Munisipale huis ná 14 jaar nou syne2011-05-06 21:22

Mnr. Johannes Bramley van Appelpark het net 10% sig. Hy omhels mnr. Kelvin Seerane, burgemeester van Mogale City, tydens die oorhandiging van 33 deeltitelaktes van huise wat inwoners nou gratis ontvang. Foto: Herman Verwey
Amanda Roestoff
Ná 14 jaar het mnr. Johannes Andries Bramley (60) die regmatige eienaar van sy eie munisipale huis in Appelpark, wes van Krugersdorp, geword.
Bramley, wat net 10% sig het, was gister só oorstelp om amptelik die deeltitelakte van die eiendom tydens ’n openbare vergadering voor sowat 240 ander inwoners by die gemeenskapsaal in Burgershoop te ontvang dat hy mnre. Kelvin Seerane, burgemeester van Mogale City (Krugersdorp), en Humphrey Mmemezi, LUR vir plaaslike regering en behuising in Gauteng, elk ’n stywe handdruk en sommer ook ’n druk om die lyf of nek gegee het.
Bramley se vrou, Blanche, is sewe jaar gelede dood.
Hy deel die huis in Bustonstraat met vier kinders.
“Dit is onbeskryflik. Ek was 14 jaar lank op die waglys. Vandag is ek verskriklik dankbaar.
“Ek sê dankie vir die Here en almal wat dit moontlik gemaak het,” het Bramley gesê toe Beeld wou weet hoe dit voel om ’n munisipale huis gratis te ontvang.
Mnr. Mpho Nawa, streeksvoorsitter van die ANC, het inwoners in ’n stampvol saal aangemoedig om op 18 Mei, verkiesingsdag, nie toe te laat dat hul stemme verlore gaan nie.
“Dit is nie net swart mense wat arm is nie. Wit mense is ook daarop geregtig om ’n beter lewe te hê,” het Nawa gesê en dit beklemtoon dat die ANC “nog plek vir arm wit mense” het.
Seerane het die oorhandiging van huise aan arm wittes as ’n historiese oomblik in die geskiedenis van Mogale City beskryf.
Hy het dit beklemtoon dat die toekenning van huise nie op velkleur gegrond is nie, maar op armoede en of jy om behuising aansoek gedoen het en wel daarvoor kwalifiseer.
Mmemezi, ook die adjunksekretaris van die ANC in Gauteng, het wit armes aangemoedig “om vir die swart mens te stem wat die regte ding doen”.
“As jy vir hulle stem, moedig jy hulle aan om ’n beter diens te lewer.
“Stem dan vir die regering en vir daardie party wat vir julle huise gee.”