KAAPSTAD.–Die regering se plan met afvalbande, Redisa, het gister papwiele gekry nadat die departement van omgewingsake besluit het om die omstrede plan vir eers te onttrek.
Mnr. Collins Chabane, waarnemende minister van omgewingsake en waterwese, het gister ’n aankondiging in die Staatskoerant gepubliseer ingevolge waarvan die departement sy goedkeuring van die Redisa-plan met onmiddellike effek kanselleer.
Volksblad het gister eksklusief berig oor dié omstrede plan wat by die agterdeur ingeglip en die groen lig ontvang het sonder dat die Suid-Afrikaanse bandebedryf geken is in die saak.
Redisa, ’n onafhanklike Artikel 21-maatskappy, sou van 1 Februarie volle verantwoordelikheid vir alle afvalbande in Suid-Afrika aanvaar het.
Dit is ’n besigheid wat tot R630miljoen per jaar werd is en sou gefinansier word deur ’n nuwe heffing van R2,30/kg op alle nuwe bande wat in Suid-Afrika verkoop word.
Tot 85% van die Suid-Afrikaanse bandebedryf steun egter eerder ’n herwinningsplan wat namens die bedryf ontwikkel is deur die South African Tyre Recycling Process Company (SATRC).
Die bedryf het die SATRC sowat 12 jaar gelede gestig op versoek van die regering wat ’n bandherwinningsprojek wou ontwikkel aangesien tot 11 miljoen afvalbande jaarliks in Suid-Afrika onwettig gestort word.
Die regering het dié plan egter verlede jaar op omstrede wyse verwerp ten gunste van Redisa.
Mnr. Albi Modise, departementele woordvoerder, het gister aan Volksblad erken die besluit om die Redisa-goedkeuring te kanselleer, is geneem omdat alle prosedures nie gevolg is nie.
Modise sê die departement het daarvan bewus geword dat die bedryf ontevrede was met die proses om Redisa goedgekeur te kry.
“Ons weet nie hoe dit gebeur het dat daar nie konsultasie met die bedryf was nie, maar toe ons die fout agterkom, het ons dit vinnig reggemaak.”
Modise sê die aankondiging in die Staatskoerant gee nou aan alle partye die geleentheid om hul eie herwinningsplanne weer voor te lê. “Ons wil seker maak die proses is so volledig moontlik en dat almal geleentheid het om kommentaar te lewer.”
Mnr. Hermann Erdmann, uitvoerende hoof van Redisa en ook die man wat dié plan ontwikkel het, het gisteraand aan Volksblad gesê hy beskou die departement se besluit as ’n “tydelike terugslag”.
“Die plan, soos hy staan, is niks mee fout nie. Ek verwag ons sal in twee tot drie maande weer aan die gang wees.”
Dr. Etienne Human, hoof van die SATRC, sê dit is te vroeg om te sê hoe die regering se aankondiging die organisasie raak.
“Ek is wel bly dinge het gebeur soos wat dit het.”
Chabane neem waar as minister terwyl me. Edna Molewa in die buiteland is op ’n ampsbesoek