Tydens die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) se Glansaand waar eregaste soos dr Dirk Hermann (Solidariteit), dr. Danie Brink (FAK), dr. Dan Roodt (PRAAG), mnr. Andries Breytenbach (HNP), mnr. Danie Varkevisser (AVP) en mnr. Theuns de Wet (AKB) teenwoordig was, is Nilla Vosloo van Pretoria aangewys as die algehele wenner van die GHA se jaarlikse gedigte kompetisie.
Haar gedigte: Kersfeeskruis en bipolêre rym het aan Nilla die kroon besorg.
Frik Steenberg van Nylstroom is aangewys as die naaswenner met sy gedigte: Kameeldoring en Afspraak op Horeb.
Mnr. André Alkema, voorsitter van die GHA het gesê dat die beoordelaars beindruk was met die gehalte van die gedigte wat vanjaar ingeskryf is. Die digbundel Stemme uit die Suiderland VI wat ’n keur van dié gedigte bevat, beslaan byna 300 bladsye, 130 meer as verlede jaar s’n. Verder is daar 'n nuwe toevoeging in die bundel nl. Versetgedigte. Vanjaar se bundel is opgedra aan wyle mnr. Jaap Marais, voorvegter vir Afrikanerbelange en Afrikaans. Mnr. Marais was 'n stigterslid van die GHA en groot weldoener.
In sy toespraak: Gedigte as versetkuns, het dr. Dirk Hermann gesê dat alle Afrikaner kunstenaars hetsy skrywers, digters, skilders, dramaturge of sangers behoort die vrese, ideale en drome van die Afrikanervolk uit te beeld soos bv Bok van Blerk se De la Rey of die opvoering Ons vir jou en Tree aan!.
Stephanie van der Merwe het saam met haar ma Jeanette en haar ouma Fienie Meiring die verrigtinge afgesluit met die roerende lied: O, Boereplaas. Dit, nadat die gehoor van 205 mense staande die eerste en vierde strofe van Die Stem uit volle bors gesing het.