Bravoburgers,
Dis met ’n sweempie hartseer dat ek vandag hierdie rede skryf. In die onlangse verlede het Bravoland se besoeke getaan. Vurige debatte vind nie meer plaas nie. Besoeke word afgeskeep en net die nodigste inligting word uitgeruil.
Ons volk het darem ook nie op hulle louere gerus gedurende hierdie tyd nie. Die VVK is volstoom aan die gang op pad na Vryheid. Talle Bravolanders is hier betrokke om die Vryheid wat net ’n droom was met Bravoland se ontstaan ’n werklikheid te maak. Dis ook nie net by die VVK waar Bravolanders hulle kant bring nie, maar by vele volks organisasies sal jy Bravolanders raakloop. Dis ’n bewys dat Bravolanders nie slegs kuberruim kletsers is nie, maar dat hulle doeners is.
Dis met hierdie wete dat ek ’n beroep op elke Bravolander wil doen om sy of haar betrokkenheid op te skerp. Die volk het die denke nodig wat hier in Bravoland ontstaan. Dit is nodig om idees uit te ruil en ook met mekaar te verskil. Ons moet egter waak oor hoe ons met mekaar verskil. Dit moet altyd op ’n ordelike en ordentlike wyse geskied, soos dit ons volk betaam.
Daar is verskeie dinge waaroor ons toegeeflik kan wees hier in Bravoland. Ons geloof is nie een van hierdie dinge nie. Ons kan nie seën van ons Hemelse Vader verwag as ons bereid is om toegeeflik op hierdie terrein te wees nie.
Ek wil ’n beroep op elke burger doen om te help om die Volksraad se hand te sterk. Op die Volksraad wil ek ’n beroep doen om my hand te sterk. Ons elkeen moet eienaarskap neem van hierdie kuber staat. Verder wil ek elkeen vra om betrokke te raak by die Volksraad Verkiesing Kommissie se verkiesing wat eersdaags plaasvind. Ek glo van harte dat dit die voertuig is om die vryheid waarvoor ons onsself by Bravoland beywer, ’n werklikheid te maak.
Om hierdie verkiesing ’n werklikheid te maak is daar egter hande nodig. Ek weet dat Bravolanders nie bang is om moue op te rol nie. Raak betrokke in jou dorp en laat ons vry word!
Daar word deesdae ook hard gewerk hier in Bravoland. Die nuwe voorblad word deesdae gereeld opgedateer met aktuele nuus- en volksake. Ek wil die span wat daarvoor verantwoordelik is hartlik bedank.
Intussen verarm ons volk ook by die dag. Dis weer eersdaags tyd om ’n uitreik namens Bravoland waar te neem. Ek wil burgers vra om organisasies wat uitsluitlik volkseie is te identifiseer. Dis ons plig om ons eie mense te help terwyl dit in ons vermoë is. Laat ons hierdie jaar weer ’n enorme poging aanwend en waarlik ’n verskil in mense se lewens maak.
Dankie, aan elke Volksraadslid wat hom bereidwillig verklaar het om te werk hier in Bravoland. Verder wil ek ook my dank uitspreek aan elke burger wat onbaatsugtig dien lewer in Bravoland. Kom ons vertel alle volksgenote van hierdie wonderlike land waar ons alreeds vry is en waar ons soos groot mense debat kan voer.
“En hoor jy die magtige dreuning,
oor die veld kom dit wyd gesweef.
Die lied van ’n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.”
Laat elkeen by Bravoland deel wees om die volk te ontwaak in die komende jaar.
Alwyn de Klerk
Bravoland Staatshoof