Klein Keatlegile ‘onwelkom’ in skool se koshuis
2012-02-11 23:43
Marlene Malan in Kaapstad
Taalvermoë, geletterdheid, klas of ras?
’n Kwaai meningsverskil oor wat die werklike rede is vir die verwydering van ’n swart graadeentjie uit ’n oorwegend wit skool woed in die gemeenskap van die dorpie Tosca in Noordwes.
Twee dae nadat Keatlegile Diphoko (7) haar by die Laerskool Tosca en sy koshuis aangemeld het, moes sy en haar “versorger”, me. Ronel Beukes, hoor sy is onwelkom en moet liefs ander blyplek soek.
Beukes sê Keatlegile is ’n slim meisietjie propvol potensiaal. Maar die skoolbeheerliggaam meen haar onvermoë om Afrikaans of Engels te praat en te verstaan maak die situasie in die koshuis onmoontlik. Keatlegile se moedertaal is Tswana.
Ouers en onderwyshoofde van dié klein gemeenskap sowat 170 km van Vryburg sê die onmin oor Keatlegile, wat op 18 Januarie hier begin skoolgaan het, is op ’n mespunt.
Die meeste ouers, onderwysers en leerlinge het haar met ope arms ontvang, maar ’n groepie het oor haar koshuisverblyf beswaar gemaak. Beukes sê sy wou die meisietjie nie langer aan die onmin blootstel nie. Sy is voorsitter van die Simolola-trust, ’n geregistreerde liggaam wat benadeelde jongmense help om ’n goeie opvoeding te kry.
“Ek kan haar nie so laat beledig nie,” sê Beukes. “Toe sit ek haar maar in ’n ander skool.”
Sy sê die beheerliggaam het haar op 20 Januarie ingelig Keatlegile is onwelkom in die skoolkoshuis.
“Benewens die klagtes oor haar begrip van Engels en Afrikaans, moes ek ook hoor sy ruik na strooi. Een ouer het gesê sy kind kan langs ’n swart kind in die skool sit, maar nie langs een slaap nie.
“Toe ek vra oor die teenwoordigheid van twee ander swart kinders in die koshuis, was die antwoord dat hulle kinders van stadsraadslede is – dat hulle uit beter omstandighede as Keatlegile kom.”
Beukes sê haar navrae het getoon die hoof, mnr. Robbie Cameron, stem nie met die beheerliggaam saam nie.
Mnr. Frans Botma, ’n ouer, sê hy was die “boodskapper” wat die tyding aan Beukes moes oordra. “Ek het die beheerliggaam gevra om ’n brief aan Beukes te skryf met besonderhede oor die besluit, maar dis nie gedoen nie.
“Dis ’n sensitiewe ding wat die skool kan breek. Die beheerliggaam sê Keatlegile se kennis van Afrikaans en Engels is die grootste probleem.
“Maar ek moet dit nou ongelukkig sê: Hier’s baie ouers wat nog nie deel is van die nuwe Suid-Afrika nie. Hul ware kleure het nou na vore gekom. Taal is net ’n verskoning.”
Botma sê dis duidelik aan hom gestel dat die ander drie swart en drie bruin kinders in die skool met sowat 70 leerlinge uit “baie beter omstandighede” as Keatlegile kom.
Beukes sê Keatlegile se ouers is ongeletterd.
“Haar ma, Jeanette, praat net Tswana en haar pa, David, ’n bietjie Afrikaans. Hulle woon in ’n bouvallige struktuur sonder lopende water en elektrisiteit. Hulle het nie ’n motor, boeke of ’n TV nie.”
Mev. Beauty Dithakwe, ’n stadsraadslid van Morokweng, sê haar seun in gr. 3 is al twee jaar in die koshuis. “Daar is geen probleme nie.”
Volgens Cameron het hy met die onderwysdepartement in verbinding getree oor die saak. “Daarom verwys ek alle navrae daarheen. Hulle weet van die situasie.”
Mnr. Louwtjie Hecter, voorsitter van die beheerliggaam, hou voet by stuk die beswaar teen Keatlegile “is grootliks een van taalvermoë”.
“Die regte prosedure om haar in te skryf is nie gevolg nie.
“Die koshuis is privaat, waar ons ’n huislike atmosfeer probeer skep. Keatlegile pas nie heeltemal in nie.”