Neels Jackson
Byna 18 jaar nadat apartheid amptelik tot ’n einde gekom het, kan dit vreemd lyk om te vra of dit rêrig verkeerd was. Tog lyk dit my of dit ’n kwessie is waaroor baie wit Afrikaanse mense steeds nie vrede het nie.
Boonop is dit een van die onderliggende kwessies wat in die debat oor die Belydenis van Belhar opnuut op die tafel gekom het met die memorandum van genl. Johan van der Merwe.
Immers, as apartheid nie verkeerd was nie, was daar geen rede vir verset nie en het die polisie net die orde probeer beskerm. Maar as dit verkeerd was, het die polisie ’n onregverdige stelsel probeer verdedig.
Teen dié agtergrond wil ek ’n klompie redes aanvoer waarom ek oortuig is dat dié beleid nie net in sy uitvoering skeefgeloop het nie, maar ook in sy wese verkeerd was:
Apartheid het miljoene Suid-Afrikaners beroof van burgerskap van die land van hul geboorte;
Dit het ’n politieke bedeling op mense probeer afdwing sonder dat hulle ooit daartoe ingestem het;
Dit het mense se bewegingsvryheid in hul eie land beperk, dermate dat duisende Suid-Afrikaners kragtens paswette in die tronk beland het;
Dit het mense verbied om mekaar lief te hê as hulle van verskillende kleur was;
Dit het families wat voor die instelling van apartheid reeds kleurgrense oorskry het, uitmekaar geskeur;
Die stelsel van trekarbeid het verwoestend ingewerk op tallose swart mense se gesinslewe;
Dit het duisende Suid-Afrikaners daagliks op ’n magdom verskillende maniere verneder;
Dit het talle gevestigde gemeenskappe deur gedwonge verskuiwings vernietig. Dink maar aan Sophiatown in Johannesburg en Distrik Ses in Kaapstad;
Dit het minderwaardige onderwys vir talle verseker deurdat swart kinders per kop ’n fraksie gekry het van wat aan wit kinders se onderwys bestee is;
Dit het deur die stelsel van werkreservering talle poste by voorbaat vir swart mense ontoeganklik gemaak; en
Dit het van ons talentvolste sportmense die geleentheid ontsê om hul talente optimaal te ontwikkel of hul land te verteenwoordig. Hoeveel mense met die talent van Basil D’Oliveira het nie net in die niet verdwyn nie?
As ek meer ruimte gehad het, sou ek die lys baie langer kon maak.
As ’n mens so ’n lys maak, is dit ook belangrik om te sê dat ’n veroordeling van apartheid nie neerkom op ’n regverdiging van alles wat vandag gebeur nie.
’n Mens hoef nie net te kies tussen ’n slegte verlede en ’n hede vol foute nie. ’n Mens kan streef na ’n toekoms wat beter as al twee is.
Maar terug by destyds. Dis te verstane dat daar van baie vroeg af verskillende soorte verset teen apartheid was.
Aanvanklik was dit vreedsaam, maar dit het niks resultate opgelewer nie. Uiteindelik het selfs ’n groothartige mens soos Nelson Mandela tot die gevolgtrekking gekom dat ’n gewapende stryd die enigste opsie is.
Tussen gewelddadige verset en gewelddadige onderdrukking van verset het Suid-Afrika teen die 1980’s in ’n vernietigende spiraal van geweld beland.
By terugskoue is dit eintlik ’n wonderwerk dat die destydse NG Sendingkerk nie toegegee het aan die versoeking om daarby ingesleep te word nie.
Pleks daarvan is in die Belydenis van Belhar gesê die Bybelse pad uit die moeras van apartheid en geweld loop deur die eenheid van gelowiges, deur onderlinge versoening met mekaar en deur geregtigheid teenoor die weerloses – in gehoorsaamheid aan Jesus, die Here.
Wat my betref, verwoord dít ’n waarheid wat groter is as destydse omstandighede – ’n waarheid wat ons moet koester.