Nuusflits

Aandag aan alle Bravoland Besoekers. Hier kan u 'n aansoek indien om Bravoland Burgerskap te verkry:
http://www.bravoland.co.za/forum/index.php/topic,5566.0.html

Skrywer Onderwerp: Beplan vir 'n beter lewe  (Read 473 times)

0 Lede en 1 Gas bekyk die onderwerp.

Sanderis

  • Gas
Beplan vir 'n beter lewe
« op: June 12, 2011, 03:13:15 PM »

Mnr. Trevor Manuel


As jy ’n beter lewe wil hê, beplan dit
2011-06-11 22:23


Ferial Haffajee

FH: As ons kyk na Nepad, die nuwe groeiplan vir Afrika wat oudpres. Thabo Mbeki se geesteskind was, lyk dit of planne soms nie hul skeppers oorleef nie. Hoe sal die nasionale beplanningskommissie sy skepper, pres. Jacob Zuma, oorleef?

TM: Die geheim is om idees te laat neerslag vind. Die Grondwet is so ’n idee, want die hele land verbind hom daartoe – almal is destyds genooi om dit te help bedink en baie mense het insette gelewer. ’n Deel van die oplossing is om teen die Groot Man-sindroom te veg, ’n sindroom wat in elk geval tans in die Midde-Ooste en Noord-Afrika uitgedaag word. Soos pres. Zuma al gesê het, is regerings geneig om uitdagings op kort termyn te takel, met die verkiesingsiklus in gedagte. Hierdie kommissie beplan verder, vir 2030. As jy ’n beter lewe wil hê, moet jy daarvoor beplan. Die vraag wat ek myself afvra, is of ons die vermoë het om dit te doen.

FH: Het ons die vermoë?

TM: Die uitdaging is om die proses te verbeter. Elke goeie mens moet dit doen. Ons kan nie meer net toeskouers wees nie. Die afgelope week was daar byvoorbeeld ’n fassinerende debatsoomblik. Mnr. Zwelinzima Vavi van Cosatu het gepraat oor die brandpunte in die land, waarvan werkloosheid onder die jeug een is. Toe vra mnr. Gwede Mantashe van die ANC of Vavi se weerstand teen ’n loonsubsidie vir die jeug nie bydra tot die brandpunte nie. So moet ons mekaar uitdaag om buite ons eie belang te dink, en werklik na mekaar te luister.

FH: Hoe laat ons die idee van ’n beplanningskommissie voortleef nadat u termyn verstryk het; as u byvoorbeeld na die IMF sou gaan?

TM: Ek gaan nie na die IMF nie, maar ’n ministerskap is nie ’n loopbaan-betrekking nie.
Die voorreg om in die kabinet te dien, wat ek al 17 jaar geniet, sal in ’n stadium eindig, want rotasie is nodig. Ek vind my werk tans nuut en opwindend. Die interessante dinamika in die beplanningskommissie is dat elkeen van die 25 lede ’n reputasie het om te beskerm. Hulle is niemand se lakeie nie. Die vraag is of die lede wil voortgaan, gegewe hoeveel van hul tyd dit opeis. Wil hulle hul tyd nie eerder aan hulself wy nie? Indien hulle toegewyd bly, is die kommissie baie sterk.

FH: Die kommissie is vir Suid-Afrikaners ’n nuwe idee. Het dit in ander lande gewerk?

TM: Bhoetan en Brasilië se planne werk redelik goed, Maleisië s’n deesdae in ’n mindere mate as toe die president die dryfveer was. Die Indiese beplanningskommissie werk tans baie goed en staan onder die beheer van vyf kabinetsministers. Hul groot voordeel is dat hulle die begroting vir infrastruktuur beheer.

FH: Benodig ons ook sulke beheer?

TM: Ek dink nie so nie, want ons model is verskillend.

FH: Die omvangrykste fokus van die afgelope week se dokument is op werkloosheid. Wat staan ons te doen?

TM: Daar is ’n bevinding in die Reserwebank se kwartaallikse bulletin vir April wat wys die staat is die enigste werkgewer wat al hoe meer mense aanstel, maar ons stel hulle op die verkeerde plekke aan.
Vir sowel gesondheidsdienste as onderwys word al hoe meer administratiewe personeel aangestel, eerder as al hoe meer verpleegsters en onderwysers. Een van ons groot foute was om verpleegkolleges te sluit. Nou moet almal universiteit toe gaan, en dis duur. Voorts moet ons vakmanne oplei. ’n Vakman se inkomste en lewenspeil is dikwels beter as ’n gegradueerde s’n. Leiers moet die boodskap oor die belang van vakmanne oordra.

FH: Wat is die sleutel tot sukses?

TM: Die belangrikste is om die gesprek aan die gang te kry – idees en terugvoering. Ons moet weer terugvoering van gewone mense kry, soos destyds met “Tips for Trevor” (toe Manuel minister van finansies was). Voorts moet Suid-Afrikaners met die uiteindelike plan kan identifiseer, en daarmee gemaklik wees sodat dit uitvoerbare beleid kan word. Ons aanvanklike bevindings toon dat die enigste sektor wat drasties meer geld gaan benodig die gesondheidsektor is.

Sanderis

  • Gas
Re: Beplan vir 'n beter lewe
« Antwoord #1 op: June 12, 2011, 03:21:11 PM »
FH: Die omvangrykste fokus van die afgelope week se dokument is op werkloosheid. Wat staan ons te doen?

Manuel klim kaalvuis in
Jun 11 2011 23:47

Johannesburg. - Mnr. Trevor Manuel se nasionale beplanningskommissie (NBK) het probleme in die staatsdiens genadeloos oopgevlek in die “diagnostiese” verslag wat die eerste twee jaar van die kommissie se werk weerspieël.

Die NBK se verslag bevat ook die eerste openhartige kritiek op regstellende aksie in die staatsdiens.

Die verslag is ook striemend oor uitkomsgebaseerde onderwys en oor Suid-Afrika se hoë minimum lone en lae produktiwiteitsvlakke (lees berig hierby).

Die verslag lui die lewering van hoëgehalte-diens is die enkele belangrikste ding wat Suid-Afrika kan doen om die ongelykhede van apartheid te oorbrug.

“Onderwys, gesondheidsorg, maatskaplike sekuriteit en infrastruktuurdienste stel mense in staat om hul vermoëns te ontwikkel. Dit verbeter hul lewensgehalte asook die ekonomiese geleenthede wat aan hulle beskikbaar is.”

Deurlopende verandering word as die hoofrede vir die staatsdiens se onvermoë genoem.

“Die transformasie van die staatsdiens is nog nie afgehandel nie, maar tog is deurlopende verandering uiters destabiliserend. Sommige departemente, soos die polisiediens, is deurlopend in ’n toestand van verandering. Meestal is daar nie tyd gegun om die doeltreffendheid van verandering te toets voordat nuwe veranderinge aangebring is nie.

“Die mees radikale verandering in openbare beleid wat ons kan aanbring, is om die eindelose stroom nuwe inisiatiewe te vermy en liewer genadeloos te fokus op werkwyses wat die leemte tussen beleid en praktyk verklein.”

’n Kommissielid, dr. Karl von Holdt, voormalige hoofnavorser van Cosatu se Naledi-navorsingseenheid, beskryf in die verslag die gevolge wat ’n stukkende hysbak in ’n staatshospitaal gehad het.

“Dit het beteken dat verpleegsters maaltye, wasgoed en soms pasiënte by trappe op en af gedra het. Soms was dit nodig om lyke by die trappe af te maneuvreer.

“Dié probleem was die gevolg daarvan dat die departement van openbare werke versuim het om ’n instandhoudingskontrak vir die hysbak te sluit. Dit het ses maande lank só aangegaan omdat die provinsiale gesondheidsdepartement en die departement van openbare werke getwis het oor die tenderproses en oor die vraag uit wie se begroting die item moet kom. In dié tyd het die verpleegsters, om nie te praat van die pasiënte nie, die gevolge gedra.

“Bestuursfunksies en finansiële bronne word op provinsiale vlak gekonsentreer eerder as dat dit afgewentel word na individuele hospitale. Só het die Chris Hani Bara­gwanath-hospitaal ’n begroting van R1,4 miljard, maar hy het nie ’n bankrekening of ’n tjekboek nie.”

Die probleem is veral opvallend in die gesondheidsorgsektor, maar dit illustreer ’n patroon wat op talle terreine van regering voorkom.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs kla dat dit bouwerk en die instandhouding van infrastruktuur strem.

Die NBK is striemend oor uitkomsgebaseerde onderwys. Die land se onderwysprobleme spruit nie uit ’n gebrek aan geld nie, maar uit gebrekkige institusionele strukture.

Nogtans is uitkomsgebaseerde onderwys – wat selfs vir die wêreld se beste onderwysstelsels ’n uitdaging sou wees – in 1998 ingestel, sê die NBK.

“Die doel daarmee was om vernuwende onderwysers en vrydendenke leerlinge aan te moedig. In praktyk het dit massiewe druk op die hulpbronne en vermoëns van skole geplaas, veral in die mees agtergeblewe gebiede.

“Uitkomsgebaseerde onderwys verg skeppende en vindingryke onderwysers met klein klasse, voldoende materiaal en langer skooldae. Dit is miskien moontlik in ’n paar skole in welvarende gebiede, maar dit is ver verwyderd van die werklikheid in die meeste Suid-Afrikaanse skole, veral in skole wat deur kinders uit arm huishoudings bygewoon word,” sê die NBK.

“Die ervaring met uitkomsgebaseerde onderwys illustreer die gevare daarvan om ’n benadering te volg wat in ander lande gebruik is sonder om die toepaslikheid daarvan in Suid-Afrika versigtig te oorweeg,” lui die verslag.

Die NBK sê die een of ander vorm van regstellende aksie was ná 1994 nodig om die staatsdiens in rasseterme meer verteenwoordigend van die land te maak.

“Die verskil tussen die salarisvlakke van staatsamptenare en gewone lede van die publiek beteken egter dat ’n staatsdiens wat toenemend op grond van ras verteenwoordig is, steeds verwyderd is van die grootste deel van die bevolking. Dis ’n uitdaging wat sorgvuldig oorweeg moet word,” lui die verslag.

Regstellende aksie vereis deeg­like prosesse vir seleksie, mentorskap en loopbaanontwikkeling. Wanneer dit nie gebeur nie, verminder regstellende aksie die aansporings om hard te werk en diensvlakke te verhoog.

“Die raak almal negatief, maar die gevolge daarvan is die ergste vir die arm swart bevolking wat die meeste van openbare dienste afhanklik is,” lui die verslag.


Share me

Digg  Facebook  SlashDot  Delicious  Technorati  Twitter  Google  Yahoo

 


* Nuwe Inskrywings


SA Topsites



SA Topsites :: .

SimplePortal 2.3.3 © 2008-2010, SimplePortal