Oor die jare het skrywers en lesers toenemend die waarde van die geskrewe woord besef. In vele gevalle het die geskrewe woord as riglyn gedien vir nakomelinge. Anders as dit wat gesê is, is dit wat geskryf staan, feitlik onuitwisbaar.
Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat daar te veel waarhede gesê is wat uiteindelik verlore gegaan het omdat dit nooit neergeskryf is nie. Ewe so kan dit gestel word dat daar waarskynlik baie geskryf is, wat liefs nie op papier moes kom nie omdat dit iemand tot nadeel gestrek het….
In Bravoland is daar baie onderwerpe aangeraak – en alles daarvan is geskryf sodat diegene wat Afrikaans kan lees en verstaan, dit onder die oë kan kry. Op die forum word groot waarhede op skrif gestel wat uiteindelik onuitwisbaar ’n invloed uitoefen op iemand.
Hierteenoor is woorde wat nie geskryf is nie, geneig om weg te raak, of verdraaid te raak deur diegene wat daarna geluister het. ’n Uitstekende voorbeeld is die Radio – en meer spesifiek Radio Pretoria. Daar word ’n duisternis dinge gesê wat deur baie mense gehoor word, maar uiteindelik verdwyn die meeste van dit wat gesê is. Soms gebeur dit dat dit wat gesê is, verkeerd vertolk word omdat dit nie herhaal word nie.
As die vêr-linkse omroeper dan sê dat die persoon wat betaal het om ’n renoster te skiet in een of ander reservaat, eerder geskiet moet word, onthou net ’n paar mense die growwe uitlating wat gemaak is.
Daarom is dit goed dat die tegnologie so goed gevorder het dat alles wat gesê word, ook geskryf kan word sodat dit onveranderbaar staan om nimmer betwis te word nie. So sal die geskrewe woord van die Radio se bestuurdertjie ook onuitwisbaar bly toe hy gereken het dat dit onvanpas sou wees om Marnitz aan te spreek oor sy uitlating.
In die jare wat kom gaan daar nog baie geskryf word oor die wel en wee van die Boere-Afrikaner. Daar sal nog geskryf word oor die nuwe generasie hensoppers en hans-kakies, van werklike helde wat rotsvas staan in die stryd om volksvryheid te herwin.
Netso sal daar nog baie geskryf word oor rasgemengde vakbonde wat Radiostasies kaap, wat selfs die linkse FAK onder hul vlerk geneem het omdat hulle self ook links-liberaal is.
Maar die geskrewe woord sal ook ’n duidelike riglyn bly vir die geslagte wat kom oor “wie het wat gedoen” en wie het die vyand omhels terwille van geld en aansien….. iets wat ook sy littekens gelaat het na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog.
Hieroor gaan nog baie woorde op papier verskyn – en die ou tegniek sal dan weer na vore tree:
Ontkenning dat die koers aangepas is.
Om die feite te verdoesel, word daar so af en toe ietsie mooi kwytgeraak, maar die geskrewe woord sal vas bly staan vir ieder en ’n elk om dit te lees……….



