FH: Die omvangrykste fokus van die afgelope week se dokument is op werkloosheid. Wat staan ons te doen?
Manuel klim kaalvuis inJun 11 2011 23:47
Johannesburg. - Mnr. Trevor Manuel se nasionale beplanningskommissie (NBK) het probleme in die staatsdiens genadeloos oopgevlek in die “diagnostiese” verslag wat die eerste twee jaar van die kommissie se werk weerspieël.
Die NBK se verslag bevat ook die eerste openhartige kritiek op regstellende aksie in die staatsdiens.
Die verslag is ook striemend oor uitkomsgebaseerde onderwys en oor Suid-Afrika se hoë minimum lone en lae produktiwiteitsvlakke (lees berig hierby).
Die verslag lui die lewering van hoëgehalte-diens is die enkele belangrikste ding wat Suid-Afrika kan doen om die ongelykhede van apartheid te oorbrug.
“Onderwys, gesondheidsorg, maatskaplike sekuriteit en infrastruktuurdienste stel mense in staat om hul vermoëns te ontwikkel. Dit verbeter hul lewensgehalte asook die ekonomiese geleenthede wat aan hulle beskikbaar is.”
Deurlopende verandering word as die hoofrede vir die staatsdiens se onvermoë genoem.
“Die transformasie van die staatsdiens is nog nie afgehandel nie, maar tog is deurlopende verandering uiters destabiliserend. Sommige departemente, soos die polisiediens, is deurlopend in ’n toestand van verandering. Meestal is daar nie tyd gegun om die doeltreffendheid van verandering te toets voordat nuwe veranderinge aangebring is nie.
“Die mees radikale verandering in openbare beleid wat ons kan aanbring, is om die eindelose stroom nuwe inisiatiewe te vermy en liewer genadeloos te fokus op werkwyses wat die leemte tussen beleid en praktyk verklein.”
’n Kommissielid, dr. Karl von Holdt, voormalige hoofnavorser van Cosatu se Naledi-navorsingseenheid, beskryf in die verslag die gevolge wat ’n stukkende hysbak in ’n staatshospitaal gehad het.
“Dit het beteken dat verpleegsters maaltye, wasgoed en soms pasiënte by trappe op en af gedra het. Soms was dit nodig om lyke by die trappe af te maneuvreer.
“Dié probleem was die gevolg daarvan dat die departement van openbare werke versuim het om ’n instandhoudingskontrak vir die hysbak te sluit. Dit het ses maande lank só aangegaan omdat die provinsiale gesondheidsdepartement en die departement van openbare werke getwis het oor die tenderproses en oor die vraag uit wie se begroting die item moet kom. In dié tyd het die verpleegsters, om nie te praat van die pasiënte nie, die gevolge gedra.
“Bestuursfunksies en finansiële bronne word op provinsiale vlak gekonsentreer eerder as dat dit afgewentel word na individuele hospitale. Só het die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ’n begroting van R1,4 miljard, maar hy het nie ’n bankrekening of ’n tjekboek nie.”
Die probleem is veral opvallend in die gesondheidsorgsektor, maar dit illustreer ’n patroon wat op talle terreine van regering voorkom.
Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Siviele Ingenieurs kla dat dit bouwerk en die instandhouding van infrastruktuur strem.
Die NBK is striemend oor uitkomsgebaseerde onderwys. Die land se onderwysprobleme spruit nie uit ’n gebrek aan geld nie, maar uit gebrekkige institusionele strukture.
Nogtans is uitkomsgebaseerde onderwys – wat selfs vir die wêreld se beste onderwysstelsels ’n uitdaging sou wees – in 1998 ingestel, sê die NBK.
“Die doel daarmee was om vernuwende onderwysers en vrydendenke leerlinge aan te moedig. In praktyk het dit massiewe druk op die hulpbronne en vermoëns van skole geplaas, veral in die mees agtergeblewe gebiede.
“Uitkomsgebaseerde onderwys verg skeppende en vindingryke onderwysers met klein klasse, voldoende materiaal en langer skooldae. Dit is miskien moontlik in ’n paar skole in welvarende gebiede, maar dit is ver verwyderd van die werklikheid in die meeste Suid-Afrikaanse skole, veral in skole wat deur kinders uit arm huishoudings bygewoon word,” sê die NBK.
“Die ervaring met uitkomsgebaseerde onderwys illustreer die gevare daarvan om ’n benadering te volg wat in ander lande gebruik is sonder om die toepaslikheid daarvan in Suid-Afrika versigtig te oorweeg,” lui die verslag.
Die NBK sê die een of ander vorm van regstellende aksie was ná 1994 nodig om die staatsdiens in rasseterme meer verteenwoordigend van die land te maak.
“Die verskil tussen die salarisvlakke van staatsamptenare en gewone lede van die publiek beteken egter dat ’n staatsdiens wat toenemend op grond van ras verteenwoordig is, steeds verwyderd is van die grootste deel van die bevolking. Dis ’n uitdaging wat sorgvuldig oorweeg moet word,” lui die verslag.
Regstellende aksie vereis deeglike prosesse vir seleksie, mentorskap en loopbaanontwikkeling. Wanneer dit nie gebeur nie, verminder regstellende aksie die aansporings om hard te werk en diensvlakke te verhoog.
“Die raak almal negatief, maar die gevolge daarvan is die ergste vir die arm swart bevolking wat die meeste van openbare dienste afhanklik is,” lui die verslag.