Klimaatsfonds kan petrolprys nóg laat styg
Mei 01 2011 06:00
Kaapstad. - Suid-Afrika en ander ontwikkelende lande sal dalk die betaling van heffings aan die Verenigde Nasies (VN) se nuwe klimaatsfonds kan vryspring. Maar mnr. Trevor Manuel, minister van beplanning in die presidensie, wat Donderdagaand as ’n mede-voorsitter van dié klimaatfonds se oorgangsraad verkies is, het Vrydag laat blyk só ’n vergunning kan tot gevolg hê dat plaaslike petrolpryse sal moet styg.
Dít is omdat ontwikkelde lande, wat die grootste bydrae tot die voorgestelde klimaatfonds van $100 miljard sal moet lewer, sal verwag dat ontwikkelende lande ook hul kant bring deur kweekhuisgasse te verminder. Een van die voorstelle om dít reg te kry, is om ’n belasting op kweekhuisgasvrystellings te plaas.
Die nasionale tesourie het reeds ’n besprekingsdokument oor omgewingsbelasting bekend gestel terwyl die groen-belasting op nuwe motors op 1 September in werking getree het.
Manuel het daarop gewys dat die klimaatfonds net kan tande hê mits dit gepaardgaan met belastings op kweekhuisvrystellings. Dít kan beteken dat Suid-Afrika nie meer beskerm sal kan word deur die uiterse wisselvalligheid van Brent-ruoliepryse nie omdat Sasol, wat sowat 30% van die land se brandstof verskaf, waarskynlik onder só ’n groentaks sal deurloop as die reël gevolg word dat die besoedelaar moet betaal.
Sasol se bydrae het Suid-Afrika in staat gestel om die wisselvalligheid van oliepryse in bedwang te hou, maar deur sy steenkool-tot-petrol-tegnologie is Sasol een van die grootste sondaars wat die vrystelling van kweekhuisgasse betref – selfs meer as Eskom, het Manuel gesê. Diegene soos Sasol wat steeds kweekhuisgasse wil vrystel, sal waarskynlik ’n heffing moet betaal wat ’n stygende invloed op brandstofpryse sal hê, het Manuel gesê. “Dít is die soort keuses wat die samelewing sal moet uitoefen. Ek hoop Suid-Afrika is neutraal en hoef nie tot die fonds by te dra nie,” het hy gesê.
Hy het daarop gewys dat Suid-Afrika se kweekhuisgasvrystellings egter taamlik sterk is per eenheid van bruto binnelandse produk vir ’n ontwikkelende land.
Pres. Jacob Zuma het op die klimaatberaad in Kopenhagen in 2009 onderneem dat Suid-Afrika se teiken vir kweekhuisgasinperkings ’n verlaging van 34% teen 2020 en 42% teen 2025 sal wees.
Dié onderneming is op die beraad wat verlede jaar in Mexiko gehou is, bevestig.
Manuel is in absentia tot mede-voorsitter van die oorgangsraad vir die klimaatfonds verkies. Mnr. Ernesto Cordero Arroyo, Mexiko se minister van finansies, en mnr. Kjetil Lund, Noorweë se minister van finansies, is tot die ander voorsitters verkies.
Die raad moet voor die 17de klimaatberaad (COP17) van die Verenigde Nasies in Durban in Desember ’n raamwerk opstel vir die fonds wat onder meer sal aandui hoe die fondsgeld uitbetaal sal word. Dit moet in Desember by COP17 voorgelê word.
Manuel glo die insameling van die $100 miljard sal “haalbaar, dog uitdagend” wees.
Die raad se lewensduur strek in dié stadium nie verder as Desember nie.