Volksekonomie > Departement van Mineraal en Energiesake

Gas tekort in SA

(1/1)

Sanderis:
PetroSA wil help om gastekort te besweer
Jul 08 2011 07:51 Pietman Roos en Bloomberg

Johannesburg. - PetroSA gaan inspring en uithelp omdat Suid-Afrikaanse produsente van vloeibare petroleumgas (LPG) nie in die huidige vraag kan voorsien nie en daar wydverspreide tekorte voorkom.

PetroSA, die staatsbeheerde brandstof-verspreider, beplan om die produksie van propaan en brandstof in te boet om sowat 3 000 kubieke liter LPG te produseer, het die maatskappy gister aangekondig.

Volgens dr. Benny Mokaba, PetroSA-voorsitter, is dié besluit geneem om veral die plaaslike motorbedryf en armes te help.

LPG word onder meer in aluminium- en staalverwerking ingespan om byvoorbeeld motorvellings te vervaardig.

Mokaba sê dit is PetroSA se plig om te verseker dat die land genoeg brandstof het.

Bloomberg berig egter Suid-Afrika sal voortaan LPG moet invoer. “Ons kan nie in Suid-Afrika se vraag voorsien nie,” sê mnr. Avhapfani Tshifularo, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (Sapia).

Die huidige gastekort is ’n slag vir Eskom en die Suid-Afrikaanse regering se poging om plaaslike huishoudings aan te moedig om meer gas te verbruik.

Volgens Tshifularo het Suid-Afrika verlede jaar sowat 372 000 ton LPG gebruik. “Die gas-aanbod is maar dun. As een raffinadery vir net ’n dag of twee sluit, kan dit ’n langdurige tekort veroorsaak.”

Verskeie produksiesluitings by raffinaderye het ’n 10%-daling in produksie veroorsaak en dié probleme is deur slegte weer in Durban vererger.

Volgens Tshifularo funksioneer alle raffinaderye in die land normaal, maar Afrox, die grootste verspreider van LPG in Suid-Afrika, het aangedui hy moet gas invoer om in die vraag te voorsien.

Navigation

[0] Message Index

Go to full version