Regtelike Sake > Departement van Grondsake

Gevolge van grondbesetting

(1/1)

Sanderis:
Bank wil nie boer help ná besetting
2011-07-12 22:49


Willem van der Berg

PHUTHADITJHABA. – Die plaasbesettingsage hier het ’n interessante wending geneem nadat Absa weens die besetting geweier het om die boer wie se plaas beset is met verdere lenings te help.

Gister was die plaas tussen Phuthaditjhaba en Harrismith reeds 16 dae lank beset.

’n Man en vrou van hier, wat vorige eienaars van die grond was, het op 27 Junie mnr. Petrus Weyers se plaas beset, hul blou woonwa geparkeer, ’n sinkhut opgeslaan en 25 beeste op sy boontjiereste ingejaag “omdat Malema gesê het hulle moet die grond terugvat”.

Weyers is erg moedeloos oor dié toedrag van sake.

“Ek skuld nie meer veel op die grond nie, maar toe ek Absa kontak vir ’n verdere lening om ’n paar beeste aan te koop het hulle geweier. Hulle sê hulle kan geen lenings aan my toestaan terwyl my plaas beset word nie.”

Absa se streekhoof in die Vrystaat en Noord-Kaap, mnr. Blessing Plaatjie, het aan Volksblad gesê hy kan nie veel oor die aangeleentheid sê nie.

“Dit is iets wat ons graag persoonlik met ons kliënt sal wil uitklaar. Daar kan dalk ander redes wees waarom sy lening nie goedgekeur is nie.”

Plaatjie het wel ná Volksblad se gesprek met Weyers kontak gemaak en weer terugvoer gegee.

“Ons sal beslis hierdie saak ondersoek. Weyers het my vertel van die situasie op die plaas en ons gaan daarna kyk. Ek kry hom jammer, ek is bekommerd oor hom.”

Op ’n vraag oor hoe die plaasbesetting Absa raak en wat die risiko vir die bank kan wees en hoe sulke sake gehanteer gaan word, het Plaatjie gesê: “Ons sal die saak eers ondersoek voordat ons verdere kommentaar gaan lewer. Maar ons sal beslis hieroor aan die media terugvoer gee.”

Mnr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, sê die situasie is kommerwekkend.

“As ons meer van dié gevalle gaan kry en banke nog lenings weier, kan dit gebeur dat banke alle lenings vir grondsake gaan weier omdat hulle nie die risiko sal wil loop nie.”

Jankielsohn het weer eens, soos in vorige uitsprake oor die spesifieke besetting, beklemtoon dat die polisie verantwoordelikheid moet aanvaar.

“Hulle moes van die begin af opgetree het. Hulle het gewys dat hulle vir mense wat eiendom besit, niks werd is nie en nie bereid is om eiendomsregte, soos in die Grondwet vervat, te beskerm nie. Hulle moenie verbaas wees as hul optrede veroorsaak dat burgers reg in eie hande neem nie.”

Die TLU het met skok gereageer op Absa se besluit.

“Is die bank dus tevrede met die besetters op die plaas en wil nie die boer verder help nie? Ek vra nie, ek sê jou, hulle is. Dit is onrusbarend dat banke swyg en nie boere ondersteun nie. Dis swak,” het die TLU-president, mnr. Ben Marais, gister gesê.

Oor die polisie se hantering was Marais ook ontsteld.

“Hoekom geniet dié saak nie dringende aandag nie? Waarom laat hulle dit so sloer? Dit is tog duidelik iets wat dringend gehanteer moet word.”

Die polisie het gister by monde van sers. Mmako Mophiring, woordvoerder, gesê dat steeds gewag word vir terugvoer van die hof.

“Die saak lê by die hof en voordat die hof nie besluit het dit was betreding nie, kan ons niks doen nie. Ons is slegs die vredebewaarders, nie die regstelsel nie.”

- Volksblad

Navigation

[0] Message Index

Go to full version