Header image alt text

Welkom in Bravoland

Uit die Volk , vir die Volk

Die geskrewe woord

By Clem de Klerk
Filed Under Uncategorized  | | No Comments»

Oor die jare het skrywers en lesers toenemend die waarde van die geskrewe woord besef. In vele gevalle het die geskrewe woord as riglyn gedien vir nakomelinge. Anders as dit wat gesê is, is dit wat geskryf staan, feitlik onuitwisbaar.

Ons kan met redelike sekerheid aanvaar dat daar te veel waarhede gesê is wat uiteindelik verlore gegaan het omdat dit nooit neergeskryf is nie. Ewe so kan dit gestel word dat daar waarskynlik baie geskryf is, wat liefs nie op papier moes kom nie omdat dit iemand tot nadeel gestrek het….

In Bravoland is daar baie onderwerpe aangeraak – en alles daarvan is geskryf sodat diegene wat Afrikaans kan lees en verstaan, dit onder die oë kan kry. Op die forum word groot waarhede op skrif gestel wat uiteindelik onuitwisbaar ’n invloed uitoefen op iemand.

Hierteenoor is woorde wat nie geskryf is nie, geneig om weg te raak, of verdraaid te raak deur diegene wat daarna geluister het. ’n Uitstekende voorbeeld is die Radio – en meer spesifiek Radio Pretoria. Daar word ’n duisternis dinge gesê wat deur baie mense gehoor word, maar uiteindelik verdwyn die meeste van dit wat gesê is. Soms gebeur dit dat dit wat gesê is, verkeerd vertolk word omdat dit nie herhaal word nie.

As die vêr-linkse omroeper dan sê dat die persoon wat betaal het om ’n renoster te skiet in een of ander reservaat, eerder geskiet moet word, onthou net ’n paar mense die growwe uitlating wat gemaak is.

Daarom is dit goed dat die tegnologie so goed gevorder het dat alles wat gesê word, ook geskryf kan word sodat dit onveranderbaar staan om nimmer betwis te word nie. So sal die geskrewe woord van die Radio se bestuurdertjie ook onuitwisbaar bly toe hy gereken het dat dit onvanpas sou wees om Marnitz aan te spreek oor sy uitlating.

In die jare wat kom gaan daar nog baie geskryf word oor die wel en wee van die Boere-Afrikaner. Daar sal nog geskryf word oor die nuwe generasie hensoppers en hans-kakies, van werklike helde wat rotsvas staan in die stryd om volksvryheid te herwin.

Netso sal daar nog baie geskryf word oor rasgemengde vakbonde wat Radiostasies kaap, wat selfs die linkse FAK onder hul vlerk geneem het omdat hulle self ook links-liberaal is.

Maar die geskrewe woord sal ook ’n duidelike riglyn bly vir die geslagte wat kom oor “wie het wat gedoen” en wie het die vyand omhels terwille van geld en aansien….. iets wat ook sy littekens gelaat het na afloop van die Tweede Vryheidsoorlog.

Hieroor gaan nog baie woorde op papier verskyn – en die ou tegniek sal dan weer na vore tree:

Ontkenning dat die koers aangepas is.

Om die feite te verdoesel, word daar so af en toe ietsie mooi kwytgeraak, maar die geskrewe woord sal vas bly staan vir ieder en ’n elk om dit te lees……….

Slinkse linkses

By Clem de Klerk
Filed Under Uncategorized  | | No Comments»

LIBERALISTE REGEER

 

Dit is alom bekend dat die grootste deel van die wêreld deur liberaliste regeer word. In enkele gevalle is ’n behoudende konserwatiewe regering aan bewind. Oor dekades, dalk oor eeue heen, is daar ’n stryd tussen konserwatisme en liberalisme.

In die geledere van ons volk bestaan hierdie stryd sedert die koms van Van Riebeeck in die dae toe die Vryburgers weerstand probeer bied het teen die liberale neigings van daardie tyd.

Nader aan die hedendaagse is die stryd wat voor 1994 geduur het – toe die konserwatiewes op die punt gestaan het om die regering te word, maar die liberaliste, getrou aan hulle werkswyse, het met verneukery die volk op ’n dwaalweg laat beland en uiteindelik die mag oorgegee aan die kommuniste. Dit is vandag in die volksmond bekend as die FW de Klerk-verraad. Broederbonders het die NP struktuur gebruik om die oorgawe sonder haakplek te bestuur.

Wat kenmerkend is van die werkmetodes van die linkses, is die vermoë om die waarheid nek om te draai. Wanneer linkses aangekla en beskuldig word van ’n beleid wat afstuur op oorgawe, dan word dit heftig ontken en word daar selfs bewyse voorgehou om die teendeel te bewys. Ons onthou mos die eie skole, woonbuurte en ’n Grondwet wat almal beskerm…..

Nou sien ons iets in die kleine wat hom herhaal. Vêr linkses doen hulle voor as behoudendes en vorm vandag die segsmanne binne die eens pragtige volksradio. Klagtes word summier geïgnoreer want dit is onvanpas om te kla. Links-liberales word dié wat koers aandui saam met ander wat permanent-tydelik of tydelik-permanent baasspeel. Tot gister was hulle te lafhartig om deel van die stryders te wees, maar toe die Radio ’n vyfjaar lisensie bekom, word die aas net te aantreklik.

Een “nuweling” is bekend daarvoor dat hy ’n weersin het in alles wat konserwatief is, maar hou deesdae sy lyf amper-Boer omdat dit hom pas. Hy het ’n voorliefde vir Neger sangers en kan nie genoeg melding maak van sy swart sport helde nie. Hy kla oor die toestande in die land,  maar het tog gestem vir die nuwe bedeling. Hy is vêr-links en ’n opperste liberalis en eintlik ’n DA mannetjie.

Nie een van hierdie twee jafels is ondersteuners van die stryd om volksvryheid nie – een van hulle het inderhaas geregistreer by die VVK  toe hy agterkom hy gaan in ’n blik gedruk word. Die ander een probeer om die DA se belange te bevorder by die Radio …. en so, stap vir stap, liberaliseer hulle die struktuur totdat die luisteraars (te laat) agter die waarheid kom. Luister na die nuuskommentaar – dit is nie meer volksgerig nie en dit is duidelik dat die skrywers daarvan opdrag gekry het. Daar is natuurlik ook die kêrel wat by ’n vorige geleentheid weg gedros het toe hy verneem dat hy dissiplinêr verhoor gaan word weens sy liederlike geaardheid. Deesdae laat hy mense heerlik lag vir sy sopraan stem as hy opgewonde raak oor kleinighede….

Konfronteer die direksie of bestuur en alles word ontken – soos die NP van weleer, sal daar selfs bewyse voorgehou word om die teendeel te probeer bewys. Effektief word daar intelligente argumente gebruik om van konserwatiewes ontslae geraak en word ’n paar swakkelinge in plek geplaas sodat geen weerstand ondervind word nie.

’n Klompie linkse direkteure het ander direkteure met ’n geld-geelwortel betower en is hulle op een na, deesdae in hulle noppies met die nuwe linkse rigting…….

Dit is jammer dat die goeie werk van byna twee dekades so gou tot niks gemaak kan word. Dit is egter niks nuut nie. Dit neem mens terug na die slinkse wyse waarop Volkskas gekaap is en in die hande van die Britte beland het. Nou, na baie swoeg en sweet kom ’n koöperatiewe instansie op die been om daardie funksie oor te neem in belang van ons volk.  Dan wonder jy hoe lank daardie nuwe instelling, Oranjekas, in die hand van die volk gaan bly voordat ’n bepaalde veelrassige vakbond ook hier sy lang seekat arms gaan vou om dié instelling –  soos wat hulle met die Radio gedoen het.

Na buite, steeds ontkennend dat hulle links-liberaal is, ontkennend dat hulle kapers is, ontkennend dat hulle net kulturele vryheid ondersteun, stoomroller die veelrassige vakbond voort en sleep die direksie met hulle saam….. . Hierin speel mense wat as konserwatief behoudend geag word, ’n beduidende rol – direkteure wat nou hulle ware kleure wys sit ewe vroom tussen die opperste liberaliste – en alle waarskuwings en beskuldigings wat teen hulle ingebring word, word ontken.

Om jou te beïnvloed, speel hulle vir jou Bok se De La Rey en boeremusiek…….

So regeer die liberalis – hy verdeel om te heers – en hy heers om opponente te verdeel…….

AfriForum ís skaam vir Volkssimbole

Graag reageer ek op die brief “Vlag-bullebakke pla AfriForum Jeug” van  Charl Oberholzer van AfriForum en Ditsem van Pretoria se “Misbruik maak AfriForum skaam.”

Chris Stapelberg slaan die spyker op die kop as hy sê dat AfriForum hulle skaam vir die vierkleur. Met ’n lang relaas verduidelik Charl van brandewyn suipende rand figure wat die vierkleur in die verlede misbruik het en dat dit die rede is hoekom AfriForum hulle daarvoor skaam. As Chris homself mos gedra het, sien ek geen probleem daarmee dat die vlag vertoon word nie.

Sou AfriForum dieselfde opgetree het as iemand die vlag van die nuwe Suid-Afrika vertoon het? Dis nou die vlag wat misbruik was in die onlangse verlede deur ’n  klomp stakende, barbaarse, sorghumbier suipende, buiteband brandende, hiper-linkse randfigure.

As AfriForum hulle skaam vir alles wat in die verlede misbruik is, moet geen van hulle lede Loftus bywoon en vir die Bulle skreeu nie, want in die onlangse verlede was daar ook ’n klomp brandewyn suipende manne wat hulself vieslik gedra het na ’n rugby wedstryd en dit terwyl hulle Bulle rugbytruie aangehad het.
Hierdie tipe verskoning van AfriForum se verhindering van Chris om sy ruiker neer te lê grens aan die belaglike.

Die feit meneer Oberholzer en Naamloos, is dat die volk uit baie uiteenlopende persoonlikhede en opvattings bestaan. Daar is nog ’n menigte van ons wat ons nie skaam vir die vierkleur of enige ander volkssimbool nie. Let asseblief op dat alhoewel hierdie simbole geskiedkundig is, is dit volkssimbole en dus volksbesit.
Veral die ou Boere Republiekvlae is verpolitiseer en was nog altyd, of die jonge heer daarvan hou of nie. Hierdie vlae verteenwoordig ’n republikeinse strewe, wat nog altyd by ons volk teenwoordig was. As ek dus kon besluit, sou geen persoon wat nie so strewe het, die reg hê om enige Boere Republiekvlag te vertoon nie. Maar die besluit is nie myne om te maak nie…

Wie kan dan ook besluit wie ultra-regse woelgeeste en willewragtigs is, of wie hiper-liberalistiese banksitters en niksdoeners is?

Alwyn de Klerk
Nasionale Sekretaris Verkennersbeweging van Suid-Afrika

Lewer gerus hier kommentaar

Kers en Nuwejaarsboodskap

By Redakteur
Filed Under Bravoland  | | No Comments»

Nog ’n jaar het verbygesnel. ’n Jaar wat gevul was met vele hoogte en laagtepunte in ons ou volkie se geskiedenis.

Seker die grootste gebeurtenis in ons onlangse geskiedenis was ongetwyfeld die VVK se verkiesing waar ons volk ’n eie volksraad aangewys het. Dit was ’n verkiesing waar vele Bravolanders hulle volle gewig by ingegooi het om volksvryheid ’n werklikheid te maak. Bravolanders was te sien as hoof kiesbeamptes, kiesbeamptes en selfs kandidate. Daar kan met trots vertel word dat daar selfs ’n Bravolander op die uiteindelike verkose volksraad is.

Daar was egter ook die teenpool. Verraad is gepleeg. Die volk se draadloos is verkwansel vir dertig sikkels silwer. Net die tyd sal leer of die skade ongedaan gemaak kan word. Dit sal deeglike beplanning, onophoudelike werk en toegewydheid verg. Gelukkig is dit iets wat deel is van ons volk se wese.

Ook moes ons die slegte nuus hoor van ’n Bravolander wie se seuntjie in ’n frats ongeluk oorlede is. Die rou seer lê nog vlak in die gemoed. Ons as Bravolanders wil ons innige meegevoel weereens aan Ds. Martin en sy gesin toewens. Ons as mense kan maar nie veel sê of doen behalwe om op ons knieë die nodige troos van die Here vir die gesin toe te bid nie. Veral hierdie tyd van die jaar is besonder moeilik en  geliefdes word geweldig gemis.

Daar is in ons volk se geskiedenis ook vele hoogte en laagte punte. Met die genade van ons Hemelse Vader het ons altyd beter en sterker ander kant uitgekom.

As God  nie ’n skeppingsplan met ons volk gehad het nie, kon ons so maklik al by Bloedrivier ’n doodslag toegedien gewees het. As die meeste van die trekker mans hier gesterf het, sou die res van die laers redelik weerloos gelaat gewees het. Maar voor die genade hier aan die volk bewys is, moes daar ’n Weenen en ’n Bloukrans ook gewees het.

Nie veel later nie, is die skande van die hys van die Union Jack in Pretoria sonder ’n enkele skoot of opstoot deur die volk. Dieselfde volk wat deur die genade weer die oorwinning by Majuba gesmaak het.

In die tyd van die jaar kan ons gerus die genade herleef en die seëninge tel wat ons as volk, maar ook ons as individue, altyd deur ons lewens ontvang van ons Vader in die hemel. Oor so paar dae herdenk ons ook die geboorte van ons enigste Verlosser. Die grootste Genadegawe wat nog ooit aan ons geskenk is.

Mag elke Bravolander hierdie Kersfees herdenk as ’n ware Christusfees. Die belangrikste hier is nie die geskenke wat ons ontvang of gee nie. Ook nie die tyd wat ons saam met die families spandeer nie. Mag ons elkeen vir ons kinders en kleinkinders ten volle inlig oor hoekom Kersdag belangrik is. Moet nie die kinders mislei met die media se storietjies oor vet ouens met lang baarde nie. Vertel hulle eerder van die krip, die wonder van die maagdelike geboorte en die uiteindelike kruis. Leer van genade en vergewing van sondes.

Ook vir die nuwe jaar is my wense dat elke Bravolander ook die liefde van ons God sal ervaar. Maar my bede is nog groter dat ons volk weer Godvresendheid sal ervaar. Waar ons Here ’n Here van liefde is, is hy ook ’n God van toorn. Ons ontvang genade, maar ook straf uit dieselfde Gods hand. Waar ons geseën word, word ons ook gestraf. Die Here gee dan self vir ons die voorskrif in die woord dat ons ons kinders moet tugtig. Hy sal nooit een ding sê en ’n ander doen nie.

Ek wil ook die Here se seën oor ons kuberstaat bid. Mag hy gee dat ons op die blad, maar ook in ons eie lewens God eerste sal stel. Dat ons geen kompromieë sal aangaan as dit by ons Godsdiens kom nie. Dat ons in ons daaglikse doen en late altyd eers ons woorde en aksies sal meet aan Gods woord.

Laat 2012, waar deur vele sogenaamde kenners en waarsêers die einde van die wêreld voorspel word, ons God se grootheid sal sien. Dat die wêreld sal besef dat niks vir ons God te groot is nie. Ook dat ons God homself nie laat voorskryf nie.

Groete,

 

 

Alwyn de Klerk

Staatspresident: Bravoland

Bravoland uitreik 2011

By Alwyn
Filed Under Bravoland  | Tagged With: , , , | | No Comments»

Goeie dag Bravolanders,

Dit is weer die tyd van die jaar waar almal bakhand staan. Ek het begrip vir mense wat al moeg is as daar gevra word vir geld, maar hier by Bravoland doen ons dit darem nie te dikwels nie.

Vir die afgelope drie jaar onderneem Bravoland ‘n uitreik aksie na Tannie Sally se Deurgangshuis in die Vanderbijlpark omgewing. In 2009 het die aksie besonder goed verloop en was daar meer as twintig duisend rand ingesamel. Dit het ons gehelp om ‘n groot aksie te loods. Daar is kos, ‘n bees wat geskenk was, kersgeskenke en Bybels aan die persone wat hier tuisgaan gegee. Daar is ‘n kerkdiens gehou deur Bravoland se eie dominee waarna die Bybels oorhandig is.

My hoogtepunt van die dag was toe daar kersgeskenke aan die inwoners uitgedeel was. Om te sien hoeveel ‘n kind ‘n twintig rand se geskenkie waardeer, het menige Bravolanders ‘n traan in die oog besorg. Veral omdat ons soms ons eie kinders oorlaai met geskenke, maar daardie nietige geskenkie is al wat daardie kind gaan kry.

Na die aksie het Bravolanders ook heerlik saam met die inwoners gekuier en gebraai.

Verlede jaar se aksie was minder suksesvol. Dit was ook moelik om ‘n geskikte dag te identifiseer vir die uitreik. Op die einde het ons net ‘n vinnige kuier ingekry. Ons was egter in tyd vir die kleintjies se ontbyt en kon meemaak hoe hulle aan hul pap smul. Een van die kindertjies kon ek dadelik onthou. Hy het die vorige jaar se kerkdiens in my wederhelf se arms  meegemaak.

Hierdie keer was daar egter nie ‘n ekstra geldjie vir geskenke nie en het ons net kos en klere afgelaai….

Wat my hierdie keer aan die hart gegryp het, is die Boere trots. Hierdie mense wat nie veel het nie, wou ons nie met lee hande wegstuur nie. Hulle het van hulle kosbare spinasie wat hulle self in ‘n tonnel verbou met ons saam gestuur.

Die rede hoekom ons Tant Sally se plek gekies het, is omdat sy dit met ‘n ysterhand regeer. Hierdie is nie ‘n plek vir sleg wees nie en almal wat daar bly moet werk. Of dit buite of op die perseel self is. Hierdie is mense wat gehelp wil word om weer op die been te kom en selfonderhoudend te wees. Hier is almal volkseie.

Ek weet die ekonomie druk, maar sal jy lekker kan smul aan ‘n kersete as jy nie ‘n ander gehelp het nie? Hoeveel gee vir hul kerke se uitreik aksies waar die meeste na volksvreemdes gaan?

Kyk na die gesiggies van die kinders hieronder wat verlede jaar geneem is. Besluit nou of jy kan gee of nie. Elke bietjie sal help, hoe min ookal.

Naam:          Oranjekas

Bank:          Standard Bank

Tipe:          Tjek

Rek nr:            271240490

Takkode:          010545

Verwysing:     0133576533

Die verwysingsnommer is baie belangrik as ‘n betaling gemaak word.

Kersgroete,

Alwyn de Klerk