad
Die oliereus Shell se poging om gas in die Karoo te soek is eergister tegnies in sy spore gestuit.
Me. Susan Shabangu, minister van minerale bronne, het ’n verbod op alle lisensie-aansoeke vir die ontginning van skaliegas deur middel van hidrouliese breking (ook genoem fracking) geplaas.
Geeneen van die bestaande aansoeke sal ook verwerk word nie.
Die besluit is wyd verwelkom ná sterk plaaslike teenstand teen hidrouliese breking.
Dié tegnologie lei glo tot ernstige besoedeling van ondergrondse waterbronne.
Shabangu se besluit het ’n week lange verwarring opgeklaar.
Daar was groot onsekerheid oor of die moratorium slegs op nuwe aansoeke van toepassing sou wees en dat Shell dus met sy soektog in die Karoo sou kon voortgaan.
Shabangu sê ’n lewensvatbaarheidstudie oor die tegniek van hidrouliese breking is nodig sodat ’n benadering geformuleer kan word.
Die intensiteit en die skaal van hidrouliese breking asook die feit dat skaliegas-ontginning nog nie op eie bodem plaasgevind het nie, noodsaak hierdie studie.
Hierna sal Shabangu aan die kabinet verslag doen.
Shell het in 2009 ’n permit vir tegniese samewerking van die Petroleumagentskap van Suid-Afrika (Pasa) ontvang en in Desember 2010 drie aansoeke om ontginningspermitte vir die Karoo ingedien.
Die oliemaatskappye Falcon Oil & Gas, Bundu Oil en Sasol soek ook gas in die binneland.
Dit is nog onbekend of hulle hidrouliese breking wil inspan.
Falcon doen tans opnames deur seismiese aktiwiteit te meet en so ’n beeld saam te stel van wat onder die aardkors aangaan.
Shabangu se departement gaan nou ’n multidissiplinêre span lei om die “volle implikasies” van hidrouliese breking te ondersoek.
Mnr. Jonathan Deal van die aksiegroep Treasure the Karoo (TKAG) sê sy groep wil deel van dié span uitmaak.
Hy hoop organisasies soos Earthlife Africa, die Natuurlewe- en-omgewingsvereniging van Suid-Afrika (WESSA), asook die Wêreldnatuurfonds (WWF), raak hierby betrokke. “Maar nie Shell nie.”
Die TKAG het op 5 April ’n amptelike en lywige beswaar teen Shell se planne aan pres. Jacob Zuma se kantoor oorhandig.
Dr. Luke Havemann, ’n energiespesialis, het dié beswaar geskryf.
Dr. Carl Albrecht, hoof van navorsing by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), sê hy sukkel tans om die lys van chemikalieë wat Shell in die hidrouliese breking gaan gebruik by Golder Associates te kry.
Golder bestuur die openbare deelnameproses namens Shell.
Albrecht sê die chemikalieë-lys vir Shell se Karoo-soektog is noodsaaklik om moontlike kankerwekkende stowwe uit te wys.
Albrecht sal hom op die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting beroep as kommunikasie met Shell hieroor misluk.
Waar staan Shell se gas-maats in hul soektogte?
Falcon Oil & Gas
* Besig met omgewingsbestuursplan (OBP).
* Aansoek op 1 Augustus ingedien
* Opname van seismiese aktiwiteit
* Openbare deelname-proses in November afgehandel
* Aansoek om eksplorasie-permit volg binnekort
Bron: Mnr. Gary Lavold, uitvoerende hoof van Falcon
Sasol
* Soek in Oos-Kaap, Vrystaat en KwaZulu-Natal
* Verkry tegniese samewerkingspermit in November 2010
* Gebruik uitslae van Soekor se 1970-’80-soektogte
* G’n oppervlak- of booraktiwiteit
* Geen openbare deelname nodig
Bron: Me. Nothemba Noruwana, Sasol se mediabestuurder
Bundu Gas
* Wag op goedkeuring van ontginningspermit
* Junie 2010-aansoek om Cranmere (Oos-Kaap)
* Openbare konsultasieproses van Julie tot September 2010
* Omgewingsbestuursplan in September ingedien
Bron: Mnr. Paul Bilston, besturende direkteur, Challenger Energy
Sanderis:
Shabangu ‘onkundig’ oor ‘fracking’
Deur CORLI VAN DER MERWE
Ten spyte van die verreikende gevolge van moontlike ‘fracking’ in die Karoo, erken me. Susan Shabangu, Minister van Minerale Sake, ruiterlik dat sy geen tot min kennis van dié proses het.
Shabangu het Donderdag (18 Augustus) 'n toespraak gelewer tydens 'n ontbyt wat aangebied is deur die Persklub in Kaapstad.
Sy het herhaaldelik gesê aangesien ‘fracking’ of hidrouliese breking 'n tegniese proses is, kan sy die kwessie nie bespreek nie voordat die taakspan wat die gevolge van die ontginningsproses navors, sy verslag aan haar voorlê.
Frustrasies
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG), het Shabangu gewys op die TKAG se frustrasies rakende die gebrek aan kommunikasie vanaf die Regering oor die taakspan wat die proses van hidrouliese breking ondersoek.
Deal is onder meer gefrustreerd omdat sy groep aansoek gedoen het dat die name van die taakspan aan die TKAG bekend gemaak word, maar dat hy geen antwoorde gekry het nie.
Shabangu sê egter dat dié name bekend gemaak is en het ook beklemtoon dat die Departement van Minerale Sake homself roem op sy hoë vlakke van deursigtigheid.
Mnr. Gareth Morgan, die DA se woordvoerder oor water en omgewingsake, het in Mei in die parlement vir Shabangu gevra wie in die taakspan dien. Shabangu het egter nie 'n volledige antwoord met spesifieke name gegee nie. Sy het ook gesê dat geen lede van die burgerlike samelewing in die groep ingesluit sal word nie.
Moratorium
Dit beteken geen lid van 'n omgewingsgroep of diegene wat die Karoo-burgers se regte wil beskerm, sal regstreekse insae in die verslag van die taakspan kan kry nie. Shabangu het wel gesê dat die taakspan tydens die konsultasieproses met dié partye en ander sal skakel.
Intussen is die moratorium op aansoeke om lisensies vir skaliegasontginning hernieu. Hoewel die hoop was dat die taakspan sy verslag in Augustus aan die Kabinet sou voorlê, is dit volgens Shabangu nou duidelik dat dit eers in September sal gebeur.
18 Augustus 2011
Sanderis:
Is skaliegas die antwoord?
Deur THEUNS BOTHA
Skaliegas in die Karoo - ja of nee? Foto: THEUNS BOTHA
In Suid-Afrika is die teenkanting teen die eksplorasie na skaliegas só heftig dat die Regering ’n moratorium op die uitreiking van lisensies vir hidrouliese breking geplaas het. Shell SA het ’n groep plaaslike joernaliste na Amerika genooi om te sien wat dié ontginningsproses daar behels.
In die internasionale tydskrif Time van 11 April vanjaar skryf Bryan Walsh: “Natural gas from shale rock promises to provide cleaner, abundant energy for the U.S. and the world. But there’s a catch. It could come with significant environmental and social costs. Can the energy industry be trusted to deliver the goods so that everyone benefits?”
En in die Suid-Afrikaanse sakeblad FINweek van 11 Junie vanjaar word prof. Freeman Dyson, hoogleraar aan die Princeton-instituut vir gevorderde studie in New Jersey, aangehaal dat die gebruik van skaliegas sal verseker dat welvaart en gesondheid ewerediger oor die res van die planeet versprei word omdat dit nie meer ’n luuksheid is wat net deur ryk lande bekostig kan word nie.
Gas al meer gebruik
Tien jaar gelede het skaliegas net in 1% van Amerika se gasbehoefte voorsien. Vandag beloop dit reeds 25% en dit sal na verwagting teen 2040 tot 50% styg. Shell roem in ’n inligtingstuk daarop dat hy reeds vir meer as 60 jaar by die soeke na en ontginning van natuurlike gas in Noord-Amerika betrokke is en die kennis het om dit veilig te doen.
Die maatskappy het twee jaar gelede reeds sowat 250 miljoen m³ gas per dag
geproduseer. Die verkryging verlede jaar van nuwe minerale regte op 1,45 miljoen hektaar het sy potensiële lewering in die sewe streke waar hy regte het om aardgas in die Amerika te ontgin, tot 12,2 triljoen m³ opgestoot. Dit is gelykstaande aan ongeveer 7 miljard vate olie (1 vat = 159 liter). Dit is genoeg om 120 miljoen huishoudings oor die volgende 30 jaar van krag te voorsien.
Astronomiese syfers. Maar, verseker mnr. Paul Goodfellow, ondervoorsitter van Shell Upstream Americas, “ons lê klem daarop om die regte ding te doen. Dit verg algehele toewyding wat veel meer is as om net die reëls en regulasies na te kom.”
Dit is ook hierdie punt wat by herhaling beklemtoon is deur die personeel van Shell, wat die persgroep tydens die dag lange besoek aan Pinedale in Wyoming, Amerika, toegespreek het. Trouens, daar word gesê dat Shell se standaarde só hoog is dat hy al deur sy mededingers, wat ook in die Pine-dale-plooiberge gas ontgin, met regsgedinge gepeper is.
“Ons het eerste grondseile op die hele boorterrein neergelê om enige moontlikheid van grondbesoedeling te beperk en om pypleidings van die boorgate na ’n sentrale punt aan te lê. Dit het die verkeer op die paaie met 90% verminder,” sê mnr. Jim Sewell, ’n omgewingsingenieur van Pennsilvanië, wat reeds 23 jaar vir die maat-skappy werk.
Verbeterde ontwerp
Sewell, wat die afgelope agt jaar by die ontginning van onkonvensionele gas (tight gas) betrokke is, sê Shell het sekere aanpassings met die ontwerp van die boorgate gemaak om sy spoor in die omgewing te verklein. Pleks van vertikale boorgate word nou sewe gate in ’n ry, een meter uitmekaar, in verskillende rigtings gesink.
Waar dit aanvanklik tot 80 dae geduur het om ’n enkele boorgat te sink, kan dit nou, danksy die nuwe ontwerp en aanpassings in die boorvloeistof en boorpunte, binne 16 dae gedoen word.
Hidrouliese breking 2,5 kilometer onder die grond hou géén gevaar in nie, verseker hy. “Die grootste kwessie is wat bogronds met die brekingsvloeistof gemaak word. Om besoedeling te verminder, word die gas, water en afvalstowwe sedert verlede jaar in ’n moderne aanleg by ’n sentrale punt van mekaar geskei. Die prosesse wat ons in werking gestel het, het die norm geword waaraan ander operateurs in die bedryf gemeet word.”
Soos in Suid-Afrika, sê Sewell, is daar ook in Amerika omgewingsdrukgroepe wat die boorwerk en ontginning van die aardgas met ’n arendsoog dophou.
“Daar is drukgroepe met hul eie agendas, mense wat poog om ons werksaamhede te vertraag of hoop dat ons sal oppak. Dit hou ons op ons tone om aanpassings te maak om lug- en waterbesoedelings te beperk en die natuurlike habitat so min moontlik te versteur.
“Die vrese van inwoners word besweer deur saam met hulle om ’n koppie koffie te kuier en gedagtes te wissel oor wat gedoen word om water-, lug- en grondbesoedeling te verminder en hoe om die minste skade aan die habitat aan te rig. Indien dit wél sou plaasvind, herstel ons dit agterna.”
Terugslae
Maar daar was ook ’n onverwagte terugslag in Pinedale: Die vorming van osoon. Dit is sekondêre besoedeling wat deur die vrystelling van uitlaatgasse van die vragmotors kom en van die dieselenjins wat die bore aandryf. Op windlose winter-sonskyndae word die uitlaatgasse net bokant die aardoppervlak vasgevang.
Die sonenergie wat deurkom en teen die sneeu weerkaats, kan binne ure tot die vorming van osoon in die laer atmosfeer lei. Wanneer osoon ingeasem word, kan dit tot ernstige lugweg-infeksies lei.
Ook in dié opsig, beklemtoon Sewell, het sy maatskappy die leiding geneem om nuwe maniere te vind om uitlaatgasse wat in die atmosfeer vrygestel word, verder te verminder.
“Ons doen boorwerk in ’n ongerepte omgewing. Hoewel ek nog nie in Suid-Afrika was nie, sê my kollegas dat die habitat van die Karoo baie ooreenstem met dié van Pinedale. Die lesse wat hier geleer is, kan die dag as die moratorium opgehef is, met welslae in Suid-Afrika toegepas word. Of ons in ’n woestyn of in die Pinedale-plooiberge vir gas boor, dieselfde hoë standaarde geld. Dit is net die drywers wat verskil.
“Met Shell se terugkeer in 2001 na die Rotsgebergte, waar daar sedertdien meer as 400 gate geboor is, was die meeste inwoners baie dankbaar. Ons is miskien nie perfek nie, maar ons luister en doen dan die regte ding. Ons bly honderd persent binne die riglyne wat deur die maatskappy en die reguleringsowerhede neergelê word.”
’n Boervrou se verhaal
Aangesien die afspraak om met belanghebbendes wat deur die ontginning van aardgas in die omgewing van Pinedale, Wyoming, geraak word, nie gerealiseer het nie, het Landbouweekbad gesels met ’n vrou wat in die omgewing boer. Hier volg die verhaal van me. Taron Tacton, wat in 1996 na Big Piney verhuis het. Sy en haar man boer daar met sowat 150 Angus-kruisrasbeeste op 600 hektaar.
“Ons plaas is ’n klipgooi van waar grootskaals vir aardgas geboor word. Daar word nie op ons plaas geboor nie. Ons het nie die minerale regte nie – dit
behoort aan die federale regering. Maar daar is seismografiese toetse op ons plaas gedoen. Hulle vertel jou nie of daar aardgas is nie. Dít hoor jy eers die dag as iemand op jou plaas aankom wat wil boor.
“Omdat jy as eienaar net die grondregte hou, het jy nie veel van ’n keuse as hulle aan jou deur kom klop nie. Toe ons 15 jaar gelede hier ingetrek het, was toetsgate reeds oral geboor. Die tegnologie van hidrouliese breking was nog nie so gevorderd nie. Die maatskappye wat destyds na die gas gesoek het, is oornag weg, maar hulle het in 2002 met mening teruggekeer.
“Voor die pype aangelê is waarin die boorvloeistof versamel word, was daar tot 300 groot vragmotors per dag op die paaie. Die stof was ondraaglik. Blouboordjiewerkers het ingestroom. Saam met hulle het die dwelms gekom. Misdaad het toegeneem. Met die goeie salarisse wat die oliemaat-skappye betaal, het die prys van verblyf en kos die hoogte ingeskiet.
Veiligheidsbewus
“Elke maatskappy vertel jou dat hy die beste op sy gebied is. Shell staan uit as ’n maatskappy wat uiters veiligheidsbewus is en ook baie vir die omgewing omgee. Omdat die busmaatskappy vir wie ek deeltyds werk, die spanne vervoer wat van skofte verwissel, weet ons ook van die kere wat besoedeling voorkom. Dit gebeur dikwels. Daar is juis nou sprake van ’n groot regsgeding wat ’n erfgenaam van die Levi Strauss-dinastie teen een van die maatskappye gaan instel.
“Daar gebeur ook ongelukke op die boorterrein waarvan nie in die pers gelees word nie. Sommige maatskappye is só behep met die aantal ongeluksvrye dae dat voorvalle waar werkers geringe beserings aan ’n skouer of ’n been opdoen, nie deur die werker of bestuurders aangemeld word nie, want dit kan hul bonusse in die gedrang bring.
“In ons gemeenskappie was daar nie werklik groot werkskepping nie. Sommige besighede, soos die kafees en mense wat huisvesting verskaf, het nietemin by die boordery baat gevind. So ook van die ongeskoolde, plaaslike mense wat die paaie help bou het. Danksy die ontginning van aardgas hier is Jackson en Pinedale nie so erg deur die afswaai in die ekonomie geraak as ander klein dorpies in Amerika nie.
“Die Bureau of Land Management, van wie die eksplorasieregte bekom word, vereis dat die maatskappye die boorwerk binne ’n bepaalde tyd afhandel. Die gesprekke wat die oliemaatskappye met inwoners voer om hulle te paai, is eintlik net ’n front, aangesien die Amerikaanse regering reeds besluit het dat die ontginning van aardgas moet voortgaan, ongeag die gevolge.
Sê liewer nee
“Ons land word deur geld en gierigheid aangespoor. Die gas wat hier geproduseer word, word vir verhitting en verkoeling in New York en Kalifornië gebruik. Jare gelede was die lug skoon – jy kon die sterre sien. ’n Paar jaar gelede toe hier 37 bore was wat 24 uur per dag gate gesink het, was die kim snags pienk van die ligte op die terrein.
“As die grondeienaars in Suid-Afrika die vermoë het om vir die boordery nee te sê, doen dit. Dit is ironies dat gas en olie juis in die mees ongerepte dele van die wêreld gevind word. Voor daar vir gas geboor is, was hier nie ’n osoonprobleem nie.
“Ons het ’n oorvloed water – julle het dit nié in die Karoo nie. Die moontlikheid bestaan altyd dat iets met hidrouliese breking kan skeefloop. Water-, son-, en windkrag is relatief baie duurder. Krag wat op dié wyse opgewek word, moet in batterye opgeberg word. Om vir aardgas te boor, is baie goedkoper en verhoog die winsgrense van die oliemaatskappye. Dit hou hul aandeelhouers gelukkig. Wat kan ons doen? Jy swyg maar en is bly dat jy ’n werk het.”
Werkskepping
Die oorheersende indruk ná die besoek aan Pinedale is dat Shell werklik uit sy pad gaan om veiligheid met die boordery te verseker. Hy is ook tot dusver die enigste maatskappy wat grootskaalse inligtingsdae gehou het vir lisensies om na skaliegas in die Karookom te soek.
Die maatskappy reageer altyd flink op die navrae van Landbouweekblad en het nie daarop aangedring dat die artikel oor die besoek aan Amerika voor publikasie vir goedkeuring aan hom voorgelê word nie.
Hoewel die maatskappy in Amerika kennis opgedoen het met die ontginning van aardgas, kan die situasie daar in een belangrike opsig nie met dié in Suid-Afrika vergelyk word nie. In die omgewing van Pinedale is ’n oorvloed varswaterbronne.
In die Karoo is sy inwoners van ondergrondse water afhanklik. Hidrouliese breking verg enorme hoeveelhede water. Van waar gaan dit gekry word?
Suid-Afrika kan die strengste denkbare regulasies neerlê om besoedeling te probeer hokslaan, maar het hy die vermoë om dit te polisieer?
En die beloftes oor werkskepping? Nie veel nie, volgens Landbouweekblad se navrae in Amerika. Shell, wat 425 boorgate by sy Pinedale-aanleg bedryf, het net 66 personeellede in diens – die meeste van hulle is spesialiste. Hoewel die boor van toetsgate aansienlike sekondêre werksgeleenthede kan skep, kan die meeste daarvan net tydelik wees.
Dit sou nietemin jammer wees as Shell, wat besluit het om die deursigtige roete met sy soeke na aardgas in Suid-Afrika te loop, nou as die enigste slaansak gebruik word. Wat van die ander maatskappye wie se motiewe dalk nie so suiwer is nie?
En watter rol kan geld speel om die besluitnemers, soos in Amerika die geval is, se koppe te swaai?
• Landbouweekblad was ’n gas van Royal Dutch Shell in Wyoming. Die maatskappy het die volle koste van die toer betaal.
16 Augustus 2011
Sanderis:
Gas in Karoo: ‘SA sit op goud’
2011-11-11 23:15
Elise Tempelhoff
Die ontginning van skaliegas kan Suid-Afrika help om weg te beweeg van steenkool en kernkrag as energiebronne.
Volgens die nasionale beplanningskommissie (NBK) dui voorlopige berekenings daarop dat die land boonop deur die ontginning van gas (metaan-, sowel as skaliegas) teen 2030 in die grootste deel van sy energiebehoeftes sal kan voorsien.
Die NBK het sy ontwikkelingsplan gister in Pretoria aan pres. Jacob Zuma oorhandig.
Suid-Afrika is vir meer as 90% van sy energiebehoeftes afhanklik van steenkool, die grootste sondaar wat klimaatsverandering aanhelp. Deur steenkool met gas te vervang, kan Suid-Afrika sy massiewe koolstofvoetspoor drasties verklein, lui die kommissie se verslag.
Moontlikhede wat ondersoek sal word, sluit in die ontginning van skaliegas in die Karoo, metaangas wat van steenkoollae afgetrek word en die invoer van vloeibare gasbronne.
Prof. Mike Muller, lid van die NBK, het gisteraand gesê: “Ek weet die omgewingsgroepe gaan drasties daarop reageer, maar dit sal gek wees om nie met prospektering te begin sodat ons kan uitvind wat die waarheid is nie.
“Op die oomblik sit ons met halwe waarhede. Omgewingsdrukgroepe wil ons nie eens toelaat om uit te vind hoeveel gas die land het nie.”
Volgens hom het ’n onlangse studie deur die Amerikaanse energie-en-inligtingsadministrasie gewys Suid-Afrika het die vyfde grootste skaliegasbronne ter wêreld. “Dit sal mos nou verspot wees om op ’n pot goud te sit en dit nie te gebruik nie.”
Mnr. Jonathan Deal, voorsitter van die Treasure the Karoo Action Group (TKAG), het gesê die NBK begaan ’n fout deur te veronderstel dat skaliegas Suid-Afrika uit sy koolstofdilemma gaan kry. Verskeie internasionale studies dui daarop dat die ontginning van skaliegas metaan vrystel wat tot 23 keer kragtiger as koolstofdioksied is.
As die NBK dus meen die Amerikaanse studie is korrek, is dit duidelik die wetenskaplike gemeenskap praat nie met een stem nie, het Deal gesê.
Die TKAG meen dis voortydig van die NBK om oor prospektering van skaliegas in Suid-Afrika te praat terwyl daar soveel geheimsinnigheid rondom die regeringstaakspan is.
Luidens die verslag gaan proefnemings eersdaags begin om vas te stel wat die moontlikheid is vir die ontginning van metaangas waar groot steenkoolneerslae in die land bestaan.
Navigation
[0] Message Index
Go to full version